Hoe werk genres?

Annerle Barnard
Eienskappe van jeugliteratuur: Spel
Annerle Barnard

Mense praat dikwels van verskillende genres boeke, maar wat beteken dit?
Literêre fiksie

Literêre fiksie word beskou as romans met artistieke waarde en literêre krediet. Literêre fiksie fokus gewoonlik op die karakter eerder as die plot en volg ‘n karakter se innerlike reis eerder as gebeure. Dit sluit dikwels sosiale kommentaar en politieke kritiek in en is nie altyd maklik verstaanbaar nie. Interpretasie verg werk vanaf die leser.

Historiese fiksie

Historiese fiksie fokus op die verlede. Dit maak  van deeglike navorsing gebruik en neem die leser na ‘n plek in die verlede (hetsy werklik of fiktief of ‘n kombinasie van beide). Historiese fiksie fokus gewoonlik op werklike figure vanuit die verlede of historiese gebeure in ‘n historiese milieu.

Die Bildungsroman

‘n Bildungsroman is ‘n storie oor ‘n jonger karakter se sielkundige en morele groei en ontwikkeling na volwassenheid. Dikwels ervaar hierdie karakter noemenswaardige emosionele verlies, onderneem ‘n reis (innerlik en/of uiterlik), ervaar konflik en ontwikkel deurgaans totdat volwassenheid bereik word. Letterlik vertaal is ‘n Bildungsroman ‘n roman wat fokus op die onderrig en die ‘opbou’ van die individu.

Romantiese fiksie

Romantiese fiksie fokus normaalweg op die ontwikkelende romanse tussen twee mense. Dis lighartig en optimisties en die einde is gewoonlik emosioneel opbouend. Romantiese romans bevat ook konflik, maar die konflik oorheers nooit die romantiese verhouding nie. Die hele verhaal werk mee om ‘n bevredigende romantiese einde te bewerkstellig.

Speurverhale

Speurverhale volg as ‘n reël die speurder se bewegings terwyl hy/sy ‘n saak oplos. Gedurende die verloop van die verhaal word die leser by die storie ingetrek en die leser help uiteindelik (op ‘n kognitiewe vlak) om die verhaal op te los. Spanning en die tempo hou die leser se aandag. Speurverhale eindig dikwels met ‘n oplossing en ontknoping wat die leser se opopgeloste vrae beantwoord.

Rillers en spanningsverhale

Rillers (thrillers) en spanningsverhale is plotgedrewe verhale wat boei. Dit maak gebruik van onverwagse wendings in die plot, asook naelbyters om die leser deurgaans aan die raai te hou.

Annerle Barnard
4 Skryfwenke vir jou (6)
Waarom skryf jy?

Gruverhale, oftewel grillers

Gruverhale (horror) oftewel grillers is bedoel om die leser te skok en soms selfs weersin te veroorsaak. Dit stimuleer en floreer op vrees en fokus dikwels op die dood, die paranormale, demone, bose geeste, ens. Die plot en karakters werk saam om afwagting en ‘n gevoel van naderende onheil te bewerkstellig.

Die wilde Weste (Westerns)

Verhale oor die wilde Weste (Westerns) fokus op ‘cowboys’ en uitgewekenes wat ‘n ongetemde deel van Amerika probeer tem. Dit bevat gewoonlik elemente eie aan hierdie genre, maar die genre is nie meer so gewild soos wat dit in die verlede was nie.

Spekulatiewe fiksie

Spekulatiewe fiksie is ‘n subgenre met fiktiewe elemente wat nie in die werklikheid gevind word nie. Dit sluit wetenskapsfiksie, fantasie en distopiese fiksie in. Die verhaal speel dikwels in ‘n ander/fiktiewe milieu af. Spekulatiewe fiksie ken geen grense nie. Enigiets is moontlik. Solarpunk vorm deel hiervan. Steampunk is dikwels aan historiese fiksie gekoppel, maar dit is ook deel van spekulatiewe fiksie.

    1. Wetenskapsfiksie (sci-fi) is spekulatiewe stories met fiktiewe elemente. Sommige wetenskapsfiksie verhale is op die ‘harde’ wetenskappe gebaseer: op fisika, chemie en astronomie. Ander word deur ‘sagter’ wetenskappe geïnspireer, naamlik sielkunde, sosiologie en antropologie. Algemene elemente is die reis deur tyd, die verkenning van die ruimte en toekomstige/futuristiese/verbeelde beskawings.
    2. Fantasie fokus op spekulatiewe stories met fiktiewe karakters in verbeelde wêrelde. Dit word dikwels deur mitologie of volksverhale geïnspireer en sluit soms magiese elemente in. Hierdie genre is op beide die jeug sowel as volwassenes gefokus. Vir hierdie tipe genre moet die skrywer ‘n bevredigende nuwe wêreld kan skep (‘world building’).
    3. Distopiese fiksie word as deel van wetenskapsfiksie beskou. Die milieu is slegter as die een waarin ons lewe. Dit vorm ‘n kontras met ‘n utopiese beskawing (beter as die een waarin ons tans lewe).

Magiese realisme

Magiese realisme beeld die werklikheid uit, maar sluit magiese elemente in. Fantasie word in hierdie wêreld nie as vreemd beskou nie, maar as deel van die milieu. Die genre het vanuit die realisme ontstaan en word dikwels met Latyns-Amerikaanse skrywers geassosieer.

Realistiese fiksie

Die milieu in realistiese fiksie is 100% werklik. So ook die mense, plekke en storie. Alles sou in die werklike lewe moontlik kon wees en sluit by ons begrip van die normale aan.

Christelike fiksie

Christelike fiksie fokus op ‘n Christelike perspektief — via die karakters en plot. Die Christelike aspekte van hierdie genre hoef nie allesoorheersend te wees nie, maar die ontknoping bied dikwels ‘n bevredigende en positiewe uitkoms. Dit is dikwels vermeng met ‘n ander genre, byvoorbeeld romanse, rillers, grillers, fantasie, ens.

Vermenging van genres

Soms bevat ‘n roman elemente van twee of meer genres, veral in die geval in jong volwasse- of jeugfiksie. 

Sweepslag en Sindikaat sou as realistiese fiksie beskryf kon word, maar beide is ook spanningsverhale.

Spel is wetenskapsfiksie, fantasie en ‘n spanningsverhaal. Dit is dus in wese spekulatiewe fiksie, maar het ‘n groen tema. Dit bevat dus ook elemente van Solarpunk.

Al drie boeke behoort tot die jeugfiksie-kategorie en is dus eintlik boeke vir tieners, maar daar is vele volwasse lesers wat ook daarby aanklank vind.

Laat weet asseblief indien jy enige verdere vrae oor die onderskeie genres het.

Hoe werk genres?
Die uiteensetting van plot
4 Skryfwenke vir jou (6)