4 Skryfwenke vir jou (2)

4 Skryfwenke vir jou (2)
Annerle Barnard
4 Skryfwenke vir jou (2)

4 Skryfwenke vir jou (2)

Indien jy baat by die vorige 4 skryfwenke wat ek gedeel het, gevind het, sal jy hopelik ook baat vind by die volgende 4 skryfwenke.

4 Skryfwenke vir jou (2)

  1. Wys, i.p.v. vertel

Daar is wel tye wanneer die verteltegniek beter werk, byvoorbeeld wanneer karakters 3 dae lank oor ‘n berg trek en niks noemenswaardig tydens hierdie trek gebeur nie. As skrywer wil jy slegs vir die leser vertel dat hulle oor die berg getrek het en hulleself nou in ‘n ander ligging bevind.  Hier sal jy dus vertel, eerder as wys.

Verder wil jy eerder “wys”, want wanneer jy wys, neem die leser aktief deel aan die interpretasie van die storie, karakters, milieu, ens.

In Spel (Annerle Barnard), op bl. 69, sit JJ aan tafel met ‘n bord kos terwyl die ander nog op pad is etenstafel toe.

Wat sê die volgende reëls uit die teks vir jou oor JJ as persoon?

JJ hou onmiddellik op beat box. Hy sit die mes en vurk waarmee hy trom gespeel het, neer. […] “En wat gaan jý doen terwyl ek onbetaald vir jou slaaf?” JJ stoot sy bord van hom af weg en vou sy arms oor sy bors. Die ringe in sy ore en lip reflekteer die pers van sy hare. (bl. 69)

Dialoog kan ook gebruik word om te wys en terselfdertyd te karakteriseer. In Sindikaat (Annerle Barnard), op bl. 180 maak Adriaan ‘n opmerking oor Paul Rudman (protagonis). Adriaan se opmerking onthul egter iets oor homself ook — en nie slegs oor Paul nie. Ek haal aan:

“Karlien, het jy nog nie agtergekom hoe mal douchebag oor hand sanitiser is nie?” wil Adriaan weet. (bl.180)

 

In Sweepslag (Annerle Barnard), op bl. 100 kom ons meer oor Bullet te wete:

Bullet se skrefiesmond trek nog dunner, sy gesig word beetrooi. Hy klap die kamerdeur toe, lig sy vuiste en tree nader. (bl. 180)

Dis onmoontlik om slegs te wys en nie te vertel nie, maar “die verteltegniek” moet uiteraard slegs gebruik word wanneer die teks/storie dit vereis.

  1. Ysberg-teorie, Hemingway

Volgens Ernest Hemingway se ysberg-teorie moet die skrywer slegs die punt van die ysberg (die belangrikste deel van die storie) bekendmaak, want die leser is veronderstel om die res te ontdek. Die skrywer moet daarom nie te veel inligting rakende plot en karakters aan die leser bekendmaak nie. Moenie jou leser met ‘n lepel voer en sy/haar intelligensie onderskat nie.

Te veel inligting gaan maak dat die leser belangstelling verloor en te veel inligting kom neer op “information dumping”. Wanneer ek skryf, doen ek deeglike navorsing. Ook oor my karakters en hulle geskiedenis wil ek soveel as moontlik weet. Ek het nodig om hierdie inligting te weet ten einde my storie te kan skryf, maar ek deel nie als aan die leser mee nie.

In beide Sweepslag (2019) en  Sindikaat (2019, Annerle Barnard) het ek achronologiese hoofstukke. Elke eerste hoofstuk fokus op die hede en die daaropvolgende hoofstuk fokus op gebeure in die verlede. Sodoende kon ek agtergrondsinligting bietjie-bietjie deel, maar ook afwagting skep.

  1. Dialoog

Vir my persoonlik moet dialoog gewig dra en jou storie dryf. In ‘n vorige blogplasing het ek reeds melding gemaak van hoe ‘n mens dialoog kan aanwend om jou storie te stuur, maar indien jy meer wil weet, lees gerus verder.

Dialoog is nie slegs daar om die wit spasie op die papier in te kleur nie. Dialoog kan die volgende funksies in jou storie hê:

  • Karakterisering
  • Skep spanning
  • Stuur die storie
  • Wys (i.p.v. vertel)

Vir die dialoog om effektief te wees, moet dit egter nie te lank aangaan nie. Jy kan veel meer sê in kort, bondige dialoog as in ‘n lang, uitgerekte gesprek.

Onthou die voorbeeld waarna ek vantevore verwys het?

“Vertel my watter tipe mens jou beste vriend was.”

vs.

“Jou beste vriend was ‘n wetter, nè?”

 

Ten einde verder te illustreer, haal ek uit Spel, 2021 (Annerle Barnard) aan:

“Wat het jy kom soek, Lukas?” probeer Romeo weer.

“Weet nie. Kan nie onthou nie. Julle het my heeltemal van my wysie af.” (bl. 147)

en

JJ kyk na Lukas. “Jy’t die interpersonal skills van ‘n robot.”

Hy draai na Dimpho. “Hoe hou jy dit met die ou? Het jy nie actual vriende nie?”

“Kom saam as jy wil.” Lukas voel aan die patrone in sy baadjiesak. “Jy kan doen as ‘n skild.” (b. 56)

  1. Temas

Die temas in jou storie is ongelooflik belangrik. Wat wil jy sê en slaag jy daarin om dit op ‘n subtiele, maar suksesvolle, manier te sê? Soms het ‘n storie ‘n hele aantal temas, soos wat ‘n mens in Spel, 2021 (Annerle Barnard) vind.

Resensie: Spel, 2021

Die onderstaande resensie deur Cara-Lu Graham (op Goodreads), behoort ‘n goeie aanduiding van die temas in die boek te gee:

Spel is veel meer as slegs ‘n jeugroman. Dis ‘n boek met soveel lae en fasette dat enige persoon tussen 14 en 100 daarby aanklank sal vind. Spel handel oor Lukas, `n 17 jarige seun, wat deel is van die klein persentasie van die aardse bevolking wat oorleef het nadat die res van die mensdom deur oorlog en siekte uitgewis is. Die Saevissimi, `n superras transterrane, is aan bewind en hulle is op Lukas se spoor.

Spel se temas fassineer: vryheid en onderdrukking, die stryd tussen goed en kwaad, samewerking vs. oorlog, medemenslikheid vs. kunsmatige intelligensie, sowel as die eko-angs van die moderne mens. Dis ‘n verhaal oor verlies en vindingrykheid. Hierdie boek se groen tema is van kardinale belang vir ons hedendaagse samelewing.

Lukas en Dimpho, asook Lukas en Fidelis se vriendskap dien as metafoor vir dit wat vermag kan word wanneer mense saamwerk en kennis deel. Spel is uitstekend nagevors en geskryf, maar dit lees terselfdertyd lekker. Lukas en Jolene is aangetrokke tot mekaar. Gaan Lukas die moed hê om met Jolene oor sy gevoelens te praat? Die spanningslyn boei en die vele intriges hou die leser nuuskierig.

Hierdie boek is veel meer as ‘n goeie storie en sterk karakters. Die verhaal handel oor die belangrikste spel ooit, ‘n spel om oorlewing en wie die beste skuif kan maak ten einde die spesie se voortbestaan te verseker. Die skrywer slaag daarin om oënskynlik uiteenlopende temas in te span om ’n heerlike storie — met baie stof tot nadenke — te vertel.

Annerle Barnard
Annerle Barnard
Annerle Barnard

4 Skryfwenke vir jou (2)

Laat weet asb. indien jy enige spesifieke vrae betreffende hierdie of ander skryfwenke het.

 

Lekker skryf.

4 Skryfwenke vir jou (5)
Annerle Barnard
4 Skryfwenke vir jou (2)