Opstelle: hoe stimuleer jy kreatiwiteit?

Boeke vir tieners
Opstelle: hoe stimuleer jy kreatiwiteit?
Annerle Barnard

Opstelle: hoe stimuleer jy kreatiwiteit?

‘n Mens kan kreatiwiteit baie beslis stimuleer. Dit verg ‘n  bietjie werk, maar op die ou einde is dit die moeite werd.  Hierdie hoef nie slegs op skoolvlak gedoen te word nie. Enige volwassene kan dit vir hom-/haarself ook gebruik.

Glo my: wanneer daar ‘n kreatiewe droogte in my kop is, skop ek my eie idees ook weer via een van hierdie metodes aan die gang.

1. Storie-idees: die Internet

Daar is hordes storie-idees op die Internet beskikbaar. Kyk gerus na die “writing prompts” op Pinterest and Tumblr.

2. Trek ‘n haas (of ‘n woord!) uit ‘n hoed uit

Opstelle: hoe stimuleer jy kreatiwiteit?

Onderwysers kan onverwante woorde in ‘n hoed (of enige houer) gooi. Elke leerder trek dan 3 of 5 woorde en moet dit gebruik om ‘n storie mee te skep.

Vir kleiner groepies kan ‘n mens “story cubes” gebruik. Dis regtig oulik, maar dis nie nodig om onkostes aan te gaan om kreatiwiteit te stimuleer nie.

3. Gedigte, musiek en nuusberigte

‘n Mens kan ‘n interessante gedig gebruik om die proses aan die gang te sit. Klank of musiek dra gevoel oor en dit kan help om ‘n mens idees rakende jou karakter of milieu te gee. By die skryfskool wat ek in 2013 bygewoon het, het ons ‘n gedig oor seisoene gelees en daarna moes alle deelnemers ‘n gedig oor enige seisoen skryf. Een skrywer het die seisoen op haar lewe van toepassing gemaak en haar lewe in haar gedig via die seisoen uitgebeeld.

Nuusberigte is van groot waarde en ‘n uitstekende bron van idees. Sweepslag is geïnspireer deur ‘n radioberig oor twee meisies van Bloemfontein wat ontvoer is nadat hulle ‘n saamrygeleentheid van ‘n vreemdeling aanvaar het.

Sindikaat is deur ‘n koerantberig oor die onwettige handel in bedreigde spesies geïnspireer.

Spel is deur ‘n droom geïnspireer.

4. Prente

Wanneer ‘n mens na ‘n prent kyk, verskerp jou sigtuiglike waarneming (vind ek). Neem byvoorbeeld ‘n prent van ‘n straatmark en gesels daaroor. Dink aan al die speserye, reuke, kleure, klank en die atmosfeer. Gesels oor die prent. Jy het vyf sintuie. Gebruik hulle. Ruik jy die speserye by die straatmark? Wat hoor jy in die straat? Dalk metaalgeluide wanneer die mallemeule draai of is die musiek so hard dat dit als oorheers? Watter tipe musiek hoor jy by die mark? Hoe proe die kos wat jy daar kan koop? Kan jy die teksture van die klere waarna jy daar kyk beskryf? Die Persiese tapyte?

Annerle Barnard
Opstelle: hoe stimuleer jy kreatiwiteit?
Boeke vir tieners

5. Groepwerk

Neem ‘n monster/dinosourus van karton/papier skool toe. Elkeen kry die geleentheid om die monster op te kikker. Een kan dalk vir hom ‘n stert aanlas. Wat van ‘n propeller? Verander sy stert of ore of oë. Skryf nou ‘n storie oor hierdie monster of dinosourus.

Nog ‘n idee is dat een leerder een sin op papier skryf. Die papier word aangestuur en elke leerder skryf een sin by. Kyk waarmee julle vorendag kan kom. Hierdie oefening kan groot pret wees.

6. Die sneeuvlokkiemetode

Opstelle: hoe stimuleer jy kreatiwiteit?

Onderwysers kan ook van die sneeuvlokkiemetode gebruik maak. Hoe werk dit? ‘n Leerder skryf ‘n storie-idee in een sin. Daarna herskryf die leerder die idee as ‘n paragraaf. Dan skep die leerder karakterbeskrywings en daarna ‘n subplot (of meer) wat met die idee verband hou.

7. Droom- en visieborde vir karakters en milieu

Indien jy sukkel om jou karakters vas te lê, gaan soek op Pinterest (of die Internet) vir prente van mense wat moontlik soos jou karakter(s) lyk. Voer dan ‘n onderhoud met die karakter en vind meer uit oor sy/haar familie, waar hy/sy op skool was, ens. Vind uit wat die karakter wil bereik, wat sy/haar grootste vrees is, wat die struikelblokke is wat hy/sy moet oorkom, ens. Vir idees, kyk na die gratis karakterkaart onder hulpbronne op my webwerf.

Jy kan op dieselfde wyse ook ‘n visiebord opstel vir die milieu waarin die karakter hom-/haarself sal bevind. Die prente wat jy op die Internet vind, sal jou help om ‘n gevoel vir die atmosfeer van hierdie storie en milieu te kry.

8. Lees

Lees stimuleer beslis kreatiwiteit. Lees soveel as moontlik in die genre waarin jy wil skryf.

Opstelle: hoe stimuleer jy kreatiwiteit?

Onthou:

  1. Geen mens kan ‘n leë bladsy redigeer nie. ‘n Mens mág foute maak. Leer uit jou foute en geniet die proses.
  2. ‘n Kreatiewe droogte het dikwels met die vrees vir mislukking te doen. Gaan kyk gerus na die blogplasing wat ek oor skrywersblok geskryf het.
  3. Jy is nie al een wat mislukking vrees nie. Wanneer ek met ander skrywers praat, hoor ek dat hulle met dieselfde probleme as ek stoei. Troos jouself: jy is in goeie geselskap.

Idees vir stories: navorsing

Soms, in die middel van ‘n stuk skryfwerk haak ek vas en weet nie wat volgende gaan gebeur nie. Dit help my altyd om nog navorsing oor my tema te doen.

Indien jy byvoorbeeld skryf oor seuns wat mekaar poetse bak, vra ‘n skoolseun watter tipe poetse hulle mekaar op skool bak.

In Spel moes ek ‘n futuristiese wapen skep. Ek was heeltemal moedeloos totdat ek iemand wat wapens ken, gebel het en hy my aangeraai het om klank as wapen te gebruik. Na ‘n vreeslike gesukkel met inligting op die Internet, het ek ‘n kenner gebel wat my met die presiese desibels wat my wapen sou benodig, gehelp het. Indien jy meer hieroor wil weet en wil weet hoe ek feite met fiksie vermeng het, gaan kyk na bladsy 234 en 235 van Spel.

Opstelle: hoe stimuleer jy kreatiwiteit?

Laat weet my indien jy interessante idees het.

 

Lekker skryf.

Annerle Barnard
Funksie: karakterontwikkeling in stories
Annerle Barnard