Skryfwenke: wat beteken tema?

Waarom skryf jy?
Annerle Barnard
Skryfwenke2: wat sê skrywers

Skryfwenke: wat beteken tema?

 

Elke goeie storie benodig ‘n plot en elke plot benodig ‘n tema.

Wat is ‘n storie?

‘n Storie bestaan uit ‘n reeks gebeure. Die plot is die struktuur wat die gebeure aan mekaar verbind.

Wat is ‘n tema?

In effek is die tema(s) die kernboodskap agter die storie.

Dit is belangrik om te onthou dat die skrywer nie die tema vir die leser moet uitspel nie. Dit moet só geskryf word dat die leser die tema(s) self moet ontdek.

Skryfwenke: wat beteken tema en wat is die verskil tussen plot en tema?

 

Sweepslag is ‘n storie oor ‘n tienerseun wat ontvoer word en in die huis van ‘n gewetenlose sindikaat beland. Hierdie beskryf die plot. Dit is egter ook ‘n storie oor die styd tussen goed en kwaad. Laasgenoemde beskryf die tema.

Die plot verduidelik wat in die storie gebeur, maar die tema verduidelik waarom. Dit verskaf die motief. Sonder ‘n tema bestaan die storie slegs uit gebeure, maar verduidelik nie waaróm nie. Sonder ‘n tema, gaan die storie leeg en sinneloos wees.

Omdat die menslike brein voortdurend na betekenis soek, hou ons van stories wat antwoorde rakende menswees verskaf. Stories help ons om menswees te verstaan. Wanneer jy weet wat jou storie se tema is, kan jy die storie soveel beter skryf. Soms kom die tema(s) onbewustelik terwyl ‘n mens skryf en ander kere verg dit meer werk.

Voorbeelde van algemene temas:

  • Grootwordjare: word dikwels in jeugfiksie gevind, byvoorbeeld Looking for Alaska van John Green
  • Die lewenssirkel: Lion King
  • Korrupsie: House of Cards TV-reeks
  • Die stryd tussen goed en kwaad: Sweepslag, Sindikaat, Spel, Black Bird TV-reeks en vele ander
  • Oorlewing: Spel
  • Helfhaftigheid: Marvel se superhelde
  • Liefde: Outlander
  • Vriendskap: Apartment
  • Oorlog en vrede: War and Peace
  • Verraad: Macbeth
  • Lewe en dood: Immortality, The Book Thief
  • Familie: One Hundred Years of Solitude
  • Reg en geregtigheid: Jack Reacher-reeks
  • Mag: The Hunger Games en Animal Farm
  • Rags to riches: Aspoestertjie
  • Vrye wil vs. die noodlot: Macbeth, Oedipus Rex

Daar is eintlik te veel temas om op te noem.

Sweepslag se tema is mensehandel, die goeie vs. die bose. Sindikaat het ‘n groen tema, naamlik die handel in bedreigde spesies en Spel het ‘n aantal belangrike temas, o.a. oorlewing en voedselsekerheid.

Hoe besluit jy op ‘n tema vir jou storie?

Indien die temas nie outomaties tydens die skryfproses kom nie, kan jy die volgende probeer:

  • Kies ‘n universele tema wat deur alle eeue reeds bestaan — byvoorbeeld vriendskap (hier dink ek onmiddellik aan die storie van Dawid en Jonathan) of jaloesie (Kaïn en Abel) — en op alle kulture van toepassing sal wees
  • Kies ‘n tema wat jou leser sal bybly
  • Weef jou tema deur die narratief. Moenie die leser daarmee begrawe nie.
  • Moenie jou roman met die tema begin nie, maar eerder iets anders, soos vriendskap.
  • Fokus op meer as een tema, soos wat ek met Spel gedoen het. Die temas in Spel is o.a. voedselsekerheid, die stryd tussen goed en kwaad, oorlog en vrede, die toekomstige vs. die verlede, vryheid en onderdrukking, medemenslikheid vs. kunsmatige intelligensie, verlies en vindingrykheid, vriendskap, oorlewing, ens.

Skryfwenke: wat beteken tema?

Wanneer jy ‘n boek lees/fliek kyk, probeer om self die temas daarin te identifiseer en kyk hoe dit deur die storie verweef is. Dit is die beste manier om te leer.

Lekker skryf.

Skryfwenke: wat beteken tema?
Annerle Barnard
Skryfwenke: wat beteken tema?