Wat maak stories opwindend?

4 Skryfwenke vir jou (6)
Annerle Barnard
Karakter: Wat beteken perspektief?

Wat maak stories opwindend?

Wat is die ooreenkoms tussen ‘n peuter en jou karakters? Dis nooit goed as hulle dadelik kry wat hulle wil hê nie. Hulle moet eerder kry wat nodig is.

 

Peuters se deursettingsvermoë is bewonderenswaardig. Dit moet ook vir jou karakters geld.

1. Wat wil jou karakters hê?

In elke toneel moet daar iets wees wat jou protagonis wil hê, byvoorbeeld:

  • die beursie wat sy op die bus vergeet het
  • om by die juwelierswinkel uit te kom voordat dit toemaak
  • om die aanval by die Victoria Waterval te oorleef (Sindikaat)
  • om ongedeerd met onwettige wapens deur die grens te kom (Sindikaat)
  • om te ontsnap (Sweepslag)
  • om by water uit te kom, ens.

Hierdie is enkele voorbeelde, maar hierdie doelwitte is nie jou protagonis se oorkoepelende doelwit nie. Elke toneel moet ‘n doelwit, motivering en konflik bevat.

2. Gee vir jou karakter wat hy/sy nodig het.

Jy moet iets vir jou karakter gee. Gee dus vir die karakter wat hy/sy nodig het. In Sindikaat is daar ‘n aanval op Paul Rudman se lewe by die Victoria-waterval. Sy groter doelwit is dalk om te oorleef en om die lede van die sindikaat agter tralies te sien. Wat ontvang hy vir hierdie toneel by die Victoria-waterval? ‘n Knipmes en Bossie (die eks-recce) wat hom in hierdie situasie help.

3. Dis nié wat hy wou hê nie!

Dis waar, maar dis al wat hy kry en omdat sy probleem nie opgelos is nie, stoei hy met angs en depressie en moet hy verder tyd in Adriaan en Karlien se teenwoordigheid spandeer (en dit terwyl hy hulle nie kan verdra nie).

In die woorde van die beroemde skrywer, Kurt Vonnegut: “Make your characters want something right away even if it’s only a glass of water.”

Moenie jou karakters jammer kry nie. Maak dit vir hulle so moeilik as moontlik.

  • Vestig persoonlike risiko/belange binne-in grootskaalse konflik.
  • Maak seker dat jou karakters se keuses gevolge het.
  • Gebruik spanning en tempo om die risiko te verhoog.
  • Voeg ‘n tydsbeperking by.
  • Onthou, elke toneel kort ‘n doelwit (en risiko), motivering en konflik.
Wat maak stories opwindend?
Wat maak stories opwindend?
Karakter: Wat beteken perspektief?