Skryfwenke2: wat sê skrywers?

Annerle Barnard
Skryfwenke2: wat sê skrywers
Skryfwenke2: wat sê skrywers

Skryfwenke2: wat sê skrywers

Ek vind ander skrywers se wenke van groot waarde. Hier is nog wenke indien jy belangstel.

1. “Do research. Feed your talent. Research not only wins the war on cliché, it’s the key to victory over fear and its cousin, depression.” — Robert McKee

Indien jy wonder, Robert McKee is baie bekend vir veral draaiboeke.

Google is nie ‘n sinoniem vir navorsing nie. Daar is heelwat foutiewe inligting op Google en daarom moet ‘n mens kenners kontak wanneer jy navorsing doen.

Vir elkeen van my boeke het ek ontsettend baie navorsing gedoen. Agterin die boeke is ‘n lys van speialiste en die internetbronne wat ek geraadpleeg het.

Hier volg enkele voorbeelde, maar die lys is eintlik soveel langer:

Vir Sweepslag, het ek o.a. ‘n polisieman, landdros, staatspatoloog en menseregtekenner gekontak.

Toe ek by Sindikaat kom, moes ek ook ‘n polisieman, kenner van Zimbabwe en Zambië en landdros kontak.

Spel is wetenskapsfiksie en het ‘n magdom navorsing geverg. Ek het destyds gevoel dis die moeilikste boek wat ek nog ooit aangepak het, maar eintlik voel ek met elke boek so, het ek onlangs besef.

Ek het vantevore blogplasings oor die wêreld-bou in Spel geskryf, asook hoe dit by die wetenskap aansluit. Kyk gerus na my blogblad daarvoor.

2. “Amateurs sit and wait for inspiration, the rest of us just get up and go to work.” — Stephen King

Die waarheid is dat geen persoon in enige ander beroep kan sê hulle wag vir ‘n muse nie. Plak jou boude op die stoel en begin skryf. Indien jy nie daarvan hou nie, redigeer dit agterna. ‘n Leë bladsy is egter genoeg om enigiemand na wanhoop te dryf.

3. “The dirty secret of art is you don’t have to show people your bad writing. That’s what we have the delete key for.” — Robert McKee

Ongelukkig is skryf nie net ‘n werkwoord nie, maar ook ‘n groeiproses. Soos enigiets anders, tel ervaring. Die meeste skrywers se aanvanklike skryfwerk is dus minder goed as hul latere skryfwwerk.

Ek moet bieg, ek is bly skryf is nie ‘n lewendige proses soos Reality TV nie. Ek vind die “delete” knoppie van groot waarde.

4. “Editing. It’s like dieting; except a lot more violent.” — Leya Delray

In die vorige blogplasing het ek genoem dat Stephen King sê ‘n mens moet van jou ‘darlings’ ontslae raak. Dis baie waar. Redigering behels egter veel meer, het ek mettertyd agtergekom.

Wanneer jy redigeer, onthou die volgende:

  • Wees versigtig vir sentimentele en melodramatiese taalgebruik (ook in romanse). Dit laat jou storie soetsappig klink.
  • Vermy die passief (lydende vorm) en gebruik eerder die aktief (bedrywende vorm). Passief: Die bal word geskop. X Aktief: Ryno skop die bal. √
  • Dit is beter om bywoorde te vermy, m.a.w. woorde wat die werkwoord verduidelik, byvoorbeeld: Hy ry vinnig. Vinnig verduidelik hoe die persoon ry (werkwoord) en is is dus ‘n bywoord. Stephen King meen dat die pad hel toe deur bywoorde geplavei is.
  • Wees ookversigtig vir byvoeglike naamwoorde en verkleinwoorde.
  • Trap lig met grade van iets. “Sy gee ‘n effense glimlag.”
  • “Head hopping” is aanloklik, maar ‘n definitiewe NEE. Wanneer “head hop” jy? Wanneer jy perspektiefspronge tussen karakters maak sonder om die karakters se perspektiewe deur ‘n wit spasie (of nuwe hoofstuk) te skei.
  • Ken jou leestekens. Een uitroepteken op die regte plek en spaarsamig gebruik is voldoende.
  • ‘n Ellips moet ook met groot omsigtigheid gebruik word.
  • Vermy ook dieselde woord wat aan die begin van ‘n sin herhaal (gewoonlik Hy of Sy) asook die herhaling van woorde in sinne wat kort op mekaar volg.

In onderstaande teks het ek elke reël probeer oortree. Kyk of jy die foute kan raaksien en skryf die teks oor sodat dit beter klink.

Skryfoefening vir jouself:

Die keer wil hy nie terughou nie!!! Hy bestudeer elke sproetjie op haar wondermooi gesiggie intens. Haar amperse donkerblou oë spreek van ongekende hartseer en verlange. Haar nagswart wenkbroue wat effense kappies vorm, haar effens getuite helderrooi lippies en haar asem wat yswolkies blaas … Hy lig sy bruingebrande hand bewend na haar gesig toe. Daar word rakelings met ysige vingerpunte aan haar ken geraak. Haar hart galop skielik teen ‘n wilde pas. Sy voel hoe sy ophou asemhaal en hoe haar skouers styf span. Sy wonder of hy haar gaan soen …

5. “Eavesdrop. Listen to the way people speak but pay special attention to their silence.” – Virginia Woolf

Maak seker dat jou karakters se dialoog outentiek is. ‘n Ouerige predikant sal nie sê: “Ahwe bru, ek laaik jou wiele” nie. Dis taalgebruik wat pas by ‘n tiener.

Klink dié na ‘n motorwerktuigkundige? “Middag Meneer, hiermee dan u faktuur. U motor se verkoelingstelsel is ook nou honderdpersent in werking. Sal u asb. op die stippellyn vir my teken?” Sy taalgebruik sal bes moontlik meer informeel wees. Hy sal dalk van ‘n ‘invoice’ en ‘aircon’ praat en nie van ‘n faktuur en verkoelingstelsel nie.

Luister na mense se dialoog wanneer hulle gesels.

 

Skryfwenke2: wat sê skrywers?

Bostaande is advies deur skrywers. Dis beslis die moeite werd om dit te probeer toepas.

Skryfwenke2: wat sê skrywers
Annerle Barnard
Skryfwenke2: wat sê skrywers