Spel: feit of fiksie?

Annerle Barnard
Spel: feit of fiksie?
Spel

Spel: feit of fiksie?

My nuutste jeugroman, Spel, is ‘n boek wat tieners sowel as volwassenes hopelik baie sal geniet. Spel het uit ‘n droom ontstaan, soos jy moontlik reeds weet. In my droom was die mensdom in ‘n dodelike spel met robotte gewikkel en toe ek wakker word, het ek geweet dat hierdie droom ‘n boek wou wees.

Spel: feit of fiksie?

Mense vra my dikwels uit na my navorsing vir Spel en hoeveel daarvan feitelik is. Spel is ‘n tienerboek en as sulks wou ek ‘n boeiende, spannende storie skryf. ‘n Groot deel van Spel is dus fiksie, maar die fiksie het wel ‘n toon (soms ‘n hele voet en been) in die werklikheid. Ten einde mense se vrae te probeer beantwoord, sal ek hier skakels na enkele aspekte van my navorsing plaas. Let ook asb. op dat daar agter in Spel ‘n volledige bronnelys (asook erkennings) is.

Ten einde meer oor ‘n spesifieke onderwerp te lees, kliek asb. op die skuinsgedrukte woorde (italics) op enige plek in die teks.

Vrywaring

Let wel: Die gebruik van enige van die skakels op hierdie blogplasings, is op eie verantwoordelikheid. Die skrywer maak van ‘n anti-virusprogram gebruik en aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige virusse/skade wat via internetskakels opgedoen word nie.

Transterrane, oftewel H+

In een van die artikels wat ek gelees het, is daar na transterrane (transhumans) en kuborge (cyborgs) verwys. Ten einde my storie geloofwaardig te kon skryf, moes ek die verskil tussen die twee verstaan. Ek het eers met ‘n IT-kenner gaan praat en daarna ‘n aantal artikels oor hierdie tema gelees.

‘n Transterraan is ‘n verbeterde, geneties gemodifiseerde mens wat nie vatbaar is vir siekte, ouderdom en verwante swakhede nie. Om meer daaroor te lees, kliek hier of hier.

 

Nanotegnologie, oftewel nanorobotika

In Spel beskik die transterrane en kuborge oor naniete (ook bekend as nanobots, nanorobotika of nanotegnologie), met ‘n funksie soortgelyk aan die van die neuralink wat deur die Neuralink Corporation vervaardig word (en bevonds word deur Elon Musk en andere). Om meer oor Neuralink te lees, kliek hier.

Dit wat vir die toekoms in terme van die funksie van nanorobotika voorspel word, is absoluut fassinerend.

Soos vantevore genoem, is daar veel meer bronne waarna jy kan kyk — ook video’s op Youtube. Moet asb. nie jou soektog by hierdie paar bronne beïndig nie. Dis ‘n fassinerende veld.

Kuborge

‘n Kuborg is ‘n kubernetiese organisme, dus ‘n kombinasie tussen die organiese en anorganiese (mens en masjien gekombineer).

Tydens my navorsing het ek op ‘n artikel oor Neil Harbisson afgekom, waarin hy homself as die wêreld se eerste lewende kuborg beskryf het. Luister gerus na Neil Harbisson se verduideliking oor die funksie van die antenna in sy brein. 

Sommige bronne onderskei nie heeltemal tussen kuborge en transterrane nie, maar vir die doel van Spel het ek tussen die twee onderskei. 

Elon Musk reken dat alle mense lankal kuborge is. Indien jy meer wil weet, kliek hier of hier.

Indien jy wil weet waarom Elon Musk reken dat kunsmatige superintelligensie gevaarliker as kernwapens is, kliek hier

Robotte

Ek moes met ‘n vreeslike gesukkel probeer uitpluis wat die verskil tussen androïede en hominoïede is.

Die robot, Sophia,  is ‘n hominoïed wat burgerskap van Saudie-Arabië ontvang het — die eerste robot in die wêreld wat burgerskap van ‘n land ontvang het. Dis geweldig interessant om te hoor hoe Sophia kommunikeer. 

Volgens die inligting wat ek kon opspoor, is ‘n hominoïed ‘n robot wat ‘n kop, arms en ‘n lyf het, soos wat ‘n mens sou hê, maar dit hoef nie presies soos ‘n mens te lyk nie. Androïede daarenteen, is veronderstel om presies soos mense te lyk. In Spel lyk die androïede soveel na mense dat dit dikwels moeilik is om tussen mense en die androïede te onderskei.
Op die finansiële webwerf, Zero Hedge, het ek destyds op ‘n baie interessante artikel afgekom oor hoe kuberkrakers seksbotte sou kon kraak en in moordmasjiene sou kon verander. Newsweek het ook daaroor berig. Soortgelyke berigte het in die New York Post en in ander media verskyn.

 

Spel: Feit of fiksie?

Tot watter mate en hóé ‘n mens al bostaande in die praktyk sou kon maak werk, was (en is) nie vir my belangrik nie. Ek is nie ‘n wetenskaplike nie en het slegs die inligting wat ek nodig gehad het, gebruik ten einde ‘n storie te skep.

Wil jy meer weet?

Die plan is om in ‘n volgende blog meer inligting aangaande die res te verskaf. Indien jy hierdie interessant vind (óf oor inligting beskik wat jy graag met my sal wil deel), laat hoor asb. van jou. Indien jy Spel lees, laat weet asb. jou terugvoer.

Ek wil ook graag weet of die inligting in Spel jou dermate boei dat jyself meer oor genoemde onderwerpe wil oplees.

Indien jy wil weet waar jy Spel kan koop, hier is ‘n aantal voorstelle

Spel: feit of fiksie?
Spel: feit of fiksie?
Spel: feit of fiksie?