4 Skryfwenke vir jou (6)

4 Skryfwenke vir jou (6)
4 Skryfwenke vir jou (6)
Annerle Barnard

4 Skryfwenke vir jou (6)

Soos vantevore genoem, herinner ek myself gereeld aan skryfwenke wat ek as belangrik ag. Dokters en onderwysers (en baie ander mense in professionele beroepe) moet gereeld kursusse bywoon om hulle kennis op te knap. Ek glo dat dit op almal van toepassing moet wees en daarom ag ek dit as belangrik op my eie kennis voortdurend op te skerp.

4 Skryfwenke vir jou (6)

  1. Wat maak jy met jou skryfwerk?

Tydens die slypskool wat ek in 2013 bygewoon het, het ons fenomenale kursusleier , die baie bekende Riana Scheepers, gesê as jou skryfwerk in jou laai lê, is jy nie ‘n skrywer nie.

Dis menslik en normaal om bang te wees vir kritiek. Indien jy nie vir kritiek kans sien nie, is dit dalk beter om eerder nie te skryf nie. Onthou egter, skryfwerk wat in ‘n laai of op ‘n rekenaar skuil en deur niemand gelees word nie, kan aan niemand se lewe ‘n verskil maak nie.

Baie interessant is dat die fenomenale Duitse skrywer, Franz Kafka (hy was eintlik ‘n Poolse Jood, maar was Duitstalig en het in Duits geskryf) voor sy dood instruksie gegee het dat al sy ongepubliseerde werke na sy dood vernietig moet word. Indien dit nie vir Dora Diamant en Max Brod was nie, sou ‘n groot hoeveelheid van Kafka se beste werke nooit die lig gesien het nie. Kafka het gereken dat sy skrywerk bloot ‘n materialisasie van gruwelikhede was en dat dit glad nie gedruk moes word nie, maar eerder verbrand moes word.

Indien jy dus in jouself twyfel, onthou dat daar gróót name voor jou was wat ook in hulself getwyfel het.

  1. Moet jy skryf wat jy ken?

Daar is vele skrywers wat jou sal aanraai om te skryf wat jy ken, maar indien jy fantasie skryf, betree jy die onbekende en daar is niks daarmee fout nie. Wanneer jy fantasie of wetenskapsfiksie skryf, moet jy egter seker maak dat die wêreld  wat jy skep interessant en geloofwaardig is. Ek het redelik onlangs ‘n jeugboek gelees waarin die wêreldbou (world building) regtig nie goed gedoen was nie.

In, Spel, (Annerle Barnard, 2021) moes ek ‘n nuwe wêreld skep. Dis ‘n toekomstige wêreld wat nie onwaarskynlik blyk te wees wanneer ‘n mens na die hedendaagse wetenskap kyk nie. Lees self en besluit of jy van die wêreld hou of nie. Indien jy meer inligting oor wêreldbou wil hê, kliek hier.

Indien jy ‘n realistiese storie skryf, maak seker dat jy voldoende navorsing doen of weet waarvan jy praat. Jy kan nie ‘n storie oor die Vaalrivier in Zambië skryf nie. Die Vaalrivier is in Suid-Afrika en die Zambezi loop deur Zambië en Zimbabwe.

  1. Tema

Vind die tema in jou storie en werk dan daaraan. Elke goeie storie het ‘n plot en ‘n plot benodig ‘n goeie tema. Belangrik is egter dat die skrywer nie die tema uitspel nie, maar eerder ‘n spoor broodkrummels los sodat die leser self die tema kan uitpluis. Sonder ‘n tema is jou stories slegs handelinge wat plaasvind sonder om te verduidelik wat die motief vir hierdie handelinge is. Sonder ‘n tema gaan jou storie leeg en betekenisloos wees.

Sindikaat (Annerle Barnard, 2019) het ‘n groen tema. Spel (Annerle Barnard, 2021) het verskeie temas, maar ook ‘n groen tema. Sweepslag (Annerle Barnard, 2019) se tema is mensehandel.

Tema is dit wat die skrywer oor die menslike toestand wil oordra.

  1. Protagoniste is nie perfek nie

Maak seker dat jou protagonis nie perfek is nie. Daar bestaan nie perfekte mense op aarde nie en jou protagonis is ook maar net ‘n mens. Selfs al is jou protagonis ‘n superheld soos Captain America (Marvel), sal die protagonis steeds menslike foute hê. Indien nie, gaan jou karakter vervelig wees, wat beteken dat jou storie vervelig gaan wees. Vir meer inligting oor karakterisering en karakterontwikkeling, kliek hier.  Daar is ook ‘n gratis karakterkaart op my webwerf beskikbaar. 

Captain America se grootste karakterfout is sy ego. Dit is vir hom belangrik om altyd die leier te wees.

Paul Rudman in Sweepslag en Sindikaat is ‘n major depressieleier. Hy stoei met angs en depressie. Op die oog af blyk hy baie humoristies te wees, maar eintlik gebruik hy humor as oorlewingsmeganisme. In effek is hy dus ‘n hartseer nar (sad clown). 

Lukas Brandt in Spel stoei met ADHD en angs. Hy is daarom kort van draad en ongeduldig. Hy’t nie begrip vir mense wat uit ander omstandighede kom en anders as hyself oor die lewe dink nie.

4 Skryfwenke vir jou (6)

Laat weet my asb. waaroor ek meer moet uitbrei. Lekker skryf!

4 Skryfwenke vir jou (6)
Annerle Barnard
4 Skryfwenke vir jou (6)