Skep ‘n geslaagde skurk.

Annerle Barnard
Skryfwenke: advies deur skrywers
Skryfwenke2: wat sê skrywers

Skep ‘n geslaagde skurk.

Daar is seker niks op aarde so interessant soos ‘n goeie skurk nie. ‘n Goeie skurk kan egter nie ‘n kartonkarakter wees nie. Jou skurk benodig diepte en meer as een vlak.

Om ‘n geslaagde skurk te skep, is nie noodwendig maklik nie, maar dit bly opwindend en gee skop aan jou storie.

Skep ‘n geslaagde skurk.

‘n Tyd gelede kyk ek na ‘n reeks op TV. Die protagonis was geloofwaardig en vol foute. Dán haat ek hom en dán is ek mal oor hom. Hy’s ‘n tipiese anti-held.

Terug na skurke: een van die skurke in bogenoemde reeks besluit om van ‘n mede-skurk ontslae te raak.

Die medeskurk was honger en op die vlug. Die ander skurk plaas toe ‘n toebroodjie in ‘n bruinpapiersakkie in die man se skoot — en daar ontplof dit.

Die ironie het my nie ontgaan nie. Dit wat voeding veronderstel was om te wees, het verminking en die dood gebring.

Was ek ontsteld oor die dood van hierdie skurk! Dit het dae lank by my gespook. Selfs al was die man ‘n skurk, het hy ook ‘n paar goeie eienskappe gehad.

Skep ‘n geslaagde skurk.

‘n Waardige opponent maak jou held meer heldhaftig.

Soms het ‘n mens te doen met meer as een skurk:

In Spel het die leser te doen met Sirio en Dakian. Van Dakian weet die leser nie veel nie, maar Sirio is Lukas se goeie vriend, Fidelis, se pa en Sirio sal enigiets vir sy seun, Fidelis, doen.

Een van die skurke in Sindikaat is Johnny de Sousa. Paul (die protagonis) het nagmerries oor Johnny. Hoekom? Johnny het ‘n gesin en Paul het Johnny se vrou en ontmoet. Meer nog, een van Johnny se dogtertjies aanbid die grond waarop Paul loop. Daarbenewens is Johnny een van Bossie se oudkollegas, iemand vir wie Bossie aanvanklik respek het. Dis moeilik om ‘n skurk te opponeer wanneer daardie skurk “mens” is en nie slegs ‘n naamlose gesig nie.

Skep ‘n geslaagde skurk.

(Skurke kan tot enige geslag behoort. Let wel dat die manlike voorsetsels in die teks alle geslagte insluit.)

  1. Gee aan jou skurk menslike eienskappe. Skurke is regte mense met wie daar gewoonlik slegte goed in die verlede gebeur het. Ek dink hier aan die agtergrondstorie van die berugte reeksmoordenaar, Ted Bundy en die Suid-Afrikaanse reeksmoordenaar, Boetie Boer
  2. Gee vir jou skurk ‘n geloofwaardige herkoms. ‘n Karakter se agtergrondstorie kan uiters boeiend wees.
  3. Klim in jou skurk se kop in. Beleef ‘n bietjie van jou eie donker kant wanneer jy dit doen.
  4. Skurke dink dikwels hulle is reg en kan hulle dade op die een of ander wyse regverdig.
  5. Skurke is slim en word dikwels gerespekteer.
  6. Hulle beskik gewoonlik oor bewonderenswaardige karaktereienskappe. Ted Bundy was ‘n vrywilliger by ‘n selfdoodinbelsentrum en ‘n kollega het hom as baie empatiek beskryf. 
  7. ‘n Skurk maak die plot interessant en daarom wil lesers meer van hom weet.
  8. Hy beskik dikwels oor baie van die eienskappe waaroor die held ook beskik.
  9. Hulle is trots.
  10. Skurke het die vermoë om mense te oorreed om hulle samewerking te gee. Ted Bundy het voorgegee om met ‘n besering te sukkel ten einde sy slagoffers te oorreed om hom te help. Op hierdie wyse het hy dan sy slagoffers na sy motor gelok en kon hulle ontvoer.
  11. Net soos wat skurke soms genadeloos is (selfs al is die slagoffer ‘n onskuldige party), kan hulle ook soms — sonder rede — baie genade toon en hulpvaardig wees.

Hoe meer geslaagd jou skurk is, hoe meer geslaagd sal jou held ook wees.

 

Lekker skryf.

 

Annerle Barnard
Annerle Barnard
Skryfwenke2: wat sê skrywers