Waar kry ek storie-idees?

4 Skryfwenke vir jou (6)
Waarom skryf jy?
4 Skryfwenke vir jou (1)

Waar kry ek storie-idees?

Ek werk tans aan ‘n storie — ek is so min of meer in die helfte van ‘n roman, maar die storie dryf my in hierdie stadium na waansin. Die middel is tans ‘n mislukte pannekoek. So voel dit in elk geval vir my. Die ergste van als is, ek stoei al dae lank om dit reg te kry. Ek het vanoggend selfs oorweeg om die ‘delete’ knoppie te druk. En toe tref ‘n idee my. Nou kan ek weer aangaan.

Waar kry ek storie-idees en hoe ontwikkel ‘n mens kreatiwiteit in skryfwerk?

Dikwels weet ‘n mens nie eens waar om enige storie-idee vandaan te kry nie, watwou begin skryf! Daar is egter maniere om jou brein aan die gang te skop. Hier volg ‘n paar voorstelle. Indien jy enige ander beproefde maniere het, laat weet asb.

Lees

Lees is (sover dit my aanbetref) die heel beste manier om kreatiwiteit te stimuleer. Dit help nogal om te sien hoe ‘n ander skrywer die wande van die boks afbreek en jou na ‘plekke’ en situasies te neem wat jy nie gedink het bestaan nie.

Internet

As jy regtig nie meer weet watter kant toe nie, kyk op die Internet. Op Pinterest en Tumblr is daar heelwat storie-idees (prompts) wat moontlik kan help om jou breinselle te aktiveer.

Waar kry ek storie-idees?
Fan art
Karakterontwikkeling: agt praktiese skryfwenke

Onverwante woorde

Kies 3 na 5 onverwante woorde en kyk of jy dit in ‘n storie kan gebruik.

Poësie en musiek

‘n Interessante gedig of musiek (of selfs net ‘n klankgreep) skep soms interessante beelde of herinnerings.

Sintuiglike waarneming

Kyk na prente wat sintuiglike waarneming stimuleer of selfs beter: gaan stap in die natuur en neem waar. Span al jou sintuie in en gebruik hierdie waarnemings wanneer jy skryf.

Sneeuvlokkie-metode

Hierdie werk ook lekker as ‘n dinkskrum, veral in ‘n klaskamer.

  • Skryf jou storie-idee in ‘n sin.
  • Herskryf nou die idee in ‘n paragraaf.
  • Skep karakterbeskrywings.
  • Skep ‘n subplot of meer wat by jou oorspronklike idee aansluit.
Karakterontwikkeling: agt praktiese skryfwenke
Karakterontwikkeling: agt praktiese skryfwenke
Annerle Barnard

Droombord/visiebord

Gaan soek vir jou prentjies op die Internet van mense wat lyk soos die karakter in jou kop. Kry ook prentjies wat hulle persoonlikhede uitbeeld. Is jou protagonis ‘n sluipskutter, ‘n feë, ‘n sirkusnar? Wat doen hierdie mense? Hoe lyk hulle persoonlikhede?

‘n Leser was so gaaf om vir sketse wat sy van my karakters geteken het, aan te stuur. Dis hoe sy hulle visualiseer. 

Milieu-droombord

Doen presies dieselfde betreffende jou milieu. Dit help om kreatiwiteit te stimuleer en help jou om nuwe moontlikhede te ontdek en te ontgin.

Karakterisering

‘n Gratis karakterkaart is hier beskikbaar.

Vir addisionele hulp betreffende jou karakterisering, kliek hier.

Pret!

Onthou dat enige kreatiewe proses pret moet wees. Dis ons eie vrees vir mislukking wat dikwels hierdie proses van enige pret ontneem.

Belangrik: ‘n mens kan enige geskrewe teks redigeer, maar ‘n leë bladsy is en bly presies net dit: ‘n leë bladsy.

Visiebord
Skryfwenke: wat beteken tema?
5 Tegnieke: boeiende stories!

Wat as?

Plaas jou karakters in moeilike omstandighede en kyk hoe hulle daarop reageer. Het jy al daaraan gedink dat enige goeie storie vanuit die vraag ‘wat as?’ kan onstaan? Bekende voorbeelde:

  • Wat as ‘n meisie besluit om in haar suster se plek aan die Hunger Games deel te neem? (The Hunger Games)
  • Wat as sekere mense in ‘n samelewing as afwykend beskou word? (Divergent)
  • Wat as robotte in ‘n dodelike spel met die mensdom verwikkeld raak? (Spel, goue wenner: Sanlam-prys vir Jeuglektuur, 2021)
  • Wat as ‘n tienerseun ontvoer word? (Sweepslag, kortlys: Sanlam-prys vir Jeuglektuur, 2017)
  • Wat as ‘n tienerseun op onwettige goedere afkom? (Sindikaat, silwer wenner: Sanlam-prys vir Jeuglektuur, 2019)

‘Wat as’ vrae in stories?

Dikwels is meer as een ‘wat as’ vraag op ‘n storie van toepassing. Wanneer ‘n mens na Spel kyk, dink ek onmiddellik aan die volgende:

  • Wat as die protagonis, Lukas, se broer ontvoer word?
  • Was as Lukas se ouers vermoor is?
  • Wat as hy sy broer moet gaan soek?
  • Wat as hy in hierdie vreemde omstandighede ‘n meisie ontmoet en verlief raak?
  • Wat as die transterrane besluit dat hulle hom nodig het? Waarvoor?
  • Wat as daar ‘n mol is wat op hom spioeneer?

Skep nou jou eie ‘wat as?’ vrae:

  • Wat as jou klasmaat tydens Wiskunde in ‘n alien (buiteruimtelike wese) verander?
  • Wat as jy in ‘n woud stap en daar vlieg haaie tussen die bome deur?
  • Wat as jy verlief raak op die ou/meisie wat tydens skoolvakansies saam met jou by die kwekery werk?

 

‘Wat as?’ kan jou ver bring. Lekker skryf!

Verhale: uiteensetting van plot (2)
4 Skryfwenke vir jou (1)
Annerle Barnard