Drama met die diere

Drama met die diere
Drama met die diere
Drama met die diere

Drama met die diere

“Daardie poedel dink sy is ‘n Jack Russel. Sy gaan fynvleis van julle hoender maak.” My argument val op dowe ore.

Ons het ‘n nuwe silkie (hoendertjie) om die skadelike insekte in die tuin uit te sorteer. Sy het daardie oggend eers haar intrek geneem en het onmiddellik die kinders se troeteldier geword. Ons poedel is egter nie ‘n Paris Hilton handsakpoedel nie en gevolglik verwag ek moeilikheid. Gade wen egter die meningsverskil en ons ry.

Dit reën vere

Terug by die huis, stoot ek die voordeur oop. My maag sak tot in my skoene en my asem is te min. Deur die skuifdeure na agter sien ek reeds ons grasperk is veerwit.

Drama met die diere?

Die kinders huil onophoudelik. Oudste (nou ‘n tiener) was destyds ongeveer sewe en Jongste (tans ‘n tween) drie, dink ek.

“Wat maak ons met die dooie hoender?” wil manlief verslae weet.

“Sit hom in ‘n sak, dan bêre ek hom in die yskas tot more.” (Ons het destyds in die dorp gewoon en ek het geen idee gehad wat anders om met die hoender te doen nie.)

“In die yskas?”

Ek verduidelik dat een van ons werknemers heel moontlik iemand sal teëkom wat ‘n silkie sal wil gaarmaak. (Dit was toe ook so.)

“Maar dis ons hóénder,” protester Gade. Hy kyk met nuwe oë na my en nee, dit het niks met my wonderlike persoonlikheid te doen nie.

“Presies. Dis nie ‘n kat of ‘n hond nie. Dis ‘n hoender.”

(Ten spyte van my eie hartseer oor die oulik silkie, is ek vreeslik rasioneel, soos wat ek nou maar soms is. My pa was ‘n kind tydens die Groot Depressie en ‘n tiener tydens die Tweede Wêreldoorlog en omdat hy die ekonomiese impak van beide beleef het, het hy ons geleer dat ‘n mens nie mors met kos wat iemand anders dalk nog sou wou eet nie.)

Uit die dood opgewek?

‘n Ruk nadat ek die silkie in ‘n PnP-sak in die yskas gedruk het, kom vra Jongste my vir ‘n pleister. Ek los die boksie op die kombuiskas en maak aandete.

“Wat maak die kind?” wil Gade meteens weet.

Toe ek die silkie by Jongste neem en die klomp pleisters wat hy op die hoender geplak het, begin aftrek, huil albei seuns hulself in ‘n ander bloedgroep in.

Geskroeide vlerke?

“Mamma, boetie lyk so onskuldig-stout,” sê Oudste gister (14 Augustus 2021).

“Nou wat beteken dit?”

“Hy lyk soos ‘n engeltjie, maar as hy aankom, sien jy hier kom moeilikheid.”

Nou ja … Dit klink vir my ‘n bietjie soos die pot wat die ketel swart noem. Of is dit nou andersom? Wat ook al. Beide se vlerke is erg geskroei.

*

Ek is seker jou werf is nie sonder drama nie. Deel jou storie met ons.

Drama met die diere
Drama met die diere
Drama met die diere

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *