Meer oor Annerle Barnard

Annerle Barnard is in Musina gebore. Aan die einde van haar graad vier jaar verhuis hulle, verruil die Bosveld se massiewe onderstebo-bome vir die rooi vlaktes van die Noordwes. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Wolmaransstad en behaal ‘n B.A. Honneurs (Engels) aan die Noordwes Universiteit.

Annerle is getroud en het twee sportiewe seuns en ’n wonderlike, ewe sportiewe, stiefdogter. Annerle hou van lees, reis en die natuur. En noodgedwonge kyk sy redelik baie sport.

Sy is die skrywer van Sweepslag, Sindikaat en Spel. Al drie is boeke vir tieners, maar is ook uiters gewild onder volwasse lesers.

Sweepslag verskyn op die kortlys vir die Samlam-prys vir Jeuglektuur, 2017.

Sindikaat was die silwerwenner in die Afrikaanse kategorie van die Sanlam-prys vir Jeuglektuur, 2019.

Spel wen in 2021 die goue Sanlam-prys vir Jeuglektuur.

Barnard skryf o.a. ook ‘n paar kortverhale wat in skolebundels verskyn.