Stories wat bybly

Stories wat bybly
Stories wat bybly
Stories wat bybly

Stories wat bybly

Het jy al agtergekom dat sekere stories jou bybly? Wat maak ’n storie werklik onvergeetlik? Is dit die slim kinkels, die skilderagtige beskrywings, of dalk die karakters? As skrywer wat tans diep in die loopgrawe sit, dink ek deesdae baie hieroor. Wat is die gom wat ‘n leser aan die bladsy vasplak terwyl die res van die wêreld vervaag? Persoonlik het ek al agtergekom heelwat lesers lees agter ‘n karakter of karakters aan. Dieselfde geld vir flieks of TV-reekse.

‘n Storie wat jou bybly is nie net ’n reeks gebeure nie; dit is ’n emosionele ervaring. Of jy nou fiksie skryf vir jong volwassenes of ‘n memoir skryf, daar is sekere boustene wat eenvoudig nie onderhandelbaar is nie.

1. Karakters van vlees en bloed

’n Storie lewe of sterf weens die karakters. As die leser nie omgee of jou protagonis oorleef of misluk nie, het jy reeds die stryd verloor. Wat ’n karakter “goed” maak, is nie hulle volmaaktheid nie, maar juis hulle tekortkominge. Dit is wat die karakter interessant maak. Ek dink aan die karakter Will Trent in Karin Slaughter se Will Trent-reeks. Will stoei met disleksie wat hy probeer wegsteek en het ‘n aanklike kinderlewe gehad.

Dink aan die karakters in Annerle Barnard se boeke — hulle is dikwels fyn geskaaf en worstel met dinge wat werklik is. Dit is daardie menslikheid waarby ons aanklank vind.

Wat memoirs aanbetref: waar die protgonis die kwesbaarste is, is dikwels die kragtigste. Moenie bang wees vir die skrape en die letsels nie; dit is wat die karakter eg maak.

2. Die kuns van "Wys, moenie net vertel nie"

Dit is seker die oudste reël in die skryfwêreld, maar dit bly die belangrikste. Moenie vertel die karakter is hartseer nie; wys hoe sy hande bewe terwyl hy koffie skink, of hoe die stilte in die huis te swaar word om te dra.

Wanneer ons skryf, probeer ons ’n fliek in die leser se kop laat afspeel. Gebruik al die sintuie. Hoe ruik die lug net voor ’n donderstorm? Of ‘n Vrystaatse stofstorm? Hoe voel die growwe hare van ’n rifrughond onder jou palms?

Deur spesifieke besonderhede te gebruik, trek jy die leser by die toneel in sodat hulle dit saam met jou beleef.

3. Spanning en die "Wat gebeur volgende?"-faktor

Selfs die mees atmosferiese storie het ’n enjin nodig. Daardie enjin is konflik. Iets moet op die spel wees. Dit hoef nie altyd ’n grootskaalse oorlog te wees nie; soms is die grootste konflik die geveg wat ons met onsself voer, m.a.w. innerlike konflik. Jou protagonis moet dus die risiko loop om iets te verloor. Die protagonis moet altyd iets wil hê, al is dit net ‘n glas water en iets moet in sy/haar pad wees en hom/haar verhoed om dit te kry.

In goeie storievertelling is daar altyd ’n vraag wat beantwoord moet word. Elke hoofstuk moet eindig met iets wat nog los hang, iets wat die leser dwing om net “nog een bladsy” te lees voor hulle die lig afskakel. Gaan lees na oor die Zeigarnik-effek. Dis fassinerend. Hierdie tipe effek word gewoonlik beplan. Niks wat ‘n storie suksesvol maak, gebeur sommer vanself nie. 

Onthou: as daar geen konflik is nie, is daar geen storie nie.

4. Tema: Die hartklop van die vertelling

 

Waaroor gaan die storie eintlik? Nie net wat gebeur nie, maar wat is die universele waarheid wat jy probeer oordra? Gaan dit oor vergifnis? Oorlewing? Die kompleksiteit van familiebande?

’n Goeie storie laat die leser met iets agter. Dit verander dalk nie hulle hele lewe nie, maar dit laat hulle vir ’n oomblik stilstaan en dink. Wanneer ek aan my eie manuskripte werk, vra ek myself: “Hoekom maak hierdie oomblik saak?” As dit vir my saak maak, sal dit vir die leser ook saak maak. Donkerster is ‘n boek wat weens verskeie redes vir my baie belangrik is. Lees dit en besluit self wat die tema is. Al my boeke se temas lê my na aan die hart. Gaan kyk gerus na die resensies. Die temas behoort daaruit te blyk. 

5. ’n Outentieke Stem

Jou stem as skrywer is jou vingerafdruk. Dit is die unieke manier waarop jy na die wêreld kyk en dit verwoord. In my werk by ons gastehuis, Onverwacht sien ek daagliks hoe belangrik gasvryheid en ’n persoonlike aanslag is — skryf is presies dieselfde. Jy nooi die leser in jou binnekamer in.

Moenie probeer om soos iemand anders te klink nie. As jou natuurlike stem ’n bietjie humor bevat, gebruik dit. As jy daarvan hou om dieper te delf in die filosofiese kant van die lewe, doen dit. Die leser kan aanvoel wanneer ’n skrywer probeer voorgee. Eerlikheid op die bladsy is wat ’n storie van “goed” na “uitstekend” verhef.

Die Pad na Stories wat bybly

Om te skryf is harde werk. Dit vra geduld, baie skaafwerk (dikwels met die hulp van ’n goeie mentor of redakteur), en die moed om jou eie waarheid op papier te sit. Maar wanneer al daardie elemente — karakter, konflik, stem en tema — bymekaar kom, gebeur daar iets magies.

’n Goeie storie, een wat jou bybly, is een wat bly dwaal in jou gedagtes lank nadat jy die boek toegemaak het. Jy ken so ‘n storie. Al was dit ‘n film. Dis gewoonlik die tipe boek of film wat jy vir ‘n ieder en elk aanbeveel. ‘n Goeie storie is ’n venster na iemand anders se wêreld, en terselfdertyd ’n spieël waarin jy iets van jouself herken.

 

Lekker skryf!

Annerle Barnard
Donkerster
Annerle Barnard