Waarom skryf jy?

Waarom skryf jy?
Annerle Barnard
Annerle Barnard

Waarom skryf jy?

Skryf is nie maklik nie. Nie vir my nie, in elk geval.

Hoekom skryf ek?

Omdat ek ‘n storie het om te vertel, maar ook omdat ek van die uitdaging hou.

Indien jy slegs skryf om ryk en beroemd te word, sterkte!

Destyds, voordat ek vir ‘n slypskool ingeskryf het, het ek die boek Why We Write gelees waarin 20 bekende skrywers vertel hoe en waarom hulle skryf.

David Baldacci en tronke

Die bekende misdaadfiksieskrywer, David Baldacci was eens ‘n prokureur en het bedags sy beroep beoefen en tot laat saans geskryf. Al wat hy aanvanklik vir sy moeite kon wys, was afkeuring.

Alle Baldacci-aangangers weet dat Baldacci vandag uiters suksesvol is. Baldacci meen as skryf onwettig was, sou hy in die tronk gewees het. Dis vir hom onmoontlik om nie te skryf nie. Wanneer dit met sy skryfwerk vlot verloop, is dit soos ‘n dwelm, maar die teendeel gebeur ook — en dit is juis my punt.

Waarom skryf jy?

Skryf is ‘n werkwoord en indien dit vir jou sonder enige moeite gebeur, is ek bly. Van my verg dit egter ysere selfdissipline en harde werk. Ek is gelukkig selfgemotiveerd en ek voel nogal soos Baldacci — dankbaar dat skryf nie onwettig is nie — maar dit beteken nie dat ek nooit sukkel nie. Daar is dae wat ek wens ek die hele dag kon lees, of slaap, maar kleintyd het ek geleer dat ledigheid die duiwel se oorkussing is en daarom is ek altyd besig om aan iets te werk.

“Gaan jy weer ‘n nuwe boek begin? Of is jy nou eers klaar?” vra mense my dikwels. Ek moet bieg dat dit my eindeloos grief. In antwoord wil ek graag die volgende vra: “Meneer die prokureur, gaan jy enigsins nog ‘n kliënt sien, of is jy nou eers klaar?” Of sê: “Nee, noudat ek bloed gesweet het om ‘n boek geskryf en gepubliseer te kry, gaan ek ophou en my tone tel.” Ongelukkig is ek te ordentlik, maar dit is ‘n vreeslike dom vraag.

Dit maak nie regtig saak of ‘n mens skryf as ‘n beroep of stokperdjie bedryf nie, as jy eers begin het, is dit amper onmoontlik om op te hou. My oudste seun bind graag vlieë (vlieghengel). Sodra hy die geleentheid en materiaal het, begin hy vlieë bind. Gaan hy ooit ophou? Dalk wanneer sy oë op ‘n hoë ouderdom ingee.

Waarom skryf ek?

Ek skryf omdat dit onmoontlik is om nie te skryf nie. Stories is my lewe. Ek skryf, want ek het ‘n storie om te vertel en ek geniet die kognitiewe uitdaging. Verder is skryf en lees my “sanity”.

Ek dink die moeilikste boek wat ek nog geskryf het, was Spel.Ek het so gestoei dat ek in ‘n stadium lus was om die “delete” knoppie te druk. Sweepslag was ook moeilik omdat dit my debuutroman was en ek onseker was oor baie dinge. Sindikaat het moontlik die lekkerste geskryf.

Jodi Picoult en orkane

In Why we Write noem Jodi Picoult dat dit vir haar — nes Baldacci — onmoontlik is om nie te skryf nie. Vir haar voel skryf soms soos ‘n fietsrit teen ‘n afdraende, met die wind van agter — en ander kere soos ‘n worsteling deur dik modder nadat ‘n orkaan ‘n plek getref het.

Al wat ek by jou probeer tuisbring is dat selfs al is ‘n mens verslaaf aan skryf, voel geen skrywer altyd gemotiveerd nie en is dit vir baie op sekere tye moeiliker as ander. Tydens ‘n onderhoud het ‘n bekende Afrikaanse skrywer eendag genoem dat die proses om haar boek (absoluut puik, moet ek sê) te kry soos wat die uitgewer dit wou hê, was soos om bakstene te baar.

Waar is die laaste "do"?

Vra jouself af waarom jy skryf? Wanneer jy minder gemotiveerd is, het jy ‘n manier om jouself weer aan die gang te kry?

Ek het eenkeer gelees dat Mozart soggens nie wou opstaan nie. Een van sy familielede het dan op die klavier “do, re, me fa, so , la, ti” gespeel, maar nie die laaste “do” nie. Dit het hom so geirriteer dat hy uit die bed gespring het om die laaste “do” te gaan druk en dan het hy sommer begin werk omdat hy reeds uit die bed uit was.

Ook het ek gelees van ‘n skrywer wat saans wanneer hy ophou skryf, sy laaste sin net halfpad voltooi sodat dit hom dwing om die sin die volgende dag te gaan voltooi en dan skryf hy outomaties verder.

Ek is nie ‘n ‘plotter’ nie, maar voordat ek my rekenaar afskakel, maak ek vir my ‘n nota oor wat moet volg sodat ek die volgende dag dadelik weet waarop ek wil fokus. Dit voel vir my dan of die berg effens platter is.

Waarom skryf jy?

Indien jy enige advies het, deel dit asseblief met ons.

Lekker skryf.

Annerle Barnard
Waarom skryf jy?
Annerle Barnard