Vir wie skryf jy?

Vir wie skryf jy?
4 Skryfwenke vir jou (2)
Eienskappe van jeugliteratuur: Spel

Vir wie skryf jy?

Ten eerste skryf jy vir jouself en daarom moet jy skryf wat jyself graag sal wil lees, maar wanneer jy ‘n manuskrip aanpak met die hoop om dit te publiseer, moet ‘n mens besef dat jy vir ‘n teikenmark/-gehoor skryf.

‘n Uitgewer is per slot van rekening ‘n besigheid en sal daarom slegs ‘n boek uitgee indien hulle reken dat daar ‘n aanvraag na hierdie spesifieke boek sal wees.

Ken jou teikenmark

Om hierdie rede is dit belangrik om jou teikenmark te verstaan en te weet wat die teikenmark graag lees. Vele volwassenes is mal oor Jane Austen se boeke. Beteken dit dat die gemiddelde tiener daarvan gaan hou?

Die heel beste raad wat ek enigiemand kan gee: lees so veel as moontlik in die genre waarin jy wil skryf. Indien jy nie hou van die gewilde boeke wat vir daardie teikenmark geskryf word nie, moet jy moontlik ‘n ander teikengehoor oorweeg.

Vir wie skryf jy?

Selfs al reken jy dat alle volwassenes meer Shakespeare behoort te lees en dat sy dramas daarom opnuut bemark behoort te word, beteken dit nie dat jou poging gaan slaag nie. As die lesers nie aan die idee byt nie …

Vir wie skryf jy?

Ten eerste moet jy besluit watter genre vir jóú gaan werk. Daarna moet jy besluit vir watter ouderdom jy wil skryf. Wanneer jy eersgenoemde weet, moet jy uitvind waarin jou teikengehoor belangstel. Onthou, die geografiese en ekononomie sal ook ‘n invloed op jou teikenmark hê.

Indien jy wonder oor als wat ek sê, dink aan films. Watter tipe- en ouderdom gehoor sal deur die volgende films getrek word?

Vra jouself nou weer af: vir wie skryf jy?

Iemand wat slegs van kunsfilms hou, sal moontlik nie lus wees vir ‘n Marvel-film nie en die gemiddelde 13-jarige seun gaan beslis nie hou van Much Ado about Nothing nie. Die groter meerderheid 13-jarige seuns sal hou van Fast & Furious, Percy Jackson, Avengers: Endgame en moontlik ook Star Wars.

Is jy in voeling met jou teikengehoor?

Die beste manier om jou teikengehoor te bepaal, is om te kyk na die films wat hulle aandag trek en ook na die boeke wat hulle lees. Weereens: wat is die belangstelling van die groter aantal persone? Daar is 13-jariges wat van Much Ado about Nothing sal hou, maar die groter hoeveelheid? Beslis nie.

Vir wie skryf jy?

My teikengehoor is tieners. Ek het ‘n goeie begrip wat vir tieners belangrik is, waarvan hulle hou en waarmee hulle stoei. Hulle taalgebruik is ook baie interessant. Benewens sleng, het jy al opgelet dat ‘n tiener jou in een asem op tien verskillende maniere kan vertel presies hoe onnosel jy nou eintlik is? Volwassenes noem ‘n ding een maal. Tieners herhaal goed op verskillende wyses.

Ten tye van die skryf van Sweepslag en Sindikaat moes ek voortdurend oplet na tieners se gedrag, kleredrag, taalgebruik, belangstellings, ens.

Spel het sy eie uitdagings gehad, want Lukas Brandt is nie die gemiddelde tiener nie. Sy gedrag moes grotendeels ooreenstem met die van ‘n tiener, maar nie sy taalgebruik en kleredrag nie. JJ se taalgebruik moes tipies tiener wees, maar Jolene het by robotte grootgeword. Haar taalgebruik stem dus nie ooreen met Lukas s’n nie en ook nie met JJ s’n nie.

Ek het vanaf die uitgangspunt gewerk dat robotte nie figuurlike taalgebruik sal kan interpreteer nie, daarom maak Jolene nie daarvan gebruik nie. Lukas het hoofsaaklik tussen volwassenes grootgeword en daarom stem sy taalgebruik ooreen met die van volwassenes. JJ het in ‘n futuristiese krotbuurt grootgeword en sy taalgebruik moes by sy karakter pas.

Ek moes ook baie nadink oor die kleredrag en haarstyl van elke karakter.

Is dit maklik om vir tieners en kinders te skryf? Probeer self en laat weet my.

Vir wie skryf jy?

Wanneer jy skryf, dink aan die volgende:

  1. Woordeskat: is jou woordeskat in lyn met die van jou teikengehoor?
  2. Karakters: sal jou teikengehoor met jou karakters kan identifiseer?
  3. Temas: is die temas wat jy aanraak in lyn met die van jou teikengehoor?
  4. Tempo: is die tempo/pas waarteen jou storie beweeg in lyn met die van jou teikengehoor?
  5. Kompleksiteit: Tess Gerritsen is ‘n mediese dokter. Hoe skryf sy haar krimi’s sodat Jan Publiek dit steeds kan verstaan?
  6. Skryfstyl: Gaan almal aanklank by Franz Kafka se stem, narratief en beeldspraak vind? (Ek eet my tekkies met sole en al indien dit die geval blyk te wees. Hy was egter ‘n uitmuntende skrywer!) Indien jou teikengehoor nie by jou skryfstyl aanklank vind nie, beteken dit nie noodwendig dat daar fout is met jou skryfstyl nie. Dit beteken moontlik dat jy jou teikengehoor verkeerd geïdentifiseer het.
  7. Inhoud: is die inhoud van jou boek geskik vir jou teikengehoor? Indien iemand my gevra het of tieners oor vampiere sou wou lees, sou ek gedink het dat dit gek is, maar kyk net hoe gewild is Stephenie Meyer se Twilight-reeks. Kyk waarvan hou jou teikenmark! Wat lees hulle? Na watter films kyk hulle? Sal sekstonele en vloekwoorde in boeke geskik wees vir ouderdom nege tot twaalf? Nee.

Vir wie skryf jy?

Gaan doen jou navorsing.

 

Lekker skryf!

Vir wie skryf jy?
Eienskappe van jeugliteratuur: Spel
Hoe werk genres?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *