Hoe gemaak met kritiek?
Wanneer jy skryf en jou storie aan ‘n uitgewer stuur, betree jy ‘n publieke sfeer. Dit maak nie saak hoe goed jy skryf nie, daar sal altyd iemand wees wat nie daarvan hou nie.
Hoe ek so iets kan sê? Maklik. Hou jy van William Shakespeare se werke?
Ek is mal oor Shakespeare se werke, maar in my vriendekring is daar bitter min met ooghare vir Shakespeare.
Selfs Shakespeare was nie van kritiek gevrywaar nie.
Hoe gemaak met kritiek?
Negatiewe kritiek is nooit lekker nie. Daar is mense wat nie ‘n hand aan ‘n pen wil waag nie en selfs mense wat opgehou skryf het omdat hulle nie vir die kritiek kans sien nie.
1. Vel soos ‘n renoster
Wanneer ‘n mens skryf, moet jy ‘n dik vel ontwikkel. Troos jou hieraan, die rugby-afrigters en -spelers wêreldwyd se werk is ook publiek en hulle kry beslis kritiek. Daar is egter (ongelukkig!) minder mense wat lees as wat rugby kyk.
- Wanneer jy ‘n vel soos ‘n renoster ontwikkel, sal jy minder bang wees om jou werk met ander te deel.
- Konstruktiewe kritiek help ‘n mens om te verbeter — en dis een ding waarna ons almal streef: om jou absolute beste te lewer.
- Terugvoer moet jou inspireer om te verbeter, eerder as om jou in sak en as te laat sit.
Onthou, selfs al ontwikkel ‘n mens ‘n vel soos ‘n renoster, is daar nie eintlik iets soos terugvoer wat sonder enige pyn gepaardgaan nie. Dis moeilik om te hoor dat iets nie heeltemal is soos wat lesers dit sou wou hê nie. In dieselfde asem wil ek jou egter ook aan Shakespeare herinner.
2. Lesers vs. uitgewers, manuskripontwikkelaars en resensente
- Dit is goed om lesers vir terugvoer te vra. Hulle is nie professionele persone nie, maar hulle terugvoer het beslis groot waarde.
- Omdat ek jeugromans skryf, vra ek altyd ‘n tiener of twee vir hulle terugvoer. Al wat ek wil weet, is:
- Is die storie boeiend?
- Indien dit jou aandag op plekke verloor het, waar?
- Waarvan het jy gehou of nie gehou nie?
- Maak die storie en karakters vir jou sin?
- Wat sou jy byvoeg/verander, indien jy kon?
Ek ontvang graag terugvoer, maar besluit dan self waarmee ek saamstem en waarmee nie. In my mees onlangse manuskrip het twee tienermeisies onder andere vir my gesê dat hulle meer oor ‘n sekere karakter wou weet en en meer oor die verhouding tussen twee karakters wou weet en ek het bietjie daarop uitgebrei, want ek het gevoel dat hulle kommentaar beslis waarde het.
Tydens die skryf van my debuutroman, Sweepslag, het ‘n tienermeisie vir my notas op ‘n gedrukte weergawe van die manuskrip gemaak om aan te dui wat vir haar werk en wat nie. So ook met Sindikaat.
Met elkeen van my manuskripte het ek ‘n tiener of twee (asook twee of drie volwasse betalesers) vir terugvoer gevra. Glo my, dis beslis nie moeite werd, maar onthou my storie oor Shakespeare. Die finale besluit lê by jou.
3. Moenie jou geliefdes vir terugvoer vra nie
- Jou ma, ouma en ander helfte gaan moontlik dink dat als wat jy doen perfek is en gaan nie die kritiek lewer wat nodig is ten einde jou manuskrip te verbeter nie.
4. Hoe gemaak met persone wat namens jou besluite wil neem?
- Uitgewers en manuskripontwikkelaars is die mense met die kennis en insig. Neem hulle advies ter harte. Jou vriende dink dalk hulle kan help, maar gaan jou moontlik van die wal af in die sloot help.
- Iemand het lank gelede aangebied om my manuskrip vir my te proeflees omdat die persoon ‘n kenner op ‘n sekere gebied is. Wat ek skryf, het egter niks met daardie spesifieke veld uit te waai nie. Ek het hoflik bedank, maar nooit die manuskrip aan die persoon gestuur nie.
- Mense het my ook al gevra waarom ek jeugromans skryf en nie eerder volwasse fiksie nie, want ‘kinderboeke is te maklik’. Ek gaan nie eens die moeite doen om hier te probeer verduidelik nie. My standaard antwoord is: ek skryf waarvan ek hou.
- Dis jóú storie, jou besluit.
Waat kan jy my boeke koop? Hier!
Kan jy my boeke aanlyn koop? Ja. Hier.