Vergemaklik jou skryfproses!

Annerle Barnard
Annerle Barnard
Wenke: die skryf van kortverhale

Vergemaklik jou skryfproses!

Om ‘n boek te skryf is nie maklik nie. Daar is egter maniere om die ‘olifant in die yskas te kry.’

Karakter of storie eerste?

By my klop die karakter soms eerste aan my grysstof en soms die storie. Soms arriveer hulle gesamentlik. Maak nie saak in watter orde dit gebeur nie, beide is korrek.

Oor metodes rakende die beplanning van jou plot kan ek nie te veel sê nie. Ek begin met die eerste sin en het self geen idee waar die storie heen op pad is nie (ek is dus ‘n ‘pantser’ en nie ’n ‘plotter’ nie). Ek doen egter wel beplanning rakende ander aspekte en dit sal ek graag met jou deel.

Toeps en gratis toeps:

Vir diegene wat tegnologie nie as ‘n verskrikking sien nie is daar ‘n verskeidenheid toeps en gratis toeps, byvoorbeeld Evernote, Spice Mobile, Hemingway, A Novel Idea en Self Control om die proses vir jou makliker te maak. Vele skrywers maak van Scrivener gebruik.

Goeie nuus!

Vir diegene wat MS Word verkies, ek gebruik ook slegs MS Word.

Vergemaklik jou skryfproses:

  1. Hoe lyk jou karakters?
    • Beplan jou karakters en weet watter eienskappe hulle uniek maak. Lees hier meer oor die beplanning van jou karakters.
    • Beplan jou karakters deeglik. Vir ‘n gratis karakterkaart, kliek hier.
    • Soek foto’s van hoe jou karakters lyk op Pinterest/die Internet.
    • Kies vir jou karakters interessante name wat by die temas in jou storie aansluit. (Meer oor die keuse van karaktername in ‘n volgende blog.)
  1. Trek ‘n tydlyn van gebeure indien nodig.
    • ‘n Tydlyn het my al menigmaal uit die verknorsing gehelp.
  1. Navorsing
    • Deeglike navorsing maak jou storie geloofwaardig. Navorsing het al male sonder tal my storie vorentoe gedryf toe ek nie geweet het hoe verder nie.
    • Voorbeeld: In Spel (benoem vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur, 2021) het ek klippe gekou tydens een toneel waar ek ‘n futuristiese wapen moes inskryf. My storie is op die wetenskap gebaseer, selfs al neem dit soms ‘n tree of vyf verder in die rigting van fantasie. Ek het  ‘n wapen nodig gehad wat werklik in die toekoms sou kon bestaan, selfs al bestaan dit nie tans nie — en dis net mooi waar die olifant by die yskas wou uitval. Ek is nie ‘n wetenskaplike nie en daarom het ek nie geweet hoe so ‘n wapen sou lyk nie. Ek bel toe een kenner en hy gee my ‘n idee. Daarna bel ek ‘n mediese persoon en hy help my toe met die fyner besonderhede sodat hierdie wapen geloofwaardig sou wees en kon doen wat dit moes.
    • Veral voordat my eerste boek gepubliseer is, was dit vreesaanjaend om onbekendes rakende navorsing vir ‘n storie te kontak. Dit raak egter makliker sodra jy besef dat mense nie omgee om hul kennis te deel nie.
  1. Skryf ten minste ‘n uur per dag.
    • In een uur kan jy ongeveer 250 woorde skryf. Indien jy 250 woorde elke dag skryf, het jy binne 240 dae 60 000 woorde geskryf. Dit is min of meer die lengte van ‘n jeugroman.
  1. Hou moed.
    • Een woord op ‘n slag is al wat nodig is. Sommige dae bly die woorde ‘n mens ontwyk. Doen dan navorsing. Of lees. Werk aan jou karakters. Probeer weer die volgende dag. Moenie moed verloor nie.
Wenke: die skryf van kortverhale
Annerle Barnard
Annerle Barnard