Skryf jou outeursbiografie

Skryf jou outeursbiografie
Annerle Barnard
tienerboeke

Skryf jou outeursbiografie

Met my heel eerste bio het ek bloot gaan kyk  hoe ander, bekende skrywers se bio lyk. Hoe doen jy dit? Gaan na enige uitgewer se webwerf Ek het byvoorbeeld ‘n bio op NB-Uitgewers se webwerf, asook op Lapa en Viva-Uitgewers se webwerwe. Die een op Viva-Uitgewers se webwerf vermeld al die boeke wat ek geskryf het, sowel as ander skoleprojekte, ens. Op die ander twee uitgewers se webwerwe is daar skakels na my boeke.

Om ‘n goeie biografie te skryf, moet jy jou teikengehoor ken. Hou dit kort en kragtig en maak seker die leser wil meer weet. Dit is daarom belangrik dat jou bio nie soos ‘n CV moet lees nie.

Lengte

Ongeveer 100 woorde is voldoende.

Soms benodig mens ‘n langer een vir ‘n webwerf. Op my webwerf is daar ook ‘n bio. ‘n Goeie idee is dus om ‘n korter en langer bio byderhand te hê. Wanneer ‘n uitgewer jou bio versoek, sal hulle jou gewoonlik inlig uit hoeveel woorde dit moet bestaan.

Skryf jou outeursbiografie

Kan jy jou bio net eenvoudig uitlos? Ongelukkig nie. Lesers wil graag meer oor die skrywer weet. Die belangrikste om boeke te verkoop is: boekresensies, die omslag en die sinopsis en lokteks, maar die bio is regtig belangrik. Lesers het my al ‘n paar keer met addisionele vrae gekontak. Dit klink dalk nie vir jou of jou lewe interessant is nie, maar steeds wil lesers meer oor jou weet.

Skryf jou outeursbiografie

Waaraan moet jy in jou bio aandag gee? ‘n Bio is in wese:

  • ‘n Paragraaf oor jou as skrywer en as mens: jou naam en relevante prestasies, maar ook opwindende inligting.
  • Jou kwalifikasies
  • Jou belangstellings
  • Kry die leser se aandag. Hulle moet jou boeke wil lees.
  • Enige ander relevante inligting wat jy graag met die teikengehoor sou wil deel.

Kyk na die eerste punt bo. Ja, lesers wil weet jou naam is Sophia Mendez en jy het ‘n graad in ingenieurswese, maar nóg interessanter vind hulle die feit dat jy graag tamatiesous skoon en by die eetlepel eet. (Ja, dit klink vir my ook vreeslik sleg!) Die dinge wat jou karakters interessant maak, is ook die dinge wat lesers interessant vind. In my bio op Lapa se webwerf noem ek dat ek graag op dakke rondgehardloop het as kind. Lesers vind dit interessant, al klink dit vir my heel gewoon.

In my bio op NB-Uitgewers se webwerf, noem ek dat ek ‘mooiweer’ as reën beskou.

Indien jy jou boeke self publiseer, sluit ‘n skakel na jou sosiale media en webwerf in indien moontlik.

Skryf jou outeursbiografie

Waarom is jou bio belangrik?

  • Dit bou geloofwaardigheid
  • ‘n Bio bevestig of dit wat jy te sê het die moeite werd is om te lees
  • Jou teikengehoor wil weet of jy daartoe in staat is om ‘n boek vir hulle te skryf
  • Lesers kan met jou persoonlike ervarings identifiseer: hierdie is spesifiek belangrik indien jy byvoorbeeld self as jeugdige dwelms gebruik het en via jou boek ander jongmense wil bereik. Ek is nie meer sewentien nie, maar ek skryf boeke vir tieners en jongvolwassenes. Hoe? Ek het tieners in die huis en daarom het ek ‘n redelike idee hoe hulle dink en doen en wat tieners interesseer.
  • ‘n Bio gaan jou dus help om boeke te verkoop

Skryf jou outeursbiografie

Ek het al gehoor dat skrywers dink dat niemand die outeur se bio lees nie, maar dis nie waar nie. Eerlik? Ek moet bieg dat ek ook aanvanklik gewonder het wie daarna gaan kyk. Toe ek Skrywer van die Maand (Augustus 2024) op die Lekkerleesboekrak op Facebook was, het ek agtergekom dat mense nogal regtig meer oor ‘n mens wil weet. Vir jou klink jou lewe dalk vervelig, maar vir lesers mag dit interessant wees.

Skryf jou outeursbiografie

Ek weet jy is nie lus nie, maar plak jou boude op jou stoel en skryf jou bio!

Skryf jou outeursbiografie
Skryf jou outeursbiografie
Skryf jou outeursbiografie