Skryfwenke: advies deur skrywers

Annerle Barnard
Annerle Barnard
Skryfwenke: advies deur skrywers

Skryfwenke: advies deur skrywers

Ek weet nie van jou nie, maar ek vind dit uiters interessant en leersaam om te kyk watter skryfwenke ander skrywers van waarde ag. Advies deur skrywers is immers wenke uit die perd se bek.

1. “Woon ‘n slypskool/skryfskool by.” – Annerle Barnard

‘n Voornemende skrywer het onlangs die manuskrip van ‘n debuutroman aan my gestuur om na te kyk. As ek onmiddellik kon sien dat die persoon nog nooit ‘n slypskool bygewoon het nie, sal uitgewers dit beslis ook sien! Die teks het van die foute gewemel. Maak seker jy vermy foute en weet hoe inkeping (indents) werk.

2. “This is how you do it: you sit down at the keyboard and you put one word after another until it’s done. It’s that easy, and that hard.” - Neil Gaiman

Wanneer ek vreeslik met ‘n storie stoei, is ek nie lus vir my studeerkamer nie. Ek begin nie, soos vele ander skrywers, huis skoonmaak nie, maar ek dink wel aan ander take wat dringend afgehandel moet word.

 

Feit is, die enigste manier waarop mens wel ‘n manuskrip klaarkry, is deur jou boude op ‘n stoel te plak en jouself te dwing om te begin. Jou aanvang hoef nie goed te wees nie. Jy kan dit altyd agterna redigeer, maar ‘n leë bladsy is onredigeerbaar en vreesaanjaend.

3. “Protect the time and space in which you write. Keep everybody away from it, even the people who are most important to you.” - Zadie Smith

My gesin het ongelukkig nooit hierdie memo ontvang nie, maar ek dink dis baie wyse raad.

 

4. “Lees!” – Annerle Barnard

Ek gaan Usain Bolt uitdaag vir ‘n resies. 100m. Ja, ek weet hy’t uitgetree, maar steeds. Ek glo ek sal wen. Jy lag? Lees onder en lag dan.

“If you don’t have time to read, you don’t have the time — or the tools — to write. Simple as that.” – Stephen King

Ek was verstom om te hoor dat daar mense is wat nooit lees nie wat ‘n boek probeer skryf. Stephen King is 100% reg. Hoekom sal iemand wat nie lees nie, probeer skryf? Kan nie wees om geld te maak nie, want skrywers verdien grondboontjiedoppe (die grondboontjies gaan na die ape in die dieretuin toe). Net soos wat ek (onfiks en al) nie vir Usain Bolt gaan wen nie, kan ‘n nie-leser ook nie skryf nie.

5. “You can’t wait for inspiration, you have to go after it with a club.” - Jack London

Ek hoor anderdag iemand iets sê oor ‘n muse. Geen muse vind my ooit nie en ek gaan soek ook nie ‘n muse of wag vir een nie. Stel jou voor jy arriveer by die tandarts en hy sê hy moet vir die muse wag voor hy kan begin. Waansin!

As ek vir ‘n muse moes wag, het Sweepslag, Sindikaat, Spel en die twee wat hierdie jaar (2024) uitkom, nooit tot stand gekom nie.

Moenie vir inspirasie wag nie. Lees boeke en koerante en kyk films en gesels met mense. Dit help ‘n mens om met storie-idees vorendag te kom.

6. “Don’t tell me the moon is shining; show me the glint of light on broken glass.” - Anton Chekhov

Bostaande is onder andere waarom jy ‘n skryfskool moet bywoon. Dis ‘n tegniek wat ‘n skrywer moet aanleer wat nie uit die lug gaan val nie. Gaan lees my blogplasing oor wys en vertel indien jy meer wil leer.

Mense in professionele beroepe woon voortdurend kursusse by om hulle vaardighede te slyp. Skrywers moet lees (fiksie sowel as inligting oor skryftegnieke) om seker te maak hulle vaardighede verroes nie.  

Mag ek net noem dat “wys vs. vertel” oefening verg. Dis nie iets wat ‘n mens noodwendig die eerste keer regkry nie.

7. "Never use a long word where a short one will do." - George Orwell

Ek het oneindig baie respek vir Orwell se skryfwerk, veral vir 1984 en ek stem heelhartig met hom saam. Die werk van ‘n genrefiksieskrywer is om ‘n boeiende storie te vertel, nie om ‘n woordeboek te skryf nie.

8. “Every sentence must do one of two things -- reveal character or advance the action." - Kurt Vonnegut

Bostaande is moeiliker as wat dit lyk (en daarom moet ‘n mens ‘n skryfskool/slypskool bywoon). Soos Stephen King sê: “Kill your darlings!” As die teks nie tot die plot of karakterisering bydra nie, raak ontslae daarvan.

Skryfwenke: advies deur skrywers

Meer ‘n volgende keer. Indien jy bostaande advies van waarde gevind het, laat weet my asb. via die Kontakbladsy op my webwerf.

Skryfwenke2: wat sê skrywers
Skryfwenke2: wat sê skrywers
Annerle Barnard

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *