Verhale: uiteensetting van plot (2)
In die vorige blogplasing het ek na na Dan Wells se 7-punt plotstruktuur verwys. Hoe gebruik ‘n mens dit prakties gesproke om ‘n opwindende storie te skep?
Verhale: hoe lyk plotstruktuur
- Kies plotpunte wat jou karakter se dryfveer en behoefte sal openbaar. Wat wil jou karakter hê en waarom? Die beste plotpunte stuur die storie en dien as motivering vir die besluite wat die karakter neem.
- Maak seker dat daar vir jou protagonis geen omdraaikans is nie. Die plotpunte in jou verhaal moet jou karakter in ‘n nuwe (dikwels) onvoorsiene rigting stuur.
- Die plasing van die plotpunte in ‘n storie is belangrik. Wanneer jy ‘n plotpunt naby die einde van ‘n hoofstuk plaas, maak dit dat die leser nie anders kan as om die volgende hoofstuk ook te wil lees nie. Sodoende skep jy ‘n naelbyter.
- Trek ‘n tydlyn waarop jy jou plotpunte aanteken: Dit mag jou help om tydens jou beplanning ‘n tydlyn op te stel waarop jy die onderskeie plotpunte aandui. Sodoende maak jy seker dat jou verhaal van die begin af interessant sal wees en nie in die middel in die hek sal duik nie.
Verhale: uiteensetting van plot (2) — en die aanwending van plotpunte in jou storie
Daar is ‘n paar maniere waarop jy tydens die skryfproses die plotpunte in jou verhaal kan beplan — dis nou indien jy iemand is wat die plot vooraf haarfyn beplan. “Plotters” het hier definitef ‘n voordeel bo “pantsers” (flying by the seat of your pants). Ek is deel van laasgenoemde, moet ek bieg.
Wanneer ‘n mens ‘n storie aan die hand van genoemde plotpunte analiseer, is dit dalk makliker om te verstaan. Ek gaan die onderskeie plotpunte dus daarom aan die hand van my 2021 goue Sanlam-pryswenner, Spel, uiteensit.
- Hoek: Lukas Brandt (die protagonis) woon op ‘n stuk grond in Bainsvlei buitekant Bloemfontein. In die eerste paragraaf reeds is hy en sy vriend, Dimpho, in ‘n geveg met ‘n kuborg betrokke. Hy, Dimpho en die se ouers voer ‘n DIY-bestaan. Hulle sintropiese bestaansboerdery genereer vir hulle genoeg om van te leef, maar die wêreld waarin hulle leef, is hulle nie goedgesind nie.
- Plotpunt 1: Lukas se broer woon (tydelik) by sy oom-hulle naby Gariepstad en omdat sy ouers dood (vermoor) is en die wêreld naby Gariepstad warm raak vir alle mense, weet Lukas hy moet sy jonger broer, Daniël, gaan haal.
- Knyppunt 1: Dakian (‘n transterraanheerser en diktator) wil iets van Lukas hê en martel daarom sy bure en laat skryf Lukas se naam teen die naglug om hom uit te lok.
- Middelpunt: Lukas se broer, Daniël, word ontvoer. Na aanleiding van die boodskap wat Lukas van Daniël via die donkerweb ontvang, besef dat hy dat daar fout is en dat hy ten spyte van die dreigende gevaar na sy broer sal moet gaan soek.
- Knyppunt 2: Lukas ontdek dat Daniël in Gariepstad gevange gehou word, waar hy weet ‘n kuborg, Julius, hom inwag. Hy het geen idee hoe hy sy broer gaan opspoor en of sy oom-hulle enigsins nog lewe nie.
- Plotpunt 2: Lukas (en sy vriende) word gevange geneem. Hy ontdek dat een van sy vriende hom verraai het. Hy val in ‘n gat, maar besef dan dat uitkoms miskien tog moontlik is.
(In Spel is daar egter nog ‘n plotwending en gevolglik ‘n verdere krisis en klimaks.)
- Resolusie: Alle los drade word ontrafel en geknoop.
Verhale: uiteensetting van plot (2)
‘n Mens kan vele verhale (boeke en films) na aanleiding van Dan Wells se 7-punt plotstruktuur analiseer, byvoorbeeld The Hunger Games, Harry Potter, Star Trek en vele meer.
Gustav Freitag vs. Dan Wells
Dit maak nie saak of jy besluit om Gustav Freitag se uiteensetting van plot in 5 fases of Dan Wells se 7-punt plotstruktuur te gebruik nie: indien jy bewus is van plotstruktuur kan jy dit tot jou voordeel aanwend en lewe in ‘n idee blaas ten einde dit in ‘n storie te omskep.
Lekker skryf!