4 Skryfwenke vir jou (5)
Ek herinner myself voortdurend aan sekere skryfwenke. Die feit van die saak is: skryf is ‘n werkwoord.
Dit verg inspanning en kom nie sommer vanself nie, maar almal wat die alfabet ken, reken dis maklik om ‘n storie te skryf.
Troos jouself daaraan, hierdie gebeur nie slegs met skrywers nie. Veral die rugby refs en afrigters in Suid-Afrika kry advies en kritiek van alle kante af.
Die Belge het Brussels onlangs aan die brand gesteek toe hulle sokkerspan verloor het. (Ek is glad nie daarvan oortuig dat hulle enigiets positief daarmee bereik het nie, maar dis ‘n argument vir ‘n ander dag.)
Ek het onlangs gestaan en luister hoe iemand wat nooit enige sport gedoen het nie vir ‘n atleet vertel het hoe hy moet oefen — en dit terwyl die atleet onder leiding van ‘n afrigter en biokinetikus oefen. Wanneer ‘n mens nie self aan die ontvangkant is nie, is dit nogal lagwekkend.
Eintlik maak dit nie saak wat jy skryf en hoe goed jy skryf nie, kritiek gaan daar altyd wees. (Hoeveel mense ken jy wat van Shakespeare hou? Ek dink ek ken drie, myself ingesluit.) Hou moed en gaan voort.
4 Skryfwenke vir jou (5)
- Lees soveel as moontlik
Lees veral in die genre waarin jy graag skryf, maar moet jouself nie beperk nie.
Die lewe neem soms vreemde draaie met ‘n mens. Ek het nooit gedink ek sou jeugfiksie skryf nie. My idee was eintlik om krimi’s (misdaadfiksie) te skryf.
Gevolglik glo ek jeugfiksie het my gekies en nie andersom nie. Benewens jeugfiksie, lees ek ook graag misdaadfiksie, literêre fiksie en deesdae selfs romanse.
- Analiseer stories
Wanneer jy fliek kyk en lees, analiseer die stories waarvan jy hou. Kyk wat vir jou werk en wat nie — en vra jouself hoekom.
Ek kyk graag na die plotwendings, karakters en die tipes konflik. Identifiseer die plotpunte. Die lekkerste is om die uiteinde te probeer voorspel. As skrywer kyk ‘n mens met ander oë na ‘n storie en wanneer die uiteinde my verbaas en dit goed gedoen is, is ek sommer ekstra opgewonde oor die storie.
‘n Ruk gelede het ek na die mini-reeks Black Bird gekyk. Ek het die uiteinde so min of meer verwag, maar hoe die storie by die uiteinde uitgekom het, het my verbaas. My verwagting was geheel en al anders. (Die interessante is dat die storie op die werklikheid gebaseer is.)
Ook het ek na die jeug-reeks Wednesday op Netflix gekyk. Dis blykbaar gebaseer op die Addams family. Ek moet bieg dat ek voorheen van die Addams family net mooi niks geweet het nie. Die lekker was om saam met Wednesday te probeer bepaal wie die vark in die feëverhaal is. Ek was mal oor die karakters, veral Wednesday s’n. En dan was die oorsprong van haar naam besonder interessant. Een van die episodes was getiteld Friend or woe, in plaas van ‘friend or foe’, maar die woord ‘woe’ sluit aan by die oorsprong van haar naam. Briljante woordspel hier, dink ek.
- Sperdatum
Selfs al is jy ‘n aspirantskrywer sonder enige sperdatums vanaf ‘n uitgewer, besluit op ‘n sperdarum vir jou kortverhaal of roman of radiodrama of wat ook al dit is wat jy skryf.
Wanneer ‘n mens nie ‘n sperdatum het nie, dryf jy rond en bereik niks nie. Die groot gevaar dan is dat jy jou skryfwerk gaan uitstel. Soos my pa altyd gesê het: “Van uitstel, kom afstel.” Jy hoef nie ‘n spesifieke dag en uur in gedagte te hê nie, maar besluit teen watter maand jy dit wil klaar hê. ‘n Heel eerste skryfstuk gaan jou veel langer neem as die twintigste een, want met ‘n eerste een probeer ‘n mens nog jou voete vind.
Indien jy wil, gaan kyk hoeveel woorde beroemde skrywers per dag skryf. Sommige 2000 woorde en ander 500. Ek het onlangs gehoor dat Roald Dahl se mikpunt vir die dag 400 woorde was.
Die tipe skryfstuk wat jy aanpak, sal die lengte daarvan bepaal. Die lengte van ‘n jeugroman hang af van die ouderdom waarvoor jy skryf. Die genre het ook ‘n invloed. Fantasie is byvoorbeeld normaalweg langer as ander genres. Volwasse fiksie het weer ander riglyne.
Ek het al gehoor van mense wat ‘n boek van 75 000 woorde per maand (maand na maand) skryf. Die kwaliteit daarvan? Ek kan nie kommentaar lewer nie. Ek het nog nooit so ‘n boek gelees nie.
Skryf, selfs al is jy nie gemotiveerd nie. ‘n Mens kan ‘n bladsy vol gemors redigeer, maar nie ‘n leë bladsy nie.
- Navorsing
Moenie toelaat dat navorsing jou insluk nie. Indien jy my tipe geaardheid het, gaan die navorsing jou maklik wegvoer. Dit word dan lekker om jouself besig te hou en te kyk wat iemand anders geskryf het eerder as om self woorde op papier te kry. In Engels noem ‘n mens dit ‘procrastination’. Jy bereik niks nie, jy is bloot besig met self-gemotiveerde uitstel. Uiteindelik vorm dit deel van skrywersblok. Hoe kom ‘n mens daarvan los?
Herinner jouself: jy hoef nie vir studente klas te gee oor die tema nie. Jy moet slegs ‘n storie geloofwaardig kan skryf.
Indien die tema wat jy aanpak enige navorsing vereis, maak seker jy doen dit deeglik. Indien jy ‘n boek skryf waarin een van die karakters ‘n bokser is en ‘n bokser lees die storie, moet dit geloofwaardig klink.
‘n Tyd gelede het ek ‘n storie oor ‘n reeksmoordenaar gelees. Ek het egter ook al heelwat nie-fiksie materiaal deur profileerders en sielkundiges gelees. Die ingeligtes meen dat reeksmoorde altyd seksueel van aard is, maar ek kon sien dat hierdie speifieke skrywer dit óf nie geweet het nie óf dit nie wou weet nie.
Met die skryf van Sweepslag, Sindikaat en Spel moes ek heelwat navorsing doen. Die kuns was om dit nie na navorsing te laat klink nie. Moenie jou leser onder feite begrawe nie.
4 Skryfwenke vir jou (5)
Mag die wenke vir jou van waarde wees. Lekker skryf!