‘n Plotwending wat werk

Annerle Barnard
Annerle Barnard
Annerle Barnard

‘n Plotwending wat werk

Die woord “plot” (storielyn of intrige) verwys na die reeks gebeure wat in jou storie plaasvind. ‘n Plotwending (“plot twist” in Engels) verwys na ‘n onverwagse gebeurtenis in die storie. Dit vang die leser onverhoeds en gooi dinge dikwels omver.

Hoe skryf ‘n mens ‘n plotwending wat werk?

Alhoewel ‘n mens normaalweg ‘n plotwending aan die einde van ‘n storie verwag, beteken dit egter nie dat dit slegs aan die einde van die storie moet plaasvind nie. Wanneer jou lesers seker is dat hulle weet watter koers jou storie inslaan, verras hulle.

Vermy die volgende:

  • Vermy situasies wat ‘n blote cliché geword het, byvoorbeeld: jy skryf ‘n interessante storie en aan die einde tref ‘n bak koue water die leser, want “dit was alles net ‘n droom.” Hierdie werk 100% glad nie!
  • Moenie te veel leidrade verskaf nie. Wanneer daar te veel leidrade is, raai die leser wat gaan gebeur en dan faal jou plotwending. Sonder enige verrassings raak lesers verveeld.

‘n Plotwending wat werk

  • Wees slinks

Mislei jou lesers, maar nie só dat jy hulle frustreer nie.

‘n Aantal lesers van my jeugroman, Sindikaat (2019), het gesê dat hulle die einde glad nie “sien kom het nie.” Een leser het spesifiek genoem dat die roman juis weens die einde vir haar so treffend is. Ek moet bieg dat Sweepslag (2019), Sindikaat (2019) en Spel (2021) se eindes my ook verras het.

Ek is nou wel die skrywer daarvan, maar ek weet self nooit hoe my romans gaan eindig nie. Ek het eintlik beplan om Spel vroeër te eindig (by die konflik in Gariepstad), maar dit was vir my nie opwindend genoeg nie en daarom eindig die roman na verdere gebeure.

  • Toeval werk nie

Die benaming “deus ex machina” het sy ontstaan in Griekse teater gevind. Dit is die Latyn vir “god from the machine”. Indien jou karakter in die knyp is en by ‘n krans afval kan ‘n vlieënde hond nie vanuit die niet verskyn om hom/haar te red nie. Indien jy ‘n realistiese storie skryf en jy so ‘n maklike uitweg/uiteinde kies, sou dit as “deus ex machina” beskryf kon word.

Wanneer jy skryf, onthou: toeval bestaan nie in skryfwerk nie en gewere val nie uit die lug nie.

  • Verskaf voldoende leidrade

Indien jy te veel leidrade verskaf, gaan jou leser verveeld wees. Wanneer ‘n mens na die film The Sixth Sense kyk, besef ‘n mens agterna al die leidrade was daar. ‘n Mens besef dit nie noodwendig terwyl jy na die film kyk nie, maar na die tyd, baie beslis. Dit is juis wat die plotwending so suksesvol maak.

  • Handhaaf die spanning

Indien ‘n mens met ‘n “bang” begin, moet jy die spanningslyn kan handhaaf en daarop kan bou.

  • Konsekwentheid

Maak seker dat jy nooit die geloofwaardigheid van jou storie inboet nie. Indien jy nuwe inligting verskaf, moet dit realisties wees en by die konteks inpas.

  • Te veel

Beperk die plotwendings in jou roman. Te veel gaan nie geloofwaardig wees nie. Vir meer hieroor, kyk gerus na Gustav Freitag en Syd Field se voorstelle betreffende plotpunte  en -struktuur.

‘n Plotwending wat werk

Het jy al ‘n boek gelees of fliek gekyk en gedink dat jy die spesifieke wending glad nie verwag het nie? Ek het al. Veral die Amerikaanse misdaadfiksieskrywer, Karin Slaughter, het my al ‘n aantal kere heeltemal onverhoeds gevang.

Die beste manier om uit te vind wat werk en wat nie is om soveel as moontlik in die genre van jou voorkeur te lees.

Is daar plotwendings in romanse?

Indien daar nie is nie, sal die leser verveeld raak. Romanse werk dikwels volgens ‘n spesifieke resep, maar ons almal word deur die onverwagse geboei en juis daarom is plotwendings so belangrik.

 

Lekker skryf.

Annerle Barnard
Skryfwenke: wat beteken tema?
Tienerboeke

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *