5 Tegnieke: boeiende stories!

Eienskappe van jeugliteratuur: Spel
5 Tegnieke: boeiende stories!
Skryfwenke: wat beteken tema?

5 Tegnieke: boeiende stories!

Soms voel dit dalk asof jou storie nie vlot wil verloop nie. Daar is 5 tegnieke wat jy kan aanwend om jou storie interessanter te maak.

 

5 Tegnieke: boeiende stories!

1. Aksie as fondament vir die narratief

‘n Mens dink dikwels ‘n goeie storie moet interessante, vloeiende sinne en pragtige woorde hê. Die gevaar is dat ‘n mens in ellelange beskrywings kan vasval wat niks tot die storie bydra nie. Wanneer jou storie die moment waarin dit afspeel, vasvang, bereik jy veel meer.

 

Hoe doen jy dit?

Wanneer jy lus is om iets te beskryf, dink aan ‘n manier om dit via ‘n handeling te beskryf, m.a.w.  WYS, MOENIE VERTEL NIE.

 

Hoe doen ‘n mens dit prakties?

Vertel:

Martin kry koud. Hy dra ‘n groen serp en ‘n parka.

Wys:

Martin vryf sy hande teen mekaar. Toe hy oor die straat stap, draai hy sy serp stywer om sy nek en trek die parka se kappie oor sy kop.

 

Hierdie is ‘n praktiese voorbeeld om die goue reël betreffende wys, vs. vertel te illustreer.

2. Gebruik die bedrywende vorm

Vermy die lydende vorm (passief) en gebruik die bedrywende vorm (aktief).

 

Lydende vorm: Ek is seergemaak deur sy opmerking.

Bedrywende vorm: Sy opmerking maak my seer.

 

Wanneer jy in die lydende vorm skryf, benodig jy meer woorde om dieselfde te sê. Dit skep ook ‘n onnatuurlike afstand tussen die karakters en die handeling.

 

3. Aktiveer jou sintuie

Lesers is daaraan gewoond om te lees hoe iets lyk of klink, maar ‘n mens kan diepte skep deur van die ander sintuie ook gebruik te maak. Hoe ruik dit by die straatmark? Wat proe jy daar en hoe voel die teksture onder jou vingers?

4. Perspektief

Kies ‘n unieke perspektief. In ‘n toneel tussen ‘n gevangene en ‘n tronkbewaarder, beskryf jy die toneel vanuit die gevangene of the tronkbewaarder se perspektief?

Gevangene:

Tom Jones se hande span styf toe die koue metaal van die boeie om sy gewrigte klamp. Sy nekhare rys. Hy voel die oë op sy rug. Die vraag is: aan wie behoort dit? Vriend of vyand?

Tronkbewaarder:

Martin Steenberg slaan die boeie om die nuwe gevangene se gewrigte. Hy haal deur sy mond asem. Weet hierdie bandiet ooit hoe ‘n stort lyk? Bloot net omdat die superintendent die nuwe bandiet wil sien, moet hy hierdie sel — waar selfs runderpes met rubberstewels loop — trotseer.

Beide voorbeelde beskryf hoe ‘n gevangene geboei word, maar elke keer vanuit ‘n heel ander perspektief.

Daar is verskillende maniere waarop jy perspektief uniek kan maak:

  • Misterie

‘n Misterieuse karakter is ‘n karakter wat die leser nie heeltemal kan deurgrond nie. Dink aan The Great Gatsby. Indien Gatsby self (i.p.v. Carraway) die verteller was, was hy as karakter minder misterieus.

  • Deur die oë van die fokaliseerder

Wanneer jou leser ‘n nuwe en onbekende wêreld (byvoorbeeld fantasie, of wetenskapsfiksie, soos Spel) deur die oë van die fokaliseerder beleef, ontdek jou leser hierdie nuwe wêreld stelselmatig en sal die eksposisie die leser boei.

  • Gooi lesers aan die diep kant in

Goeie skryfwerk maak dinge nie noodwendig altyd maklik vir die leser nie. Soms bring ‘n fokaliseerder wat die binnekringe verstaan ‘n interessante perspektief. Dink byvoorbeeld aan ‘n karakter wat deel is van ‘n geheime organisasie en die binnewerking hiervan verstaan.

  • Kontras

‘n Kontrasterende karakter (foil character) verskaf dikwels ‘n interessante perspektief omdat hierdie tipe karakter sekere karaktereienskappe van die protagonis belig. Die eienskappe van die kontrasterende karakter word gebruik om dié van die protagonis mee te belig. Gewoonlik het die twee karakters heeltemal verskillende waardestelsels, wat ‘n bron van konflik is.

5. Kort tydraamwerk

Enige skrywer vrees ‘n storie wat uitrafel en momentum verloor. Daar is egter maniere om dit te verhoed. Een van my persoonlike gunstelinge kom uit die draaiboekwêreld en staan bekend as in media res, oftewel arriveer laat en waai vroeg. Die ander belangrike tegniek om te oorweeg, is Hemingway se ysberg-teorie.

Arriveer laat?

Wanneer jou storie in die middel van die gebeure begin, het jy die leser se aandag. Daar is geen lang, vervelige inleiding en verduideliking nie en die eksposisie word deel van die stygende aksie.

Waai vroeg?

Moenie die einde van die toneel holrug ry nie. Los die leser met ‘n vraag of twee wat later beantwoord word. Sodoende hou jy jou leser se aandag.

Let wel: literêre fiksie wat op atmosfeer fokus, sal nie by hierdie tegniek baat nie.

Die ysberg-teorie?

Met ‘n ysberg kan ‘n mens slegs die deel bokant die water sien. Jy weet egter van die deel onder die water, selfs al kan jy dit nie sien nie. Skrywers moet hulle karakters se hele agtergrond ken, maar moenie die leser daarmee bombardeer nie. Sekere dinge word gesuggereer of geïmpliseer (die deel onder die water) en wanneer jy inligting bietjies-bietjies aan jou leser bekendmaak, hou jy die leser se aandag.

Voorbeeld: In Sindikaat weet die leser dat Paul Rudman op onwettige goedere afgekom het. Wat presies hierdie smokkelgoed behels, word (met rede) eers aan die einde van die boek bekendgemaak.

5 Tegnieke: boeiende stories! Lekker skryf!

Vir wie skryf jy?
Wenke: die skryf van kortverhale
Annerle Barnard