
Meer oor Annerle Barnard
Boeke vir tieners? Nee, dis nie al nie!
Annerle Barnard is in Musina gebore. Aan die einde van haar graad vier jaar verhuis hulle, verruil die Bosveld se massiewe onderstebo-bome vir die rooi vlaktes van die Noordwes. As kind hardloop sy graag op dakke rond en val ook ‘n paar keer baie hard. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Wolmaransstad en behaal ‘n B.A. Honneurs (Engels) aan die Noordwes Universiteit.
Annerle is getroud en het twee sportiewe seuns en ’n wonderlike, ewe sportiewe, stiefdogter. Annerle hou van lees, reis en die natuur. En noodgedwonge kyk sy redelik baie sport.
Sy is die skrywer van Sweepslag, Sindikaat, Spel, Gif en Donkerster. Al vyf is boeke vir tieners, maar is ook uiters gewild onder volwasse lesers.
Haar werk het erkenning ontvang deur verskeie toekennings:
- Sweepslag verskyn op die kortlys vir die Sanlam-prys vir Jeuglektuur, 2017.
- Sindikaat was die silwerwenner in die Afrikaanse kategorie van die Sanlam-prys vir Jeuglektuur, 2019.
- Spel wen in 2021 die goue Sanlam-prys vir Jeuglektuur.
- Gif verskyn in Julie 2024
- Donkerster (naaswenner in die Lapa Jeugromankompetisie, 2023) in November 2024.
Barnard skryf o.a. ook ‘n paar kortverhale wat in skole- en volwasse kortverhaalbundels verskyn, radiodramas, ‘n draaiboek, ens. Hoewel sy hoofsaaklik in Afrikaans skryf, skryf sy ook tans in Engels.
Barnard se skryfwerk is bekend vir sy boeiende verhale en sterk karakterontwikkeling. Sy gee ook skryfwenke en advies aan aspirantskrywers, en beklemtoon die belangrikheid van goeie karakterontwikkeling. Haar werk weerspieël dikwels temas van avontuur, spanning en die uitdagings wat jongmense in die moderne wêreld ervaar.
Met haar unieke styl en diepgaande stories het Annerle Barnard haarself gevestig as een van die voorste Afrikaanse jeugromanskrywers. Haar boeke is ‘n uitstekende keuse vir lesers wat hou van opwindende en betekenisvolle verhale.
