Stories: die 7 elemente

Annerle Barnard
Innerlike konflik in skryfwerk!
Funksie: karakterontwikkeling in stories

Stories: die 7 elemente

Die goeie nuus is dat jy min of meer enige idee in ‘n puik storie kan omskep deur seker te maak dat jy aan al 7 hierdie elemente van stories aandag gee.

Stories: die 7 elemente:

  1. Tema
  2. Milieu
  3. Plot
  4. Perspektief
  5. Styl
  6. Karakters
  7. Konflik

Stories: die 7 elemente

Daar is meer elemente waaraan jy aandag kan gee, maar indien jy aandag aan die volgende 7 elemente gee, kan dit ‘n reuseverskil maak.

1. Tema

Wat dryf jou om die storie waarmee jy besig is te skryf? Wil jy ‘n sekere gevoel skep? Geen storie het dit ooit ten doel om te preek nie, maar wat onderlê jou storie? Voorbeeld: beide Sindikaat en Spel het groen temas. Sweepslag se tema is mensehandel.

Wanneer jy ‘n tema het wat jou storie onderlê, help dit lesers om die storie beter te onthou. Moet egter nie jou lesers met ‘n lepel voer nie. Vleg aspekte van jou tema deur die storie en laat die lesers toe om hulle eie afleidings te maak.

2. Milieu

Die milieu is die wêreld en tydperk waarin jou storie afspeel. Dink aan die milieu en tyd van Spel vs. die van Sindikaat, Wuthering Heights vs. A Clockwork Orange.

Die boek- en TV-reeks Outlander speel gedurende twee tydperke af (die sewentiende asook die twintigste eeu) — en in verskillende lande (Skotland, Frankryk, Amerika, ens.)

3. Plot

Die plot het te doen met die gebeure in jou storie. In amper alle genres benewens literêre fiksie, verhoog die risiko vir die protagonis dramaties en lei tot ‘n onvermydelike klimaks.

 

Moenie jou lesers met lukrake (of toevallige) gebeure verveel nie. Elke plotpunt moet die gevolg van ‘n karakter se handelinge/besluite wees. Gevolg moet ‘n oorsaak hê. Dit lei tot spanning en noop jou leser om aan te hou lees om uit te vind wat volgende gaan gebeur.

4. Perspektief

Perspektief het te doen met die fokaliseerders in jou storie. Deur wie se oë sien die leser die gebeure afspeel?

In genrefiksie word die gebeure meestal uit die perspektief van die eerste- of  beperkte derdepersoon weergegee.

 

Onthou dat ‘n tiener se perspektief van ‘n volwassene s’n sal verskil. In ‘n artikel wat ek oor tienerperspektief gelees het, het ‘n sielkundige die tienerbrein met ‘n Ferrari vergelyk: “sleek and sexy — but no brakes.”

 

‘n Handearbeider se perspektief sal verskil van die van ‘n akademikus en ‘n gevangene s’n met die van ‘n wetsgehoorsame burger. Hulle uitkyk op die lewe sal verskil en dit moet ook in die dialoog reflekteer.

5. Styl

Jou skryfstyl het te doen met alles wat jou skryfwerk uniek maak insluitend tempo, toonaard en taalgebruik. Sommige skrywers verkies kort, bondige prosa en ander omvangryke beeldspraak en langer sinne.

Wees getrou aan jouself. Moenie soos ‘n ander skrywer probeer wees nie.

6. Karakters

Ek is mal oor karakters en karakterisering. Myns insiens is dit karakters wat maak dat lesers van ‘n sekere boek/reeks/film hou.

Jou karakters verleen diepte aan die storie. Dit is die lewenskrag van jou storie. Jou karakters se onderskeie persoonlikhede en interaksie met mekaar sal tot konflik lei en konflik dryf stories.

‘n Interessante multidimensionele karakter maak dat jou lesers met hom/haar identifiseer en hulleself in die karakter se skoene kan plaas.

7. Konflik

Ek het konflik vir laaste gelos omdat dit so ‘n interessante aspek van genrefiksie is. In omtrent elke genre (behalwe literêre fiksie) is konflik noodsaaklik. Konflik skep vir jou protagonis ‘n doelwit.

Hoe skep jy konflik?

Wat wil jou protagonis bereik, m.a.w. wat is sy/haar doelwit?

Verhoog die risiko en moenie jou protagonis bejammer nie. Gooi so veel as moontlik hekkies in jou protagonis se pad.

Watter morele of innerlike stryd ervaar jou protagonis?

Stories: die 7 elemente

Ek hoop hierdie was van hulp.

Lekker skryf!

Skryfwenke: wat beteken tema?
Annerle Barnard
Verhale: uiteensetting van plot (2)