Ek moet bieg dat ek ook daarmee stoei om voldoende skryftyd te kry. Ek ry kinders rond, probeer ‘n besigheid bedryf en skryf. Glad nie maklik nie.
In een uur per dag kan ‘n mens baie vermag. Meer as wat jy dink. Maak egter seker dat jy weet waar om die volgende keer aan te gaan ten einde nie tyd te mors nie.
Wanneer ek ophou skryf vir die dag, maak ek net daar waar ek opgehou skryf het (op my manuskrip) vir my notas (en highlight dit met geel of pienk of groen) sodat ek die volgende keer weet waar om aan te gaan. Toe ek aan Sindikaat geskryf het, sou ek byvoorbeeld ná hoofstuk 25 ‘n nota gemaak het wat bloot lees:
Bostaande het die inhoud van hoofstuk 26 geword. Dit het gehelp dat ek presies geweet het waar om aan te gaan, ten einde nie kosbare tyd te mors nie.
Ek het tydens ‘n besoek aan die Bosveld aan Spel (wat ek vir die Sanlam-prys vir Jeugliteratuur, 2021 ingestuur het) geredigeer.
Heelwat mense redigeer terwyl hulle skryf. Ek het dit aanvanklik probeer, maar dit werk nie vir my nie. ‘n Mens raak so verstrengel in jou redigeerwerk dat die storie glad nie vorder nie. Ek het gevoel dat ek net mooi niks bereik nie. ‘n Mens kan nie sien wat van jou harde werk geword het nie. Daarom skryf ek die hele manuskrip klaar en begin dan om te redigeer. Indien daar egter ‘n groot verandering is waarsonder die storie nie kan vorder nie, sal ek die verandering eers aanbring en dan verder skryf.
Die beste plek en tyd sou in stilte in jou studeerkamer wees (met heeldag se ononderbroke skryftyd), maar vir baie van ons is daardie slegs ‘n droom. Ek weet van skrywers wat in vliegtuie en in koffiewinkels skryf. Ek het al in my motor voor die skool met my skootrekenaar op die passasiersitplek gaan sit en skryf ten einde ‘n sperdatum te haal. Indien dit vir jou belangrik is om te skryf, maak van enige tyd en enige plek wat hom daartoe leen, gebruik. Ek het al by koffiewinkels gevra of ek my skootrekenaar kon inprop en ek moet sê dat al die eienaars tot dusver baie gaaf en behulpsaam was.
Dis nie altyd maklik nie. Al wat ek weet, is dat as daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.
Dit het al baie met my gebeur. Wanneer omstandighede van so ‘n aard is dat ek nie my skootrekenaar kan saamneem nie, lees ek materiaal vir navorsing. Ek het byvoorbeeld vandag ‘n boek wat ek saamneem skool toe en ek beplan om dit te lees en notas te maak terwyl ek langs die sportveld sit en wag. Onthou dat lees ook navorsing is. Ek het altyd ‘n boek op my foon (wettig!) en wanneer ek byvoorbeeld by die dokter se spreekkamer sit en wag, lees ek.