Innerlike konflik in skryfwerk!

Innerlike konflik in skryfwerk!
Funksie: karakterontwikkeling in stories
Annerle Barnard

Innerlike konflik in skryfwerk!

Konflik stuur stories. Wanneer die stryd tussen twee opponerende magte afwesig is, gaan jou protagonis nie groei nie en heel moontlik ook nie sy/haar doelwit bereik nie.

Elke storie wat jy ken, besit ten minste een vorm van konflik (bes moontlik meer as een!) Wrywing en konflik bou spanning en dis immers wat maak dat die leser geen ander keuse het as om om te blaai nie.

Uiterlike konflik verwys na die konflik tussen jou karakter en ‘n eksterne mag, byvoorbeeld die natuur of ‘n booswig. Innerlike konflik affekteer die karakter se emosies. ‘n Karakter kan byvoorbeeld voel dat hy/sy nie ‘n ander mag teleurstel nie, of bang wees vir die gevolge van ‘n handeling, of bang wees vir hysbakke.

Wat ontwikkel jou karakter en maak dat die leser simpatie met jou karakter het? Innerlike konflik! Innerlike konflik is daarom koning.

Hoe skep jy innerlike konflik by jou karakter? Innerlike konflik in skryfwerk!

Maak gebruik van enige van die volgende vyf snellers:

  1. Waarvoor wens jou karakter? Maak jou karakter se lewe so moeilik as moontlik en moenie vir die karakter gee wat hy/sy wil hê nie. Paul Rudman (Sweepslag) wil uit Villa Persephone ontsnap.
  2. Wat het jou karakter nodig om te oorleef? Weereens – moenie jou karakter jammer kry nie. Lukas Brandt (Spel) het nodig om uit die transterrane se hande te bly. Paul Rudman (Sindikaat) het nodig om die sindikaat op sy spoor te ontwyk.
  3. Voel jou karakter verplig om iets te doen bloot net omdat dit nodig is of die regte ding is om te doen? Lukas Brandt (Spel) voel verplig om hom oor JJ en Jolene te ontferm.
  4. Ken jy jou karakter se grootste vrees? Die protagonis, Lukas, in Spel se grootste vrees is om sy broer, Daniël, ter verloor.
  5. Watter verwagtings het jou karakter van hom-/haarself? Lukas Brandt (Spel) verwag van homself om sy broer, Daniël, op te spoor en te red.

Kombinasie van snellers: Innerlike konflik in skryfwerk!

Dikwels vind ‘n mens genoemde 5 snellers in kombinasie in ‘n storie. Dit sal lei tot verwarring, twyfel en angs by jou karakter. Onthou, uiterlike konflik lei ook dikwels tot innerlike konflik en omgekeerd.

Wanneer jy karakters met opponerende waardestelsels (Paul Rudman en Bossie in Sindikaat, asook Lukas en JJ in Spel) skep, het jy onmiddellik konflik.

Lukas (Spel) voel verplig om na sy broer om te sien, maar terselfdertyd is sy behoefte om te bly leef. Sy vrees om sy broer te verloor is egter so groot dat hy bereid is om ten spyte van die gevaar willens en wetens Gariepstad te betree om na sy broer te soek. (‘n Kombinasie van snellers 2, 3, 4 en 5, dus.)

Dink aan jou gunsteling fliek of boek. Watter snellers word daarin gebruik om die konflik te verhoog?

Gevolge

Die groot geheim wanneer dit kom by innerlike konflik, is gevolge. Daar moet gevolge wees indien dinge skeefloop.

Verhoog die risiko.

Die heel beste plek vir jou karakter is tussen die duiwel en die diep blou see!

4 Skryfwenke vir jou (2)
Annerle Barnard
Annerle Barnard

Tussen die duiwel en die diep blou see

In Sweepslag sê Bullet vir Paul Rudman dat hy een van die meisies gaan doodmaak indien Paul weer probeer ontsnap.

Paul kan homself in Sindikaat nie met Bossie se metodes vereenselwig nie, maar sonder Bossie kan hy ook nie klaarkom nie. Hy’t Bossie nodig vir oorlewing.

Die protagonis in Spel, Lukas Brandt, besef dat hy uit die transterrane se hande moet bly, maar hy weet ook dat sy broer, Daniël, in Gariepstad deur die transterrane en kuborge gevange gehou word.

Hoe boei jy jou leser?

Dit moenie van die begin af duidelik wees wat die karakter se besluite gaan wees en hoe hy/sy van die situasie gaan ontsnap nie.

Skep onsekerheid. Los vir jou leser vrae om aan te kou. Gaan Paul Rudman (Sweepslag) probeer ontsnap en indien wel, hoe?

Wat is in die beskuitboks waarop Paul Rudman (Sindikaat) afkom en waarom mag hy nie daaroor praat nie?

Lukas Brandt (Spel) moet sonder sy ADHD kruie klaarkom. Hoe gaan hy sy broer uit Julius en Dakian se kloue red terwyl hy met impulsiwiteit en konsentrasieprobleme stoei?

Wenresep

Indien jy ‘n boeiende storie wil skryf, kombineer innerlike en uiterlike konflik. Met slegs een van die twee, gaan die storie heel moontlik in die hek duik.

Hoe?

Die maklikste is om seker te maak dat enige uiterlike konflik jou protagonis se hoofdoelwit in die wiele ry.

As jou protagonis die spele (The Hunger Games, Suzanne Collins) wil wen, maak haar lewe so moeilik as moontlik. Gooi hekkies in haar rigting wat haar verhoed om hierdie doelwit te bereik.

Doelwit, motivering, konflik!

Solank jou karakter ‘n gemotiveerde doelwit het en jy konflik (innerlik en uiterlik) skep om ‘n speek in sy/haar wiele te steek, behoort jou storie ‘n blitsblaaier te wees.

Lekker skryf!

4 Skryfwenke vir jou (5)
Annerle Barnard
Van idee na storie?