Redigeer jou skryfwerk

Opstelle: hoe stimuleer jy kreatiwiteit?
Hoe gemaak met kritiek?
Opstelle: hoe stimuleer jy kreatiwiteit?

Redigeer jou skryfwerk

‘n Mens hoor altyd dat jy jou skryfwerk moet redigeer. Ek het nog altyd my eie skryfwerk redigeer, maar ‘n mens maak aanvanklik foute waarvan jy nie bewus is nie.

   “Kill your darlings, kill your darlings, even when it breaks your egocentric little scribbler’s heart, kill your darlings.”Stephen King, On Writing: A Memoir of the Craft

Hier is ‘n paar wenke wat ek in gedagte probeer hou wanneer ek my skryfwerk redigeer.

1. Raak ontslae van agtergrondsinligting, verduidelikings en beskrywings van die milieu aan die begin van jou storie. Wanneer ‘n mens ‘n toneel in die middel begin en so gou as moontlik eindig, het jy die leser se aandag.

Voorbeeld 1: ‘n Troue loop skeef, want die bruid kry koue voete. Begin dalk die toneel waar die bruidegom die tafels in die onthaalvertrek omkeer of in die drank invaar of iets dergeliks. ‘n Ellelange aanloop tot die toneel (verduideliking van die hele agtergrond) gaan die leser verveel.

Voorbeeld 2:

“’Is jy gesuip, Bossie? No flippen way!’ Paul draai die CD-speler se volume laer.”

Bogenoemde is die inleidende sinne in my jeugroman, Sindikaat.

Die konteks?

Bossie het pas vir Paul Rudman ingelig dat hy onwettige wapens in die voertuig het en beplan om dit deur die grens te smokkel. Verduidelik ek dit? Ek verskaf die inligting bietjies-bietjies daarna.

Voorbeeld 3:

“Die vraag is: Sal hy hom kan doodmaak?”

Bogenoemde voorbeeld is die inleidende sin in my jeugroman, Sweepslag.

Die konteks?

Paul Rudman is ‘n gevangene van ‘n mensehandelsindikaat. Hy wil ontsnap en probeer planne beraam. Ek onthul weereens die inligting rakende die situasie so ‘n bietjie op ‘n keer om die leser se aandag te hou en spanning te skep.

2. Om ‘n boeiende storie te skryf beteken nié dat jy ingewikkelde woorde moet gebruik nie.

3. Raak van onnodige woorde ontslae.

4. Raak van oortollige woorde ontslae, byvoorbeeld “hy knik”. Wanneer iemand knik, is dit gewoonlik die kop en daarom is “hy knik sy kop” nie nodig nie.

5. Ons wil soms te veel verduidelik. “Hy stap by die oop deur in en gaan sit op die bank.” Voorstel: “Hy stap in en gaan sit op die bank.” (Die konteks van jou storie behoort die res te verduidelik.)

   “When you write a story, you are telling yourself the story. When you rewrite, your main job is taking out all the things that are NOT the story…Your stuff starts out being just for you…but then it goes out. Once you know what the story is and get it right, as right as you can…it belongs to anyone who wants to read it, or criticise it.”Stephen King, On Writing: A Memoir of the Craft

Redigeer jou skryfwerk

6. Waar moontlik, vermy grade van iets, byvoorbeeld “sy glimlag effens.”

7. Gebruik sterk selfstandige naamwoorde en werkwoorde sodat ‘n mens nie misbruik van bywoorde en byvoeglike naamwoorde maak nie.

8. Vermy clichés.

9. Maak seker dat jy slegs een fokaliseerder per toneel het.

10. Wys eerder as om te vertel.

   “Don’t tell me the moon is shining; show me the glint of light on broken glass.” — Anton Chekhov

Voorbeeld:

In plaas daarvan om te sê “dis koud”, sê miskien eerder iets soos, “Sy bewe en trek die mus oor haar ore.”

 

“Writing without revising is the literary equivalent of waltzing gaily out of the house in your underwear.”

Redigeer jou skryfwerk

11. Vermy karaktername wat dieselfde klink.

12. Vermy dit om ALLES IN HOOFLETTERS, skuinsgedruk en vetgedrukte letters te tik.

Vir meer skryfwenke, kyk na die Skryfwenke-blad op my webblad. 

   “The first draft is black and white. Editing gives the story colour.”Emma Hill   

Een van die beste aanhalings (en skryfwenke) wat ek nog gehoor het, is dié een van Lee Child (skrywer van die Jack Reacher-reeks).

   “You should write the fast stuff slow and the slow stuff fast.” – Lee Child

Redigeer jou skryfwerk
Wenke: redigeer jou skryfwerk
Redigeer jou skryfwerk