Die skryf van kortverhale

Wenke: die skryf van kortverhale
Wenke: die skryf van kortverhale
Skryfwenke: wat beteken tema?

Die skryf van kortverhale

Menige skrywer reken dat dit moeiliker is om ‘n kortverhaal as ‘n roman te skryf. Wat is die verskil tussen die twee? Bloot wat die lengte betref is daar ‘n verskil. Kortverhale is normaalweg enigiets tussen 1 500 en 10 000 woorde terwyl ‘n roman ten minste 50 000 woorde in beslag neem. ‘n Storie van 100 woorde word as mikrofiksie beskou en dis seker een van die heel moeilikste tipes stories om te skryf, maar dis ‘n briljante skryfoefening.

Wenke: die skryf van kortverhale

Watter belangrike aspekte moet jy in gedagte neem wanneer jy kortverhale skryf?

  1. Sny jou storie tot op die been

Jy het nie woorde om mee te mors nie. Sny daarom enige irrelevante besonderhede. Indien dit nie tot jou plot of karakterisering bydra nie, raak daarvan ontslae. Ook fokus kortverhale (in teenstelling met romans) slegs op een aspek van ‘n karakter se lewe of een aspek van ‘n probleem.

  1. In media res

Vermy vreeslike lang vooraf verduidelikings en mooiskrywery. Begin so na aan die einde as moontlik. Gebruik jou inleidende sinne en paragrawe om die leser te haak en in te katrol.

  1. Handhaaf die tempo

Omdat kortverhale naby die einde begin, moet jou storie reeds aan die beweeg wees wanneer dit die leser tref. Dit moet die leser meesleur en die tempo versnel gewoonlik wanneer die protagonis die finale konflik nader. Moenie jou leser verveel nie.

Voorbeeld:

“Ek kan nie glo dat prinses Diana gisteraand dood is nie.”

vs.

Susan laat val haar teekoppie. “Ek het nie geweet nie.”

  1. Min karakters

Daar is nie tyd of plek om ‘n groot hoeveelheid karakters te ontwikkel nie. ‘n Kortverhaal kan so min as een karakter hê, maar het nie meer as drie karakters nodig nie.

  1. Konflik

Sonder konflik het jy nie ‘n storie nie. Die konflik kan innerlik, uiterlik of beide wees. Konflik stuur stories. Dit is die enjin van jou storie. Vir ‘n kortverhaal is een punt van konflik voldoende. Rooikappie sal dus nie ‘n vete met die wolf en die houtkapper en die burgermeester en die bouer hê nie. Haar vete met die wolf is voldoende.

Kurt Vonnegut reken dat skrywers sadiste moet wees. Hulle moet slegte goed met hulle karakters laat gebeur om te wys van watter stoffasie die karakters gemaak is. ‘n Kortverhaal kan nie te veel spanning hê nie.

  1. Vermy keel skoonmaak

In ‘n kortverhaal is daar nie tyd om die agtergrond of karakters te beskryf nie. Gebruik in media res, klim in jou storie in en suggereer agtergrondsinligting, ens. om jou leser aan die dink te sit.

  1. Dialoog

Maak seker dat jy die dialoog effektief gebruik en dat dit die storie dra en voortstuur. Dit moet karakteriseer en die plot dryf. Onthou, dit wat nié gesê word nie, kan baie belangrik wees. Sny die dooie hout en maak seker die dialoog dra gewig.

Voorbeeld:

“Vertel my van jou beste vriend. Watter tipe mens was hy?”

vs.

“Jou beste vriend was ‘n wetter, nè?”

  1. Mik vir die hart

Selfs al is jou storie kort, moet dit steeds soos ‘n vuishou verpak wees. Die leser moet daardeur geraak word: maak nie saak of dit die leser laat lag, bly maak, kwaad maak of hartseer laat voel nie.

Een van die heel beste kortverhale ooit, is een van Heinrich Böll wat ek in 1991/1992 gelees het. Ek onthou nie al die besonderhede nie, maar ek onthou die verskriklike ontnugtering wat ek aan die einde van die verhaal ervaar het.

‘n Ander een van Franz Kafka het my sprakeloos hartseer gelaat.

Mik vir die leser se hart.

  1. ‘n Protagonis waarvoor die leser omgee

Indien jou leser vere vir jou protagonis voel, gaan jou storie nie slaag nie. Hoe maak jy seker dat die leser van jou protagonis sal hou?

Gee vir jou protagonis ‘n passie: iets wat sy/hy hopelik met die leser in gemeen sal hê. Gee vir die protagonis iets wat haar/hom uit hulle gemaksone neem. Dit moet vir hierdie karakter uiters belangrik wees. In The Hunger Games, byvoorbeeld, probeer Katniss Everdeen haar suster red deur aan te bied om in haar plek aan die spele deel te neem. In Spel, weet Lukas Brandt hy moet die transterrane en kuborge vermy, maar hulle het sy broer, Daniël, ontvoer. Hy gaan soek na sy broer al weet hy dat dit lewensgevaarlik is. Hy is só gedetermineerd om sy broer te red dat hy bereid is om sy gemaksone te verlaat en gevaar in die oë te staar.

Gee vir jou karakter ‘n swakheid wat sy/hy hopelik met die leser sal deel: Lukas Brandt in Spel stoei met ADHD, Paul Rudman in Sweepslag en Sindikaat stoei met major depressie en angs.

  1. Gebruik al vyf sintuie

Moenie lesers tot die visuele beperk nie. Trek hulle in jou wêreld in: laat hulle voel, ruik, hoor en proe. Die leser moet ervaar. Dis wat bedoel word met “wys, moenie vertel nie.”

“Hy vee die slaap uit sy oë uit. Die reuk van spek en eiers op die stoof het sy drome verdryf.”

  1. Redigeer, redigeer, redigeer!
  • Raak van oortollige byvoeglike naamwoorde en bywoorde ontslae.
  • Kombineer karakters waar moontlik.
  • Wys, moenie vertel nie.
  • Laat elke sin tel.
  • Raak van oorgangstonele ontslae.
  • Raak ontslae van herhaling.

Die skryf van kortverhale

Besluit hoeveel van die agtergrondsinligting is regtig noodsaaklik. Beperk storielyne, asook die hoeveelheid karakters en beperk die konflik tot slegs een gebeurtenis.

Lekker skryf.

Wenke: die skryf van kortverhale
Annerle Barnard
Wenke: die skryf van kortverhale