Skryfwenke: hoeveel beskrywing?

Annerle Barnard
Skryfwenke2: wat sê skrywers
Annerle Barnard

Skryfwenke: hoeveel beskrywing?

 

Hoeveel beskrywing benodig jy in tonele in jou kortverhaal of roman?

Dis eintlik baie moeilik om vir iemand te sê presies hoeveel beskrywing nodig is. Het jy al al ‘n manuskrip of boek gelees en dele daarvan gevluglees en ander dele sommer net glad nie gelees nie. Ek moet bieg dat ek dit maklik doen en wanneer dit eers so gaan, sal ek sterk oorweeg om die boek toe te maak en nie verder te lees nie. Dikwels is dit dan presies wat gebeur.

My eerste 3 boeke is jeugfiksie en die jeug verloor gou belangstelling in ‘n boek – veral ‘n omslagtige een. Jeugfiksieskrywers kompeteer met elektronika, maats, sport en wat ook al verder en daarom is daar in jeugfiksie nie tyd of plek vir ellelange beskrywings nie.

Persoonlik glo ek daaraan dat ‘n mens nie met ink op papier moet mors nie. Sê jou sê en kry klaar. (Ek verwys hier nie na literêre fiksie nie.)

Skryfwenke: hoeveel beskrywing?

Indien ek riglyne moet gee, sou ek sê:

  1. Indien dit nié die plot bevorder of karakters beskryf nie, vermy detail. As dit wat jy beskryf nie belangrik is en ‘n verskil aan die plot of karakterisering gaan maak nie, beperk die beskrywing of laat dit uit. In ‘n riller, byvoorbeeld, dra die beskrywing tot verhoogde spanning by. Vra jouself af wat die beskrywing tot jou storie bydra.
  1. ‘n Beskrywing moet die leser by die storie intrek anders is die beskrywing onnodig. Die protagonis in Sweepslag en Sindikaat is ‘n vlieghengelaar. ‘n Deel van Sindikaat speel langs die Zambezi af. Alhoewel ek van vlieghengel hou, het ek in die roman op die plot en karakters gefokus, want almal hou nie noodwendig so baie van vlieghengel soos ek nie.

Onthou, die leser gaan nie noodwendig so mal oor sokker of die natuur of kampeer wees soos jy nie. Sodra die leser paragrawe begin vluglees, het jy moeilikheid.

  1. Gebruik jou verbeelding. Stephen King het gesê verbeelding begin in die skrywer se brein en eindig in die leser s’n.

Ek glo dat verbeelding belangrik is. My jongste seun het eendag gevra ek moet Google en hom wys hoe die een of ander karakter in ‘n fantasieverhaal lyk. Toe ek hom sê om sy verbeelding te gebruik, want die karakter kan immers lyk soos hý wil hê dit moet lyk, het hy geprotesteer. Hy wou weet hoe die ‘regte’ karakter lyk. Visuele media (TV/film ens.) voer ons en maak ons lui.

  1. Beskryf tonele só dat die leser se verbeelding nie oorbodig raak nie.
  1. Gebruik dinamiese woorde in veral fantasie en wetenskapsfiksie. Indien jy dinamiese woorde gebruik, sal jou sinne korter wees en kan jy terselfdertyd meer oordra.
  1. Kombineer die beskrywing met ‘n handeling. Sodoende slaan jy twee vlieë met een klap.

“Die maerder tardigrada stoei by die trappe op. Die dierasie sukkel om met sy kloue vastrapplek op die houttrappe te kry, maar is nie dom nie. Die mutant gebruik sy kop en snoet, saam met sy agt pote om hom na bo te help.” (Spel, bl. 133)

  1. Maak van die leser se sintuie gebruik. Wys, moenie vertel nie.

“Gedurende die dooie ure van die nag het sy [Jolene] agter sy [Lukas se] rug ingeklim — voordat die tardigrada die heuninggevoel ven lepellê kom versteur het.” (Spel, bl. 135)

  1. Gebruik perspektief om die beskrywing oor te dra. Wie is jou fokaliseerder? Wat sien hy/sy en hoe sien hy/sy die ander karakters?
  1. Waar dit karakterbeskrywings aanbetref, moenie slegs op die uiterlike fokus nie, maar ook op die karakter se mannerismes en die innerlike. Watter aspekte van die karakter is belangrik? In The Hunger Games kom die leser heel eerste te wete hoe Katniss Everdeen se stewels lyk. Hoekom? Want sy is ‘n jagter. Sy jag vir oorlewing. Voordat ons dus weet hoe haar hare en neus lyk, kom ons te wete hoe haar stewels lyk. Ek wil graag weer na die volgende voorbeeld rakende die belangrikheid van dialoog verwys (in hierdie geval is die tweede voorbeeld ook beskrywend).

“Vertel my van jou beste vriend.” Die polisieman  staar na die bloedkol langs die liggaam.

vs.

“Jou beste vriend was ‘n wetter, nè?” Die polisieman  staar na die bloedkol langs die liggaam.

                Wat is die verskil?

  1. Gebruik die karakters se agtergrond (backstory) as deel van jou karakterbeskrywing, maar moenie inligting met ‘n skopgraaf op die leser afgooi nie. Gee dit drupsgewys deur en vervleg dit deur die storie.

Skryfwenke: hoeveel beskrywing?

Lees soveel as moontlik en kyk waarvan jy in boeke hou en wat jou frustreer. Hoekom frustreer dit jou?

Ek hoop bostaande help.

Lekker skryf.

Skryfwenke2: wat sê skrywers
Annerle Barnard
Skryfwenke: advies deur skrywers