Vrae en Antwoorde

Wat was die inspirasie vir Sweepslag?

Enersyds ‘n motorbootrit op die Vanderkloofdam. Andersyds ‘n nuusberig in plaaslike koerante (Bloemfontein) oor twee meisies (jonger as 14), wat ‘n saamrygeleentheid van ‘n vreemdeling aangeneem het en ontvoer is. Sweepslag is ‘n jeugroman, maar spreek ‘n aktuele tema aan. Dis jeugfiksie wat deur ‘n ware inisident geïnspireer is.

What was the inspiration behind the story?

A boat trip on the Vanderkloof dam, as well as an article in local newspapers about two girls (12 and 13 years old) who accepted a lift from a stranger – and were kidnapped.

Hoekom het jy besluit om oor mensehandel te skryf?

Ongelukkig is mensehandel ‘n realiteit wêreldwyd, maar ook waar mens dit nie verwag nie — in Bloemfontein en op die platteland. Luidens menseregtekenners lei bewusmaking tot verminderde blootstelling en -risiko. Volgens die National Freedom Network is mensehandel ’n USD 37 biljoen per jaar industrie. Volgens ’n kenner verkoop handelaars aan slagoffers ’n droom: ’n werk vir ’n hawelose, of ’n selfoon vir ’n arm tiener, ens. Sosiale media word ook soms aangewend om slagoffers te ‘werf.’ 54% van die bevolking is op die een of ander manier blootgestel en kan moontlik in hierdie slaggat beland, aldus kenners.

Why did you decide to write about human trafficking?

Human trafficking unfortunately is a reality — also where we least expect it: in Bloemfontein, as well as the more rural areas. According to human rights specialists, awareness leads to reduced risk. It is a USD 37 billion per annum industry. The trafficker sells a dream to his/her victim: a job for the unemployed, or a cell phone for a poor teen. Social media is often used to ‘recruit’ victims and 54% of the population is at risk, according to the experts.

Vir watter ouderdomme is ‘Sweepslag’ en ‘Sindikaat’ geskik?

Dis geskik vir ouderdomme veertien en hoër. Alhoewel dit eintlik boeke vir tieners is, is daar ‘n menigte volwassenes wat ook by die boeke aanklank vind.

What is the age rating of these novels?

Ages 14+. Many adults have also read and enjoyed both novels.

Meer oor die temas in Sindikaat:

Sindikaat is ’n roman met ’n baie aktuele groen tema, maar die deurlopende tema rakende geestesgesondheid is nét so belangrik, veral in die tyd waarin ons leef. Volgens die webblad van die World Health Organisation, sal een uit elke vier mense gedurende hulle leeftyd deur geestes- of neurologiese versteurings geaffekteer word.

Paul Rudman is ‘n ‘sad clown.’ Hierdie persona het vreeslik baie kwinkslae en lag en gesels tussen mense, maar wanneer mens met hulle familie gesels, besef mens dat daar ’n baie donker kant is.

Wat betref die groen tema: Ek het destyds ’n berig gelees oor die Valke wat op ’n huis in Bloemfontein toegeslaan het en ’n bedreigde spesie ter waarde van miljoene rand daar gevind het. Toe ek begin lees, het ek gewonder hóé op aarde en hóékom Bloemfontein? Dis dus my eie vrae rakende die spesie en die ligging waar dit gevind is wat aanleiding gegee het tot die groen tema in Sindikaat.

Kan jy uitbrei oor Paul Rudman as ‘sad clown’?

Aan die einde van Sweepslag kom mens agter dat Paul sy eie stryd stry. Hy’t fisiek minder skade as die meisies opgedoen, maar die emosionele letsels is daar. “Sonder sy antidepressante, kopdokter en Dominee sou hy die plot verloor het.” (Sweepslag, bl. 236)

In Sindikaat (die opvolg op Sweepslag), sien mens dat hierdie stryd voortduur. Sindikaat is “opgedra aan almal wat veg om die aarde heel te hou, asook elkeen wat ’n stryd in sy kop voer.”

Ná sy ontberinge in Sweepslag, kom Paul Rudman (16), per ongeluk in sy vriend, Chang, se neef, Hai, se huis af op ’n beskuitboks vol smokkelgoed. “Dis onwettig, dit wéét hy.” (bl. 53) Paul ontvang dreigemente per SMS. Hy is aanvanklik nie seker of die dreigemente van die Chinese sindikaat, of die sindikaat waarmee hy in Sweepslag te doen gekry het, afkomstig is nie. Sy vriende, Adriaan en Karlien, was egter ook teenwoordig in Hai se huis, toe hy sy hand in die beskuitboks gedruk het, dus moet hulle noodgedwonge saam met hom vlug voor hierdie gewetenlose Chinese bende. Onder die voorwendsel van ’n vakansie, neem Bossie hulle via Zimbabwe na Zambië, waar hulle spoorloos probeer bestaan — sonder bankkaarte, elektronika, ens.

Vroeg in die roman, kom mens agter dat Paul opgehou het om sy voorgeskrewe Serdep te drink (nie vreemd onder sommige depressielyers nie), want hy reken hy kan sonder “sy malkoppille” klaarkom.  Hy probeer dit met ’n homopatiese middel vervang, maar sonder sukses. Gelukkig het hy sy Serdep saamgeneem, verneem die leser. Hierdie benaming (malkoppille) is iets wat ’n aantal depressielyers self (in verskeie vorme) gebruik. Sommige het ek al hoor sê “ek is mos mal/weird,” of “my kop raas.” Volgens die medici is die sogenaamde ‘geestessiektes’ egter biologiese siektes, nes hoë bloeddruk, diabetes, ens.

“Paul druk-druk met sy duime in sy nekspiere. […] Spanning is nie goed nie, het die dokter gesê. So asof Bossie daarvoor sou omgee.” (bl. 7) Die druk op die protagonis word geensins minder nie, lei mens uit Bossie (eks-recce en Paul se lyfwag) se woorde af. “Jy hiperventileer, jou hande is skurf gewas. Drink jy nog jou pille?” (bl.33) en “Die ses Rescues wat hy vroeër gesuig het…” (bl. 231).

Die abnormale spanning waaronder Paul verkeer, maak dat hy meer gereeld hande was as normaal. “Karlien, het jy nog nie agtergekom hoe mal douchebag oor hand sanitiser is nie?” wil Adriaan weet. (bl.180) Volgens die sielkundige wat ek raadpleeg vir advies betreffende my karakters, help kompulsiewe gedrag om die angs (wat deur obsessiewe gedagtes veroorsaak word) te verminder. Ek het handewas as kompulsiewe gedrag gekies, juis omdat Paul (in my kop) redelik higiënebewus is en ná sy ervaringe in Villa Persephone in Sweepslag (in my kop) onbewustelik besmet sou voel.

Paul se voorgeskrewe medikasie is Serdep. (bl.33) Volgens WebMD word Serdep (generies: Sentraline) voorgeskryf vir depressie, angs, OCD en PTSV.

Uit die deurlopende kommentaar oor Paul se handewassery blyk dit dat hy wel kompulsief optree, selfs al reken hý dat hy dit onder beheer het. Weens die omstandighede waarin hy homself bevind, beleef hy beslis angs. “Paul voel sy asem jaag, sy hande bewe. Nee, hy gaan nie vandag uitfreak nie.” (bl. 39)

Volgens kenners neem sommige major depressielyers (die minderheid!) ’n persona aan terwyl hulle in sosiale situasies is. Baie bekende komediante het al erken dat hulle major depressielyers is. Van hulle het erken dat hulle dwelms gebruik het (self-medikasie, volgens die sielkundige). Heroïen, drank, en so meer is van die self-medikasie waartoe sommige mense hulle wend. In ’n artikel, getiteld, The sad clown: The deep emotions behind stand-up comedy, meen ’n navorser dat komedie as ’n tipe self-medikasie aangewend word.

Hierdie persona (wat eintlik net ’n ‘coping mechanism’ is) het vreeslik baie kwinkslae en lag en gesels tussen mense, maar wanneer mens met hulle familielede gesels, besef mens dat daar ’n baie donker kant is. Hulle is geneig om tuis uiters moeilik en geïrriteerd te wees en dikwels het hulle ook nie goeie langtermynverhoudings nie. Wat volwassenes betref, lei dit in heelwat gevalle tot egskeiding, aldus die sielkundige. Dis ontsettend moeilik om die familielid van so ’n persoon te wees, want almal ken hulle as wonderlike, joviale mense, maar sodra mens die sosiale geleentheid verlaat en huis toe bestuur, begin die geïrriteerdheid, morbiditeit, stilstuipe, selfdoodgedagtes, ens. Nié dat almal wat grappies maak depressief is nie! Glad nie. Dit is ook die minderheid van major depressielyers wat hierdie persona aanneem. Die meerderheid depressielyers het gewoonlik nie genoeg energie om vermaaklik te wees nie.

Paul self sê: “Sy sielkundige sê sy onvanpaste grappe is ’n oorlewingstrategie, in stede van om die waarheid in die oë te kyk. Maklik vir haar om te praat. Ten minste hét hy ’n coping mechanism.” (bl. 223) Dit blyk dat Paul se skynbaar pittige sêgoed véél meer met die toenemende druk en die persona wat hy aanneem, te doen het, as met blote vermaak. Ook weet mens nie of hy homself enigsins as vermaaklik beskou nie (veral later in die roman). Het sy opmerkings te doen met die ‘persona’, die front wat hy voorhou, of is dit eerder wrang aanmerkings wat spruit uit die swart gat waarin hy homself emosioneel bevind? Of is dit een en dieselfde ding?

Sindikaat is ’n roman met ’n baie aktuele groen tema, maar die deurlopende tema rakende geestesgesondheid is nét so belangrik, veral in die tyd waarin ons leef. Volgens die webblad van die World Health Organisation, sal een uit elke vier mense gedurende hulle leeftyd deur geestes- of neurologiese versteurings geaffekteer word.

Uit Sindikaat blyk dit dat Paul Rudman se ma ‘n depressielyer is. Is sy depressie en angs oorgeërf, of die gevolg van die trauma wat hy in Sweepslag beleef het?

Ek los dit aan die leser oor om self te besluit. Dit kan óf die een óf die ander, óf ‘n kombinasie van beide wees.