Van idee na storie?

Annerle Barnard
Van idee na storie?
Funksie: karakterontwikkeling in stories

Hoe omskep jy 'n blote idee in 'n boeiende storie?

Mense vra my dikwels of hulle met my kan gesels. Tydens die gesprek kom ek dan agter dat die persoon ‘n storie-idee het, maar nie weet hoe om dit van idee na storie te omskep nie. 

Resep

Van idee na storie? Die probleem is eintlik dat daar nie ‘n resep vir bostaande probleem is nie. Myns insiens is hierdie ook nie ‘n maklike taak nie. Dis klippe kou en herkou.

Dink minder en laat jou instink jou lei. Moenie toelaat dat rasionele denke jou kreatiwiteit versmoor nie. Daar is niks wat ‘n goeie storie kan vervang nie.

Jy’t ‘n klomp inligting en kennis in jou brein weggebêre. Net jý kan dit daar gaan uithaal. As jy, soos ek, nie ‘n ‘plotter’ is nie, gaan sit net en begin. Laat jou karakters jou lei.

Vrees

Van idee na storie?

Wanneer ek aan ‘n nuwe storie (spesifiek ‘n roman) begin skryf, tref die onsekerheid my elke keer. Ek is elke keer bang dat ek nie gaan weet hoe om verby 3 000 woorde te kom nie. Uiteraard is hierdie proses makliker wanneer ‘n mens elke hoofstuk vooraf in die fynste besonderhede beplan, maar vooraf beplanning werk nie vir my nie. Wanneer ek gaan sit om te beplan, is daar ‘n vakuum tussen my ore. Wanneer ek egter met die eerste sin begin, kom die idees. Dit geskied meestal met groot moeite, maar die bladsy bly ten minste nie leeg nie.

Raad

Van idee na storie?

Indien jy sukkel om jou idee in ‘n storie te omskep  — daar is raad, alhoewel daar geen resep is nie. ‘n Mens kan eintlik enige interessante idee in ‘n goeie storie omskep.

Enige goeie storie-idee kan vanuit die vraag ‘wat as?’ ontstaan.

Wat as jy na skool tuiskom en ‘n alien maak die deur oop?

Of wat as jou huweliksmaat by die huis kom met ‘n Ford met rooi vlamme op die deure? (Maak dit interressant: rooi vlamme wat met dakverf geverf is.)

 

Kennis

Net vandag het iemand my gevra waar die idee vir Spel vandaan gekom het. Indien jy dit nog nie weet nie, die inpirasie hiervoor was ‘n droom. Ek het gedroom dat robotte in ‘n dodelike spel met die mensdom betrokke was en dit was die katalisator vir die storie. Die rede vir hierdie droom was waarskynlik ‘n artikel wat ek gelees het oor gesellinrobotte wat deur kuberkrakers geteiken kon word en in ‘killer robots’ (moordmasjiene) omskep sou kon word. In Spel word al die verskillende tipes robotte dan ook deur die regering tot militêre diens opgeroep.

Sindikaat is deur ‘n koerantbegrig oor die handel in bedreigde spesies geïnspireer en Sweepslag deur ‘n radioberig oor twee meisies van Bloemfontein wat ontvoer is.

Vir al drie romans moes ek ‘n massiewe heveelheid navorsing doen, maar ek het sekere voorkennis gehad wat gemaak het dat die onderskeie stories in ‘n sekere rigting ontwikkel het.

Dit voel vir my asof als wat ek lees, sien en hoor in ‘n laai in my kop gaan lê en uitklim wanneer ek dit nodig het. Ons almal gesels elke dag met mense. Sommige van die inligting wat hulle deel is oneindig interessant. Leer om te luister en vra vrae.

Ook is dit belangrik om te lees.

Lees stimuleer kreatiwiteit en prikkel jou brein om met ‘n idee vorendag te kom.

Praktiese wenke:

  1. Herken die prikkel: gaan kyk (byvoorbeeld) waar J.K. Rowling se idee vir Harry Potter vandaan gekom het, Deon Meyer se idee vir die Bennie Griessel-reeks, ens.
  2. Skryf jou idee neer. Indien jy nie pen en papier byderhand het nie, maak ‘n nota op jou foon. Ek het al selfs ‘n stempos op my foon opgeneem oor interessante kommentaar wat ek gehoor het en bang was ek sou vergeet.
  3. Kyk na die mense om jou en besluit wie van hulle (of kombinasies van hulle) interessante karakters sou maak. ‘n Aantal van die karakters (protagonist en antagoniste) in my boeke is op werklike persone gebaseer.
  4. Plak jou boude op jou stoel en begin skryf.

Hoe om uit 'n idee 'n boeiende storie te ontwikkel?

Dis nie maklik nie, maar dis moontlik. Jy benodig: 

  1. Deursettingsvermoë. 
  2. ‘n Breë algemene kennis sal beslis help.
  3. Lees soveel as moontlik.
  4. Laat jou instink jou lei.
  5. Geniet dit. Lekker skryf!
Annerle Barnard
4 Skryfwenke vir jou (5)
Die uiteensetting van plot