Eienskappe van jeugliteratuur

Annerle Barnard
Annerle Barnard
Annerle Barnard

Eienskappe van jeugliteratuur: Spel

Die benaming “jeugliteratuur” verwys eintlik nie na ‘n genre nie, maar wel ‘n kategorie. Hierdie kategorie sluit wel alle genres in, naamlik spanningsverhale, romanse, die Bildungsroman, wetenskapsfiksie, fantasie, ens.

Eienskappe van jeugliteratuur Fokusareas:

Jeugliteratuur moet die wêreldbeskouing van die hedendaagse jeug reflekteer — anders sal hulle nie daarby aanklank vind nie. Tieners is intelligent. ‘n Mens moet hulle nie onderskat of probeer mislei nie.

Fiksieskrywers se rol is nie om te preek of ‘n ideaal te verkondig nie, maar om omstandighede en mense op enige gegewe stadium in die geskiedenis te weerspieël. Daarom sal die karakters, gebeure, temas  en taalgebruik in The Adventures of Tom Sawyer (Mark Twain, 1876) heeltemal verskil van die van Sindikaat, 2019 en Spel, 2021 (Annerle Barnard).

Jeugliteratuur: ouderdomme

Jeugliteratuur as kategorie sluit ‘n verskeidenheid ouderdomme in, maar ‘n agtienjarige stel beslis nie belang in boeke wat vir ‘n 12-jarige geskryf is nie. Die jeug sal boeke vir ouer groepe (insluitend volwassenes) lees, maar nie maklik boeke wat vir jonger kinders (d.w.s. jonger as hul eie ouderdom) geskryf is nie.  

8 – 12:  (kinderfiksie/Middle School fiction): boeke bestaan uit ongeveer 25 000 woorde en bevat ouderdomsverwante temas. Geen kru taal, grafiese geweld of seksuele inhoud is toelaatbaar nie. Die fokus is op die onmiddellike (boeliegedrag, familie en vriende en die protagonis se verhouding met familie en vriende, ens.)

Skrywers: De Wet Hugo, Jaco Jacobs

12 – 14: boeke bestaan uit ongeveer 25 000 – 45 000 woorde. Die fokus is vermaak. Temas is soortgelyk aan jeugfiksie vir ouer kinders, maar minder donker.

Skrywers: Christien Neser, Troula Goosen, Constant van Graan, Jaco Jacobs. Anzil Kulsen

14 – 16: boeke vir hierdie ouderdomme is ‘n oorbrugging tussen literatuur vir ouer en jonger kinders. Temas: skuif weg van die gesin na ‘n ruimte buite die gesin (die individu se plek in die samelewing).

Skrywers: Elrien Scheepers, Zelda Bezuidenhout, Fanie Viljoen

16 – 18: bestaan uit 50 000 – 70 000 woorde. (Fantasie sal langer wees). Temas is soortgelyk aan die van volwassefiksie (dood, geloof, politiek, ekonomie, seksualiteit, liefde, vriendskap, geestesgesondheid, oorlewing, ens.). Let wel: jeugfiksie is nié ‘n afgewaterde, makliker weergawe van volwassefiksie nie.

Vir my persoonlik, is perspektief (‘n volwasse perspektief verskil van ‘n jeugdige perspektief!) oneindig belangrik. 

Voorbeeld: Indien ek op ‘n motorfiets klim, sal ek aan die gevare (geen veiligheidsgordel, ‘n mens is blootgestel, ens.) dink en baie versigtig ry. Die meeste agtien-jariges gaan reken my kop raas. Hulle sal wil vet gee.  

Skrywers: Annerle Barnard, Joha van Dyk, Carel van Rooyen, Jan Vermeulen, Fanie Viljoen, ens.

Voorbeelde:

  • Annerle Barnard: Sweepslag (2019), Sindikaat (2019), Spel (2021)
  • Joha van Dyk: Branderjaers en Vuurvreter
  • Carel van Rooyen: Skeur
  • Sarah J. Maas: Throne of Glass series, Court of Thorns and Roses series
  • Cassandra Clare: The Shadowhunter Chronicles
  • Jennifer Niven, John Green, Veronica Roth, Suzanna Collins

Toelaatbaar:

  • Kru taal en grafiese geweld.
  • Romanse, maar nie erotika nie. (Op die sosiale media toep, TikTok, meen heelwat tieners egter dat hulle mal is oor warm seksuele inhoud. Van hulle beskryf dit as “smut” en dui aan dat dit hulle gunsteling leesstof is, byvoorbeeld Sarah J. Maas, Anna Todd, ens.

Spel: eienskappe eie aan jeugliteratuur

  • Die jeug kan met die karakters (kompleks) en die krisis identifiseer.
  • Vinnige tempo.
  • Nie pretensieus nie.
  • Uitdagende temas.
  • Perspektief en die ouderdom van die protagonis

Temas in Spel:

Die sewentienjarige Lukas is een van ’n handjievol oorblywende mense nadat die aarde deur kuborge, transterrane en robotte oorgeneem is. Hy en Dimpho boer op Lukas-hulle se plaas in die Bloemfontein-omgewing. Wanneer hongersnood die voortbestaan van die superwesens bedreig, stel die wrede heerser Dakian ’n bose plan in werking om Lukas te vang en toegang tot sy oorlewingstrategieë te verkry. 

  • Angs en eko-angs
  • Siekte (ADHD)
  • Puin en oorlog
  • Vriendskap en liefde
  • Voedselvoorsiening vs. hongersnood
  • Vryheid vs. onderdrukking
  • Goed vs. kwaad
  • Oud vs. nuut
  • Oorlewing vs. dood
  • Medemenslikheid vs. kunsmatige intelligensie
  • Verlies en vindingrykheid

 

Annerle Barnard
Annerle Barnard
Annerle Barnard

Karakters in Spel:

Omdat Lukas Brandt (17) en sy vriend, Dimpho (17) in vreemde omstandighede grootword, klink hulle nie soos tipiese tieners nie. JJ (18) het pers hare en die stem van ‘n engel, maar ‘n persoonlikheid wat by sy klere en juwele pas. JJ gebruik soms slengtaal, maar nie Lukas nie. Jolene (15) het by robotte grootgeword en alhoewel sy oor goeie Afrikaans beskik, is sy nie vertroud met die idiomatiese taalgebruik wat Lukas en R0M30 (oftewel, Romeo, ‘n kuborg) gebruik nie.

Navorsing:

Agter in die jeugroman, Spel, is ‘n bronnelys wat dui op die navorsing wat die roman onderlê. Die skrywer het ‘n groot aantal feite deur die fiksie verweef, byvoorbeeld die inligting oor nanotegnologie, kurbernetiese organismes (cyborgs), transterrane (transhumans), robotte, Bloody Butcher mielies, voedselnood en volhoubare bronne, oorlog, die Vacanti-muis, klank as wapen, ens.

Vir meer inligting, verwys asb. na die bronnelys agter in Spel sowel as onderstaande twee blogplasings.  

https://annerlebarnard.co.za/spel-feit-of-fiksie/

https://annerlebarnard.co.za/spel-feit-of-fiksie-2/

Eienskappe vnan jeugliteratuur Spel: lesersindruk.

Spel is veel meer as slegs ‘n jeugroman. Dis ‘n boek met soveel lae en fasette dat enige persoon tussen 14 en 100 daarby aanklank sal vind.

Spel handel oor Lukas, `n 17-jarige seun, wat deel is van die klein persentasie van die aardse bevolking wat oorleef het nadat die res van die mensdom deur oorlog en siekte uitgewis is.

Die Saevissimi, `n superras transterrane, is aan bewind en hulle is op Lukas se spoor.

Spel se temas fassineer: vryheid en onderdrukking, die stryd tussen goed en kwaad, samewerking vs. oorlog, medemenslikheid vs. kunsmatige intelligensie, sowel as die eko-angs van die moderne mens.

Dis ‘n verhaal oor verlies en vindingrykheid. Hierdie boek se groen tema is van kardinale belang vir ons hedendaagse samelewing.

Lukas en Dimpho, asook Lukas en Fidelis se vriendskap dien as metafoor vir dit wat vermag kan word wanneer mense saamwerk en kennis deel. Spel is uitstekend nagevors en geskryf, maar dit lees terselfdertyd lekker.

Lukas en Jolene is aangetrokke tot mekaar. Gaan Lukas die moed hê om met Jolene oor sy gevoelens te praat? Die spanningslyn boei en die vele intriges hou die leser nuuskierig.

Hierdie boek is veel meer as ‘n goeie storie en sterk karakters. Die verhaal handel oor die belangrikste spel ooit, ‘n spel om oorlewing en wie die beste skuif kan maak ten einde die spesie se voortbestaan te verseker.

Die skrywer slaag daarin om oënskynlik uiteenlopende temas in te span om ’n heerlike storie — met baie stof tot nadenke — te vertel.

Genre: wetenskapsfiksie. Ouderdom: 14 – 100+
Betaleser: Cara-Lu Graham

Eienskappe van jeugliteratuur: Spel

Wanneer jy weer ‘n jeugroman lees, let veral op die perspektief. 

Kliek hier indien jy wil weet by watter winkels Spel te koop is. 

Ek hoop en vertrou dat bostaande voorbeelde van hulp was. 

Lekker skryf. 

Eienskappe van jeugliteratuur: Spel
Eienskappe van jeugliteratuur: Spel
Eienskappe van jeugliteratuur: Spel