Kernelemente van kreatiewe skryfwerk

Kernelemente van kreatiewe skryfwerk
Stories wat asemhaal
Stories wat asemhaal

Kernelemente van kreatiewe skryfwerk

Kreatiewe skryfwerk floreer op emosionele resonansie, verbeelding en struktuur.

Die belangrikste, is hoe jy lewendige taal, oortuigende karakters en betekenisvolle temas verweef om ’n boeiende ervaring vir lesers te skep.

Hier is ’n uiteensetting van die belangrikste elemente in kreatiewe skryfwerk:

Kernelemente van Kreatiewe Skryfwerk: Beeldspraak en Beskrywende Taal

Gebruik sintuiglike besonderhede en figuurlike taal om lewendige tonele te skep. Dit help lesers om die wêreld wat jy bou te sien, hoor, ruik en voel. Maak seker elke karakter het ‘n unieke stem wat by die wêreld waaruit daardie karakter kom, pas. ‘n Predikant klink anders as ‘n bendelid, ens.

Maak seker jy vermy clichés en bywoorde en beperk byvoeglike naamwoorde en vergelykings.

In Donkerster gebruik Hilda Duitse skelwoorde omdat haar ouers Duits is, Sam se moedertaal is Sotho en hy skel in Sotho. Ook gebruik hy dikwels die woord “girlfriend” wanneer hy met Carli en Hilda praat.

Karakterontwikkeling

Sterk karakters is die hartklop van enige verhaal. Persoonlik glo ek dat lesers ‘n storie agter die karakters aanlees. Die plot kan so interessant wees as wat dit wil, indien die karakters vaal is, is die storie vaal. Elkeen van die protagoniste in my romans is gebaseer op ‘n persoon (of persone) wat ek werklik ken. Maak seker jou karakters is werklikheidsgetrou, maar nooit vaal nie.

Karakters moet multidimensioneel wees, met duidelike motiverings, gebreke en groei waarby lesers aanklank sal kan vind.

Plotstruktuur

’n Goed gestruktureerde plot sluit ’n ontbrandingsgebeurtenis, stygende aksie, klimaks, dalende aksie en ’n resolusie in. Hierdie boog hou spanning lewendig en gee jou verhaal momentum. ‘n Leser het my boek, Sindikaat, as ‘n golf beskryf wat ‘n mens platslaan. Nes jy dink jy kan staan, tref dit jou van voor af. Vir my was dit ‘n massiewe kompliment. Dis presies wat ek wou bereik.

Weet net, as jy met ‘n woeste tempo begin, moet jy die spanning kan handhaaf, anders verloor jy die leser.

Vertelperspektief (POV)

Of jy nou in die eerstepersoon-, derdepersoon beperkte-, of alwetende vertelstem skryf — jou keuse van perspektief bepaal hoe lesers met die storie en karakters verbind.

Blykbaar is die gebruik om jeugfiksie in die eerstepersoon te skryf. Ek verkies die derdepersoon beperkte vertelstem, maar dis bloot ‘n persoonlike keuse.

Dialoog

Outentieke dialoog openbaar karakter, dryf die storie vorentoe en voeg realisme by. Dit moet natuurlik klink en elke karakter se unieke stem weerspieël. Soos vantevore genoem, klink ‘n ouer predikant en bendelid nie dieselfde nie. Die taalgebruik en manier waarop die karakter na die lewe kyk, moet dus die karakter se agtergrond weerspieël. Om daardie rede gebruik Lukas en Dimpho (en Jolene) in Spel nie slêng nie, maar JJ wel.

Konflik en Oplossing

Konflik dryf die narratief. Sonder konflik is daar nie ‘n storie nie. Of dit intern of ekstern is, dit daag jou karakters uit en lei tot transformasie of openbaring. Wanneer ek aan konflik dink, dink ek dadelik aan Macbeth en Hamlet van Shakespeare. Dis van die beste voorbeelde van uiterlike en innerlike konflik. Die een dryf gewoonlik die ander.

Tema en Simboliek

Temas gee jou verhaal diepte — waaroor gaan dit regtig? Toe ek my jeugromans aangepak het, het die temas aan my deur kom klop, want ek het bloot geskryf wat ek in die alledaagse lewe sien.

Simboliek kan hierdie idees subtiel versterk en lae van betekenis toevoeg.

Toon en Styl

Jou toon (humoristies, melancholies of ironies) en jou styl (minimalisties, liries of eksperimenteel) skep die stem van die verhaal. Konsekwentheid bou vertroue met die leser.

In Gif, is Nathan die humoristiese karakter. Joe is geneig om ernstig te wees. Nathe werp humor op ‘n andersins ernstige onderwerp.

Ruimte en Wêreldbou

’n Ryk, goed gevestigde ruimte grond jou verhaal in ’n geloofwaardige wêreld. Of dit realisties of fantasties is, dit moet die toon en temas van jou narratief ondersteun. Doen dus navorsing oor jou milieu. Indien dit realisties is, maak seker jy weet hoe dit lyk. Indien jy fantasie of wetenskapsfiksie skryf, maak seker jy verstaan wêreldbou.

My boek, Spel, is wetenskapsfiksie, maar al my ander boeke is realisties van aard.

Redigering en Hersiening

Eerste weergawes is rou en gewoonlik nie goed nie. Begin net, want jy kan altyd ‘n vol bladsy redigeer, maar met ‘n leë bladsy kan jy slegs vuur maak. Jou eerste weergawe hoef nie perfek te wees nie. Vertel net die storie.

Hersiening is waar helderheid, ritme en resonansie verfyn word. Dit is waar goeie skryfwerk groot skryfwerk word.

Baie skrywers verstaan glad nie wat redigering presies beteken  — of wat verwag word — nie. Ek praat uit ondervinding, want ek het ook nie.

Die beste advies wat ek enige aspirantskrywer kan gee: kry vir jou ‘n goeie mentor. Ongelukkig kom geen redigering gratis nie, want dit is ‘n reusetaak, maar slegs indien ‘n kenner jou manuskrip onder hande kry, sal jy verstaan wat regtig bedoel word met “kill your darlings” en “wys, moenie vertel nie”.

Kernelemente van kreatiewe skryfwerk

Ek hoop bogenoemde gee vir jou stof tot nadenke. 

Kontak my via my webwerf of sosiale media, sou jy vrae hê. Ek hoor graag van jou. 

Lekker skryf!

Annerle Barnard
Annerle Barnard
Annerle Barnard