Skryfstyl en karakterisering
Het jy al oor jou skryfstyl en karakterisering gewonder? Daar is ’n oomblik, êrens tussen die eerste sin en die laaste punt, waar ’n storie begin asemhaal. ‘n Mens voel dit. Nie met jou kop nie — met jou borskas. Dit is daardie magiese aantrekking, daardie ligte benoudheid wat sê: bly nog ’n bietjie en dan blaai die leser die bladsy om om nog net een hoofstuk te lees, al is dit reeds 03:00. Hoekom? Want die leser moet net weet wat volgende gaan gebeur.
Dit is waaroor goeie skryfwerk eintlik gaan.
Of jy nou ’n donker romanse bou, ’n tiener laat grootword in ’n wêreld vol verskrikking, of net probeer sin maak van mense wat mekaar seermaak en tog by mekaar bly — sekere goed werk en ander nie.
Hier is vyf goed wat ek oor en oor in boeke (verskeie genres) sien werk.
Skryfstyl en karakterisering
- ‘n Stem wat eg (soos ’n “mens”) klink
Die stem moenie bloot klink soos die van die skrywer of ’n idee nie, maar na ’n mens: na die gangster of predikant wat op die hoek woon.
’n Stem is nie net woorde nie — dit is hoe iemand dink en hoe hulle dinge sien. Hoe hulle probeer wegpraat wat hulle eintlik voel.
In Donkerster (Annerle Barnard) sit jy nie langs die karakter (Carli Kirstein) nie. Jy sit in haar. Sy probeer haarself van dinge oortuig en jy voel hoe sy sommige dinge terughou. Dis daardie breuke in haar denke wat dit eg maak.
Dis hoekom dit werk.
Dink aan The Catcher in the Rye. Holden praat nie mooi woorde nie. Hy probeer nie vlei met sy taalgebruik nie. Hy praat reguit. Soms is hy irriterend. Maar jy glo hom, want hy klink soos iemand wat jy al ontmoet het — of dalk self voorheen was.
’n Goeie stem laat jou vergeet jy lees. Dit voel soos luister na ‘n werklike gesprek. Amper soos afluister.
Skryfstyl en karakterisering
- Foute wat sny
Niemand vertrou ’n perfekte karakter nie. Ons herken mekaar aan ons krake.
’n Karakter wat altyd die regte keuses maak, is stil. Maar een wat die verkeerde ding doen vir die regte rede — daardie een bly jou by.
In heelwat van Barnard se werk is daar karakters wat nie weet hoe om liefde te hanteer nie. Hulle ontken emosie. En juis daarom glo jy hulle.
Kyk na The Fault in Our Stars van John Green. Die karakters dra pyn, maar ook humor, ontkenning, koppigheid. Hulle groei nie net omdat die storie dit nodig het nie — hulle groei omdat hulle móét.
Groei gebeur waar en wanneer dit ongemaklik en onbepland is.
Skryfstyl en karakterisering
3. Tempo
’n Storie is soos hardloop. Jy kan nie net sprint nie.
Daar moet oomblikke wees waar alles vinnig gebeur — kort woorde en skerp sinne. En dan moet daar plekke wees waar dit stil raak. Waar iemand net sit. Net dink. Of bloot voel. Ek dink onmiddellik aan Sindikaat, (Annerle Barnard) waar Paul Rudman ‘n besluit oor Johnny de Sousa se lewe moet neem.
As jy aanhoudend druk toepas en die tempo hoog bly, raak die lesers moeg. As jy te lank stilstaan, raak hulle ongeduldig.
Die geheim lê in die skuif tussen die twee.
’n Konfrontasie wat brand. Dalk die stilte van ‘n vertrek daarna.
Iemand wat nie weet wat om met hul hande te doen nie.
Dit is tempo.
Skryfstyl en karakterisering
- Laat dit karakters (en lesers) voel, m.a.w. WYS, moenie vertel nie
Mense sê dikwels: wys, moenie vertel nie. Maar dit gaan eintlik oor iets eenvoudiger — laat die leser self die gevoel ontdek.
Moenie sê iemand is bang nie.
Wys hoe hulle keel of mond droog word en hulle sluk. Hoe hulle hande nie stil is nie of hoe hulle oë elke uitgang meet.
In Donkerster werk emosie omdat dit nie uitgespel word nie. Dit lê tussen die lyne. Die leser moet dit vind in wat nié gesê word nie.
Dit is waar vertroue inkom — vertrou die leser om saam te bou en te interpreteer. Moenie jou leser se intelligensie onderskat nie.
Skryfstyl en karakterisering
- Herskryf totdat dit eerlik klink
Die eerste weergawe van ’n storie is rou. Dit is jy wat probeer uitvind wat eintlik gebeur. Destemeer as jy ‘n ‘pantser’ is en nie die plot haarfyn beplan nie.
Die regte werk begin daarna.
Sny wat nie nodig is nie en skuif die sinne totdat dit natuurlik vloei.
Klink die stem dieselfde van begin tot einde?
Maak die geraas stil sodat die storie kan praat.
Elke sin moet iets dra — of dit nou die storie vorentoe dryf, of vir ons wys wie die karakter regtig is.
Skryfstyl en karakterisering
Het jy al gewonder hoe Stephen King skryf? Kliek hier om te kyk wat hom uniek maak.
Skryfstyl en karakterisering
Daar is nie ’n formule wat alles oplos nie. Slegs patrone wat werk wanneer jy dit eerlik gebruik.
Op die ou einde lees ons nie vir perfekte stories nie.
Ons lees vir daardie een oomblik waar iets herkenbaar raak.
Waar iemand anders se woorde soos jou eie begin voel.
Lekker skryf!