Funksie: karakterontwikkeling in stories

Skryfwenke2: wat sê skrywers
Funksie: karakterontwikkeling in stories
Annerle Barnard

Funksie: karakterontwikkeling in stories

 

Ek lees gereeld na oor skryftegnieke (ja, dis seker maar die nerdy deel van my persoonlikheid wat hier uitklim). Dit wat ek interessant vind, deel ek graag:

Funksie: karakterontwikkeling in stories

Elke mens wil iets hê. Vra jouself af wat jou karakters wil hê of wil bereik. Skryf dit waarna jou protagonis streef in die openingstoneel, indien moontlik. Die leser sal slegs omgee indien die karakters genoeg omgee en daarom moet die karakters bereid wees om berge te versit ten einde hierdie doelwit te bereik.

Net soos wat jy met sekere vrese moet saamleef, is dit ook die geval met jou karakter.  Ons praat nie noodwendig altyd oor ons vrese nie, maar dit dryf ons denke, handelinge, ens. Maak seker dat jy jou protagoniste se vrese as werklik uibeeld ten einde seker te maak dat die leser met die karakters identifiseer.

Wat sal maak dat die leser jou storie lank na die afloop daarvan onthou? Almal van ons het al ‘n boek gelees/film gekyk wat jou agterna bybly en waarvan jy nie kan vergeet nie. Net so, moet jou storie jou lesers bybly. Alle mense het eienskappe, mannerismes, idees en spraakpatrone wat hulle uniek maak. Hier dink ek onmiddellik aan die TV-reeks Bones en die verskil in karakters tussen Bones/dr. Temperance Brennan (die forensiese antropoloog) en Booth (die FBI-agent). Ook die ander karakters is absoluut boeiend: Angela, Zach, Hodgins, Nigel Murray, ens. Ek vermoed een van my gunstelinge is Fisher.

‘n Film wat dadelik met my gedagtes begin stoei, is Silence of the Lambs. Jip, daar is darem maar net een Hannibal Lecter.

Funksie: karakterontwikkeling in stories

In Sweepslag, Sindikaat en Spel het ek bogenoemde probeer toepas.

In Spel wil Lukas Brandt (protagonis) eintlike net oorleef. Onder die radar bly en oorleef. Sy broer, Daniël, word ontvoer en sy doelwit verskuif: hy weet hy moet Daniël red. Sy grootste vrees is dat Daniël iets sal oorkom. Ten einde Daniël te probeer red, moet hy die transterrane en kuborge (sy grootste vrees) trotseer. Wat maak dat jy die storie agterna onthou? Lukas is ‘n unieke karakter. Hy lei aan ADHD en die gepaardgaande angs, sowel as eko-angs, maak hom kortaf en impulsief. Soms hou mens van hom en ander kere nie, maar Lukas se agtergrondstorie maak dat die leser wil hê hy moet slaag.

Internasionale leesstof: die tipes karakters wat uitstaan, Katniss Everdeen, Harry Potter, Atticus Finch, ens. is karakters wat die volgende eienskappe deel:

  • Hulle is groter as die lewe self, maar steeds menslik met foute.
  • Moed is vir hulle nie die afwesigheid van vrees nie, maar die vermoë om te handel en ‘n doelwit te probeer bereik, selfs al staar hulle gevaar in die oë.
  • Hulle leer uit hulle foute en bereik groot morele oorwinnings.

Funksie: karakterontwikkeling in stories

Kan ‘n perfekte protagonis werk? Nee. Mak is vaak. Karakters moet interessant wees: dink aan Harry Hole in Jo Nesbo se reeks, Jack Reacher in Lee Child se reeks, Michael Connelly se Lincoln Lawyer-reeks, Louisa Clark en William Traynor in Me Before You, Tris en Four in die Divergent-reeks van Veronica Roth, ens. Ja, die protagonis kan beslis heldhaftig wees, maar nooit perfek nie.

Funksie: karakterontwikkeling in stories

Lekker skryf!

Annerle Barnard
Skryfwenke2: wat sê skrywers
Annerle Barnard