Na aanleiding van die vrae wat ek rakende Spel ontvang het, deel ek graag inligting betreffende my navorsing, asook ‘n aantal van my eie vrae wat aanleiding tot hierdie storie gegee het. Hoeveel van Spel is feit vs. fiksie?
Spel: feit of fiksie?
Tydens my navorsing het ek op ‘n artikel oor ‘n man wat met ‘n hologram getroud is, afgekom. Op hierdie wyse het hologramme my storie betree.
Spel: feit of fiksie?
Ek het nogal gewonder hoe die lewe en dierelewe in so ‘n futuristiese omgewing (die milieu waarin Spel afspeel) sou lyk. My oudste seun kom vertel toe van die waterbeertjies (tardigrades) waarvan hy by die skool geleer het.
Die onderwyser het vir hulle vertel hoe hierdie diertjies amper onvernietigbaar is en hoe dit selfs in die buitenste ruimte sal kan oorleef. In Spel het ek hierdie diere in groot, gevaarlike mutante verander. Dis een van die maniere waarop ek feit en fiksie vermeng het.
Die Vacanti muis bestaan regtig.
Of het in 1996 bestaan. Of daar tans steeds ore op muise se rûe gegroei word, weet ek nie. Die doel van die ore was word in genoemde artikel uiteengesit.
Volgens wetenskaplikes gaan ‘n hele aantal spesies oor die volgende dekades uitsterf en die mens sal daarvoor verantwoordelik wees. Gevolglik het baie spesies in Spel ook reeds uitgesterf. Hier het ek my verbeelding laat loop.
Soos jy kan sien, word feit en fiksie in Spel vermeng. Spel is immers as ‘n boek vir tieners geskryf en fiksie moet boeiend wees. Daar is soveel aspekte waarna ek tydens my navorsing gaan kyk het, dat dit vir my onmoontlik voel om als te noem.
Spel: feit of fiksie?
Een van die heel belangrikste aspekte vir my was die bye/insekte en die voortbestaan van die aarde. Die bye het daarom ook ‘n leitmotif dwarsdeur die roman geword en is selfs as spioenasie-hommeltuie aangewend.
Ek dink almal weet reeds wat hommeltuie (drones) is, maar ingeval jy meer daaroor wil weet, daar is hope inligting op die Internet beskikbaar.
Lukas Brandt in Spel stoei met ADHD. ADHD is in ons moderne samelewing redelik bekend en daar is medikasie wat daarvoor help.
Die rede waarom Lukas aan ADHD ly is juis omdat soveel van my seuns se maats daarmee gediagnoseer is. Daar is hulp, soos reeds genoem, maar my vraag was: wat maak mense in oorlogsgeteisterde gebiede wat nie toegang tot medikasie het nie (diabetes, asma, hartprobleme, ens.) Volgens die sielkundige met wie ek al my protagoniste (soms ook newekarakters) bespreek, stoei persone met ADHD ook met angs en gevolglik het dit ook my storie betree. Wanneer ‘n mens met ingeligte persone praat, besef ‘n mens eers hoeveel mense werklik met angs stoei en hoe relevant dit is vir die tyd waarin ons lewe.
Lukas Brandt stoei nie slegs met angs nie, maar ook met eko-angs. Angs maak dat Lukas redelik kort van draad is.
Mme Bonolo maak vir hom kruiemedisyne, maar dit werk nie noodwendig so goed soos ‘n tegnologiese oplossing nie. Tegnologie is nie altyd boos nie (beslis nie!), alhoewel dit vir die bose aangewend kan word, soos wat Elon Musk ook erken het betreffende kunsmatige superintelligensie. Enigiets in die lewe hang af van hoe ‘n mens dit aanwend.
Lukas kou dikwels die droë kruiemedisyne, in plaas daarvan om dit in warm water te laat trek en dan werk dit nog minder soos wat dit veronderstel is om te werk. Sy ADHD is dus nie onder beheer nie. Die pille waarmee Romeo in ‘n stadium vorendag kom, maak wel ‘n verskil.
Spel het ‘n baie definitiewe groen tema. Nee, ek het nie aanvanklik geweet dat dit ‘n groen tema sou hê nie. Wanneer ek skryf, begin ek met ‘n eerste sin en kyk waarheen dit gaan. Die einde was dus vir my ook ‘n verrassing.
Bloody Butcher corn (foto ingesluit) bestaan wel. Vanuit die storie kan ‘n mens aflei dat dit ‘n erfstuksaad is, met ander woorde, in teenstelling met soveel van die sade wat ‘n mens deesdae kry, kan jy hierdie mielies se sade oes en weer plant. Dit is nie GMO nie en benodig bye en insekte om dit te bestuif.
Lukas en Dimpho se hele bestaan is DIY. Die mensdom is min of meer uitgewis en daarmee saam die plase en boere. Oor die temas sal ek in ‘n volgende blogplasing meer sê.
Omdat regeneratiewe boerdery my interesseer, het ek vantevore na ‘n aantal video’s oor veral Ernst Gotsch se sintropiese boerderymetodes gekyk.
Die beste van alles, is hoe hy daarin geslaag het on ‘n stuk ‘woestynland’ weer lewe te gee. (Die grond was vantevore deel van die Amazone, maar het weens die meulenaar wat die grond besit en al die bome laat afsaag het, in woestynland verander.) Te danke aan Ernst Gotsch se sintropiese boerderymetodes lyk daardie stuk grond vandag of dit weer deel van die Amazone-oerwoud is.
Via genetiese modifikasie kan ‘n mens superrasse (of transterrane) skep. Genetiese modifikasie kan ook mediese voordele hê, maar uiteraard is daar etiese debatte, ens. waarby ek nie betrokke wil raak nie. Ek het immers slegs ‘n storie geskryf en is nie ‘n wetenskaplike nie.
Genetiese modifikasie is ook aangewend wat betref die nanochromatiese sig waaroor die Siriane beskik. Hierdie is fiktief. Mense beskik normaalweg oor trichromatiese sig (m.a.w. drie keëls per oog) en sommige diere oor tetrachromatiese sig.
Let wel: Die gebruik van enige van die skakels op hierdie blogplasings, is op eie verantwoordelikheid. Die skrywer maak van ‘n anti-virusprogram gebruik en aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige virusse/skade wat via internetskakels opgedoen word nie.