4 Skryfwenke vir jou (4)

Annerle Barnard
Annerle Barnard
4 Skryfwenke vir jou (5)

4 Skryfwenke vir jou (4)

Die lekker van skryfwenke is dat dit jou kan help om jou eie skryfwerk te verbeter. Meer as een persoon het al vir my gesê dat hulle nog nooit van “perspektief” gehoor het nie. ‘n Ander persoon het gesê dat die begrip anti-held heeltemal vreemd is.

‘n Aantal mense het al vir my gesê dat hulle eie lewensverhale ongelooflik interessant is. Ek glo jou, maar as jy nie beroemd is nie, gaan mense nie belangstel nie. Dis jammer, maar waar.

Selfs al skryf jy nie-fiksie, moet dit boeiend wees. (Let wel: Ek verwys hier nie na akademiese tekste en handboeke nie.)

Indien jy jou eie skryfwerk wil opkikker of net seker wil maak dat jy niks uit die oog verloor nie, hier volg nog ‘n aantal skryfwenke.

4 Skryfwenke vir jou (4)

  1. Lees jou dialoog hardop voor

Die baie bekende P.G. du Plessis het vertel dat hy sy skryfwerk altyd hardop gelees het om seker te maak dat dit werk. Ek moet eerlike bieg dat ek vir lank nie bewus was van oorlede P.G. se ongelooflike talent nie. Sy roman, Fees van die Ongenooides, het my oë oopgemaak soos wat ‘n beker yswater nie kan nie. Indien jy dit nog nie gelees het nie, dit is ‘n móét.

Wanneer jy jou dialoog hardop voorlees, sal dit jou help om lywige sinne te heroorweeg en seker te maak dat die dialoog getrou klink aan die karakters.

  1. Kort en kragtige prosa

Literêre fiksie is iets heeltemal anders en ek gaan dit nie hier bespreek nie. Wanneer jy egter genrefiksie skryf (dit sluit romanse in), fokus op sterk werkwoorde en vermy/beperk werkwoorde anders gaan jou teks melodramaties klink.

  • Wat is ‘n bywoord (adverb)?

Die rooi Ferrari ry vinnig in die straat.

Ry is ‘n werkwoord in die bostaande sin en die bywoord beskryf die werkwoord, dus is vinnig ‘n bywoord.

Hoe kan ek dit herskryf en die bywoord (vinnig) uitlaat?

Gebruik ‘n sterker werkwoord as ry: Die rooi Ferrari jaag.

  • Jy kan “in die straat” ook uitlaat, want voertuie ry gewoonlik in ‘n straat. Dit is dus ‘n vermorsing van ink op papier. Indien die Ferrari elders ry — op water of om ‘n renbaan — kan jy dit vermeld indien die leser dit nog nie weet nie. Die leser moet immers weet hoe die milieu (omgewing waarin die storie afspeel) lyk.

Moenie jou storie met bywoorde en byvoeglike naamwoorde verdun nie.

Jy glo my nie dat bywoorde en byvoeglike naamwoorde ‘n teks melodramaties kan laat klink nie?

Marelise knip haar oë vinnig voordat hulle weer versigtig en gretig oor die hoekige lyne van Gerhard se sterk kakebeen spring. Met haar asem gespanne ingetrek, stap sy stadig deur die pragtig gemeubileerde kothuisie. Sy weet hy staan agter haar: ‘n lang, gespierde gestalte met weerlig in sy swart oë en ‘n melodieuse, diep stem wat die hordes senuweepunte in haar lyf kiertsregop laat staan.

  1. Fokus

Ek kan glad nie skryf wanneer mense oor my skouer kyk nie. Ook sukkel ek wanneer ek voortdurend onderbreek word.

Ek het moes leer om oproepe en Whatsapps te ignoreer wanneer ek moet konsentreer. (Ek reageer slegs indien dit vanaf my man of seuns is.)

Selfs wanneer ek lees, ignoreer ek sosiale media, want dit steel my leestyd en ‘n mens kan nie skryf as jy nie lees nie. Ek ignoreer dus ook sosiale media wanneer ek skryf en probeer eerder daarby uitkom wanneer ek iewers sit en wag (voor die skool, in die tandarts se spreekkamer, ens.)

Die beroemde skrywer van die Jack Reacher-reeks, Lee Child, het tydens ‘  onderhoud gesê dat hy op ‘n rekenaar werk wat nie met die internet verbind is nie. Besluit self wat vir jou werk en hou daarby.

  1. Werk selfs wanneer dit voel of jy niks reg doen nie

‘n Aantal skrywers het al vir my gesê dat dit soms vir hulle voel asof hulle niks reg doen nie. Ek voel ook soms so. In sulke tye moet jy juis aanhou en daardeur werk, anders gaan jy ‘n muur tref. Die slim mense sê as jy van ‘n perd afval, moet jy dadelik weer opklim. Dieselfde met skryf.

Einstein het gesê dat iemand wat nog nooit ‘n fout gemaak het nie, nog nooit iets nuuts probeer het nie.

Hiermee stem ek heelhartig saam. As ‘n mens nie uit jou foute kan leer nie, waaruit moet jy dan leer?

Eenkeer toe ek op moedverloor se vlakte gestrand was, het ek iemand gevra wat om te doen en die persoon het vir my gesê om nog ‘n karakter by die storie in te trek. Dit het gewerk.

Tydens die skryf van Spel moes ek ‘n futuristiese wapen ‘ontwerp’ en ek het nie geweet hoe nie. Ek was vir vier dae heeltemal verlore en die Internet het my nie die antwoorde gegee wat ek wou hê nie. Uiteindelik het ek ‘n kenner gebel en een oproep het na ‘n ander gelei. Voila! Die uiteindelike wapen verskyn op bl. 234 in Spel.

Wanneer jy sukkel, oorweeg die volgende:

  • Kyk na jou aanvanlike notas asook jou beplanning.
  • Raadpleeg jou navorsing of doen addisionele navorsing.
  • Oorweeg dit om nog ‘n karakter te betrek of neem een weg.
  • Skep konflik.
  • Gooi meer hekkies in jou protagonis se pad. (Raise the stakes.)
  • Lees op oor skryftegnieke.
  • Gaan stap of lees of rus vir ‘n dag of twee.
  • Indien jy steeds sukkel, kyk asb. na my blogplasing oor skrywersblok.

4 Skryfwenke vir jou (4)

Lekker skryf. 

Waarom skryf jy?
Skryfwenke: wys en vertel
Funksie: karakterontwikkeling in stories