


Emosie: karakter- vs. plotgedrewe stories
Ek sien dikwels dat mense praat van karakter- vs plotgedrewe romans of kortverhale of wat ook. Dan wonder ek of hulle ooit raaksien indien ‘n roman beide is. Dit is moontlik om karakters deeglik te ontwikkel en terselfdertyd op ‘n lekker plot te fokus.
Ter wille van diegene wat wil weet: hoe skep ‘n mens emosie? Of hoe ontwikkel jy emosie en karakter? En wat sê Alfred Hitchkock oor emosie?
Emosie: karakter- vs. plotgedrewe stories
1. Gaan verder as die voor-die-hand-liggende:
Moenie net sê “Sy was hartseer” (vertel) of “Hy was kwaad” (vertel) nie – WYS dit deur:
- Fisiese leidrade: bewerige hande, vlak asemhaling, ’n styfgeklemde kakebeen.
- Liggaamstaal: hangskouers, rondstap, oogkontak vermy.
- Stem: breek, fluister, praat té hard.
Indien jy wonder, gaan kyk na Hilda in Donkerster. Sy ly aan asma (bl. 126 en 146). Wat gebeur wanneer sy ‘n asma-aanval kry. Moenie vertel sy’t asma nie. Wát gebeur wanneer ‘n asma-aanval haar beetpak?
Hoe voel sy oor die manier waarop die seuns vs. die meisies wat oortree, hanteer word? Hoe voel Sam oor sy boetie se verdwyning?
Julian (Carli se boetie) sukkel met allergieë. Hoe lyk dit? Hoe weet jy hy stoei met allergieë?
Wat merk jy in Gif? Hoe voel Joe, Nathe en Thabo oor hulle plekke in die span? Wil Sticks rugby speel? Hoe voel hy oor rugby en waarom speel hy rugby?
Emosie: karakter- vs. plotgedrewe stories
2. Laat die Omgewing Emosie Weerkaats
Die omgewing kan die innerlike wêreld van die karakter weerspieël of versterk.
- ’n Gelukkige karakter mag die warmte van sonlig op haar vel raaksien.
- ’n Rouende karakter mag die stilte in ’n huis opmerk wat eens vol lewe was.
Kyk na bl. 196 in Spel. Waarop dui die omgewing?
Emosie: karakter- vs. plotgedrewe stories
3. Laat die leser binne die karakter se kop en liggaam inbeweeg.
- Gedagtes: “Wat as hy nooit terugkom nie?”
- Sensasies: ’n stywe bors, maag wat sak, hart wat bons.
- Konflik: “Sy wou skree, maar haar stem het in haar keel vasgesteek.”
Lees bl. 230 – 234 van Sindikaat. Wat gebeur hier met Paul? Wat het hom so ontstig dat hy nie normaal kan fuksioneer nie?
Emosie: karakter- vs. plotgedrewe stories
4. Speel met Subteks
Dikwels lê die krag in wat die karakter nie sê nie.
- ’n Seun by sy pa se begrafnis maak grappies eerder as om te erken hy’s hartseer.
- ’n Meisie sê vir haar vriendin sy’s “okay” terwyl sy haar naels in haar palm indruk.
In Sweepslag word die leser met Paul Rudman se humorsin gekonfronteer. Waarom juis, terwyl die omstandighede iets is waaroor ‘n mens eintlik moet ween?
Emosie: karakter- vs. plotgedrewe stories
5. Wissel Intensiteit en Laag Emosies
Regte emosie is selde enkelvoudig. ’n Karakter kan tegelyk kwaad én skuldig voel, of verlig maar onseker wees. Hierdie lae maak dit ryker.
Carli Kirstein in Donkerster is ‘n tipiese voorbeeld hiervan. Sy is superslim en baie mooi, maar sy’t eintlik ‘n lae selfbeeld. Hoe weet jy dit?
Emosie: karakter- vs. plotgedrewe stories
6. Laat die Dialoog vir jou Werk
Emosie glip dikwels deur in wat karakters sê — en nie sê nie.
- Gebruik onderbrekings, pouses, onafgemaakte sinne.
- Laat hulle iets te vinnig uitblur of te lank huiwer.
Op bl. 124 – 126 in Donkerster kom ‘n mens heelwat oor Hilda en Sam uit die dialoog te wete. Besluit self wat jy oor hulle karakters en emosies te wete kom.
Hoekom is Lukas Brandt in Spel so befoeterd?
Emosie: karakter- vs. plotgedrewe stories
7. Gebruik Beelde en Simboliek
Sterk vergelykings kan emosie vasvang.
- “Rou was ’n klip in haar keel wat sy nie kon insluk nie.”
- “Sy woede het styf saamgesnoer, ’n slang gereed om te byt.”
In Sweepslag, Sindikaat, Spel, Gif en Donkerster is voorbeelde hiervan.
Emosie: karakter- vs. plotgedrewe stories
Indien iemand in die toekoms vir jou sou sê dat daar emosie in jou storie kort, weet jy nou waarna om te kyk.
Lekker skryf.


