Die uitseensetting van plot in fases, oftewel plotpunte?
Terwyl ek in die vorige plasing 7 belangrike verhaalelemente aangeraak het, het ek dit goed gedink om hier aan een spesifieke aandag te gee: plot e plotpunte.
Plotpunte is belangrike, opwindende gebeure wat ‘n definitiewe impak op die storie in geheel maak. Plotpunte stuur dikwels die narratief in ‘n nuwe rigting en dien as ‘n stimulus vir karakterontwikkeling.
Die uiteensetting van plot
Neem asb. kennis dat ek tydens my studie van die uiteensetting van plot verskeie bronne geraadpleeg het en dat daar meer as een teorie bestaan. Elke skrywer moet self besluit wat die beste vir hom/haar gaan werk.
Naas die Griekse weergawe is Gustav Freitag se uiteensetting van plot (in 5 fases) waarskynlik die bekendste. Dan is daar ook die gewilde 7-punt plotstruktuur wat deur die skrywer Dan Wells bekend gemaak is.
Die doel van plotpunte/-fases tydens jou beplanning van ‘n verhaal?
Terwyl die plot na ‘n reeks gebeure (binne ‘n storie) verwys, dui plotpunte op die individuele kerngebeure in die storie. Dis belangrik om te besef dat elke enkele gebeurtenis binne ‘n storie nie as ‘n plotpunt beskou word nie. In ‘n storie is daar moontlik ander gebeure, of selfs ‘n subplot of meer, wat bloot net dien om die karakter se geskiedenis te belig — of inligting verskaf rakende die rigting wat die storie ingeslaan het. Mindere gebeure is nie plotpunte nie omdat dit nie kerngebeure is wat die storie in ‘n ander rigting laat beweeg — of enige invloed op die protagonis se ontwikkeling het nie.
Die uiteensetting van plot
Wanneer jy skryf, oorweeg gerus Gustav Freitag se uiteensetting van plot in 5 fases of Dan Wells se 7-punt plotstruktuur om jou met die proses te help.
Gustav Freitag se uiteensetting van plot in 5 fases
- Eksposisie: Die leser leer die karakters sowel as die kernverhaallyn ken.
- Toenemende konflik/aksie: Hierdie het met die ontwikkeling van die verhaal te doen en behels daarom die grootste deel van die verhaal. Daar is eskalerende gebeure wat op die klimaks afstuur.
- Klimaks: Die speurder ontdek wie die moordenaar is (krimi’s), romantiese karakters vind mekaar, epiese gevegte vind plaas (byvoorbeeld in die uiters gewilde Marvel films), ens. Hierdie is die hoogtepunt van die verhaal en alle gebeure werk mee ten einde die klimaks te bewerkstellig. Die klimaks vind gevolglik min of meer aan die einde van die verhaal plaas.
- Afloop: Die afloop vind na die klimaks plaas. Die effek wat die klimaks op die karakters het, word weergegee.
- Ontknoping/resolusie: Alle los drade word finaal uitmekaargetrek en dan geknoop.
Dan Wells se 7-punt plotstruktuur
Plotpunte dui die rigting vir jou basiese plotstruktuur aan. ‘n Groot aantal verhale maak van die volgende basiese plotpunte gebruik.
- ‘n Hoek: Hiermee haak jy letterlik jou leser (jip, dink aan hengel!). Via die hoek stel jy die leser aan die fassinerende wêreld of karakters in die verhaal bekend. Die hoek dui op ‘n belangrike gebeurtenis, gewoonlik in die eerste hoofstuk, wat die leser haak en inkatrol. Die hoek is die katalisator vir gebeure. Dit veroorsaak ‘n omwenteling in jou protagonis se lewe en noop hom/haar om besluite te neem en daarvolgens te reageer.
- Die eerste plotpunt: ‘n Mens vind die eerste plotpunt min of meer na die eerste derde van die storie. Konflik is onvermydelik (en konflik stuur stories). Hierdie is dan die begin van die avontuur wat die protagonis betree. Na afloop van die eerste plotpunt is daar vir die protagonis geen omdraaikans meer nie.
- Die eerste kryppunt vind na afloop van die eerste plotpunt plaas — en as gevolg van die druk wat die protagonis weens die omwenteling in sy/haar lewe ervaar. Die antagonis (of hoofkonflik) word bekendgestel wat weer tot verhoogde risiko lei. Hierdie eerste knyppunt dwing die karakter om ‘n besluit te neem, maar hierdie besluit het gevolge waarmee die protagonis dwarsdeur die verhaal sal moet saamleef.
- Die middelpunt is die moment waartydens die protagonis besluit om te handel in ooreenstemming met die besluit wat hy/sy geneem het. Hy/sy beweeg van reaksie na aksie, van verdediging na aanval. Soos wat die naam van hierdie plotpunt aandui, vind dit min of meer in die middel van ‘n storie plaas. ‘n Protagonis sal tydens die middelpunt dikwels op ‘n nuwe doelwit besluit as gevolg van die uitdagende handelinge van die antagonis of in ooreenstemming met ‘n moontlike oplossing vir die probleem.
- Die tweede (finale) knyppunt word nader aan die einde van die storie gevind en die protagonis ervaar verdere druk as gevolg van die oorkoepelende konflik. Dit kan verteenwoordig word deur ‘n geveg met die antagonis — of verdere verhoogde risiko! Hierdie is die protagonis se donkerste uur. Hy/sy is tussen die vloer en die politoer en dit lyk asof daar geen hoop is nie.
- Tydens plotpunt 2 beweeg die storie van die middelpunt na die ontknoping. Die karakter besef dat hy/sy moontlik oor genoeg inligting beskik om sy/haar doelwit te bereik.
- Die ontknoping/resolusie van ‘n verhaal is die deel van die intrige waartydens die grootste probleem opgelos word. Die protagonis neem ‘n besluit wat ‘n belangrike aspek van sy/haar karakter onthul en wat die narratief suksesvol afsluit, m.a.w. die karakter slaag (of faal) in sy/haar doelwit.
Dan Wells se 7-punt plotstruktuur
Bostaande is soortgelyk aan die struktuur van die drie bedrywe wat ‘n mens in ‘n toneelstuk of film vind. So ‘n storie bestaan basies uit drie dele (‘n begin, middel en einde) en die plotpunte word daarvolgens beplan.
In die volgende blogplasing sal ek my 2021 goue Sanlam-pryswenner, Spel, aan die hand van Dan Wells se 7-punt plotstruktuur analiseer. ‘n Praktiese analise mag jou moontlik tydens jou eie skryfproses help.
Die uiteensetting van plot
Dit maak nie saak op watter teorie/model jy besluit nie. Indien jy jou plot deeglik beplan en uiteensit, kan dit jou help om ‘n blote storie-idee in ‘n opwindende verhaal te omskep. Al wat jy benodig is ‘n protagonis en ‘n interessante milieu.
Lekker skryf!