Moet hoofkarakters aantreklik wees?

Moet hoofkarakters aantreklik wees?
Moet hoofkarakters aantreklik wees?
Annerle Barnard

Mooi gesiggies of murg-en-been stories?

Moet hoofkarakters aantreklik wees? Ons ken almal die prentjie op die boekomslag of die silwerdoek: daardie held met die perfekte kakebeen, hare wat nooit uit plek is nie (selfs nie ná ’n jaagtog nie) en oë wat dwarsdeur jou kyk. In jongvolwassene-romans en Hollywood voel dit soms of jy ’n model-lisensie moet hê om die hoofkarakter te mag wees.

Maar terwyl ek self met karakters in my kop stoei, wonder ek: Moet ons protagoniste werklik altyd “mooi” wees? Of beroof ons die storie van sy siel as ons alles te perfek inkleur?

Die sielkunde van die "mooi held"

Daar is ’n rede waarom ons instinktief na die mooi mens gryp, en dit gaan dieper as bloot ydelheid. Dit sit in ons sielkunde begrawe.

Eerstens is daar die “halo-effek”. Dit is daardie kortpad wat ons brein vat: as iemand fisies aantreklik is, aanvaar ons sommer hulle is ook slim, goedhartig en dapper. Vir ’n skrywer is dit ’n vinnige manier om die leser dadelik aan die karakter se kant te kry. Ons “vertrou” instinktief die mooi gesig.

Dan is daar wensvervulling. Ons lees om te ontsnap. Ons wil onsself projekteer op iemand wat “beter” of “mooier” as ons eie spieëlbeeld is. Voeg daarby die eise van die mark – ’n mooi gesig verkoop eenvoudig boeke – en jy verstaan waarom die perfekte held so hardnekkig bly voortbestaan.

Die krag van die onvolmaakte protagonis

Hier is die goeie nuus: die karakters met die letsels en die “foute” is dikwels die grotes wat ons die langste bybly. Waarom? Omdat perfeksie vervelig is. Persoonlik hou ek ook van ‘n “flawed” protagonis omdat dit my aan die werklkheid herinner. Geen mens is perfek nie en net so moet karakters oor nie perfek wees nie, voel ek.

Wanneer ’n karakter fisies tekortskiet, breek dit die muur tussen die bladsy en die leser af. Die meeste van ons voel nie elke oggend soos ’n supermodel nie. Ons ken die onsekerheid van ’n “bad hair day” of ’n litteken wat ons probeer wegsteek. ’n Protagonis met skrape voel vir ons werklik. Hulle is soos ons. ‘n Sprekende voorbeeld hier is die protagonis (Camille Verhoefen) in Pierre LeMaitre se boek Irène ongeveer 1,45m lank. Sy klein gestalte kontrasteer dikwels met die “grootheid” van die misdade wat hy ondersoek. In Irène is die moorde grusaam (gebaseer op klassieke misdaadromans), en Camille se fisiese kleinheid laat hom dikwels kwesbaar voorkom, wat die spanning verhoog.

 

Hoekom is Camille Verhoefen (Pierre LeMaitre) ‘n unieke karakter?

  • Sy lengte maak dat die leser hom dadelik kan visualiseer.
  • Omdat hy nie fisies kan domineer nie, is hy dikwels nors, briljant en intens gefokus. Sy “tekortkoming” word sy kragbron.
  • As leser ondersteun jy hom juis omdat hy die “underdog” is wat teen reuse (letterlik en figuurlik) veg.

Skoonheid kan ’n karakter “plat” maak. As alles maklik kom vir die mooi held, waar is die drama? ’n Karakter wat nie aan die standaard voldoen nie, moet tien keer harder veg vir respek en liefde. Daardie stryd skep empatie. Dink aan karakters soos Tyrion Lannister of die nors Ove. Ons hou nie van hulle omdat hulle mooi is nie; ons hou van hulle omdat hulle kompleks is.

Inhoud bo voorkoms

Sodra jy die kruk van uiterlike skoonheid wegskop, word jy as skrywer gedwing om die karakter se siel, humor en kop skerp te maak. In die boeke van Annerle Barnard, sien ’n mens juis hoe karakters met “flaws” – hetsy fisies of emosioneel – baie dieper tref.

Paul Rudman in Sweepslag en Sindikaat stoei met major depressie en angs, Lukas Brandt in Spel stoei teen ADHD en eko-angs, en Carli Kirstein in Donkerster is baie ongewild onder haar skoolmaats. Sam (‘n vriend van Carli) stoei met albinisme en Hilda (‘n vriendin) is absoluut uniek.

Dan is daar Gif. In Gif, is die karakters dikwels nie “mooi” in die tradisionele sin van die woord nie, of hulle dra fisiese en emosionele letsels.

  • Hoekom dit werk: Omdat die teikenmark (tieners en jong volwassenes) self deur ’n fase gaan waar hulle onseker voel oor hulle voorkoms. ’n Protagonis wat aknee het, te maer is, die self mutileer, aan alkohol verslaaf is, of letsels dra, voel soos ’n bondgenoot.
  • Die kontras: Dikwels is die “antagonis” (die skurk) juis die een wat uiterlik perfek is, maar innerlik “lelik” is. Dit keer die halo-effek op sy kop.

 

Moet hoofkarakters aantreklik wees? Inhoud bo voorkoms

’n Onaantreklike protagonis werk wanneer hulle die gang van die storie bepaal. Goed gebeur nie net met hulle nie. Hulle neem besluite wat die rigting van die storie beïnvloed. Hierdie protagoniste moenie slegs daar wees sodat die leser hulle jammer kry nie; hulle moet die storie dryf ten spyte van hoe hulle lyk. Sulke karakters se krag lê nie in ’n simmetriese gesig nie, maar in hul dade.

Die oomblikke wat werklik met ’n leser resoneer, is juis die tye wanneer die hare deurmekaar is, die oë dik geswel is van die huil, en die letsels van die lewe duidelik wys. Daardie rou eerlikheid laat die leser voel hulle is nie alleen nie.

Moet hoofkarakters aantreklik wees?

Lesers is moeg vir plastiek-karakters uit ’n advertensie. Ons soek siel. Ons soek mense wat lyk asof hulle al geleef het.

Moet hoofkarakters aantreklik wees?
Annerle Barnard
Annerle Barnard