Wil jy jou manuskrip deur ‘n tradisionele uitgewer laat publiseer, maar weet nie hoe gemaak nie? Jy het dalk al probeer, maar was nie suksesvol nie? Hier is ‘n paar wenke wat jou moontlik op die pad na publikasie mag help:
Voordat ek met my eerste jeugroman begin het, het ek ‘n slypskool/skryfkursus bygewoon. Dit was van onskatbare waarde. Ek het onder andere geleer wat wys vs. vertel beteken. Dit klink dalk onbenullig (of maklik), maar dis noodsaaklik (en minder maklik as wat ‘n mens dink). Plus, dis vir alle genres van kardinale belang, ook wanneer ‘n mens boeke vir tieners skryf. Die pad na publikasie is aansienlik makliker wanneer jy weet wat jy reg en verkeerd doen.
Nadat my eerste jeugroman deur ‘n uitgewer afgekeur is, het ek iemand betaal om vir my ‘n leesverslag te gee. Dit is beslis die moeite werd om ‘n goeie manuskripontwikkelaar te betaal om vir jou terugvoer te gee. Vir seker ook wanneer jy jeugfiksie skryf.
Gaan kyk op die betrokke uitgewer se webblad na hulle vereistes betreffende lettertipe, formaat en dies meer. Vir NB-Uitgewers se vereistes rakende manuskripvoorleggings, gaan kyk na die volgende blad.
Skryf oor dit wat vir jóú belangrik is en dit wat jou na aan die hart lê. Mense vertel my dikwels dat hulle ‘n briljante idee vir ‘n storie het en dat ek dit net móét skryf. Feit is, ‘n idee/storie moet met mý praat. As dit nie met mý praat nie, gaan ek nié daaroor skryf nie. Maak seker dat jou idee en tema jou fassineer.
Ek skryf jeugfiksie, want ek is mal daaroor. Dit beteken egter nié dat dit maklik is om ‘n boek vir tieners te skryf nie. Die jeug verloor vinnig belangstelling en die jeugfiksieskrywers kompeteer met elektronika, maats en sport.
Selfs as laerskoolkind het ek in die biblioteek boeke oopgemaak om die eerste sin en eerste paragraaf te lees. As dit my nie geïnteresseer het nie, het ek die boek nié uitgeneem nie.
Maak seker dat jou storie se begin die leser se aandag trek. Ongelukkig (gelukkig!) moet jy die spanningslyn dan vir die res van die manuskrip volhou, maar die lewe is kort en daar is baie boeke. Wanneer lesers (en uitgewers) nie deur jou skryfwerk gefassineer is nie, gaan hulle die boek toemaak.
Veral jeugfiksie moet van begin tot einde boei. My twee tieners raak gou verveeld wanneer die storie die spanningslyn effens verloor. Luister na ‘n uittreksel uit Sindikaat (silwerwenner van die Sanlam-prys vir Jeugliteratuur) en kyk of jy kan agterkom hoe ek spanning skep.
Baie skrywers se eerste pogings word afgekeur — selfs die wat groot en onaantasbaar lyk. Stephen King het in sy boek On Writing gesê dat hy elke ‘nee dankie’ brief vanaf ‘n uitgewer aan ‘n spyker in sy muur opgehang het. “By the time I was fourteen,” he continues, “the nail in my wall would no longer support the weight of the rejection slips impaled upon it. I replaced the nail with a spike and went on writing.”
Neil Gaiman, die beroemde skrywer (veral bekend vir sy jeugfiksie), sê die volgende: “As a writer, you’re always going to be rejected, and that’s basically healthy.”
Wanneer die eerste weergawe klaar is, is die manuskrip nog baie ver van klaar af. Herskryf, herskryf, herskryf! Tydens elke herskryf, leer ‘n mens nuwe dinge en sien jy foute wat jy vantevore nie opgemerk het nie. Herskryf en redigeer!
Ek moet eerlik erken dat ek dit baie geniet om te redigeer en hoe meer ‘n mens aangaande die skryfproses leer, hoe lekkerder raak dit.
Lees is van onskatbare waarde. Dit stimuleer onder andere jou eie kreatiwiteit. Lees veral soveel as moontlik in die genre waarin jy skryf. Ek lees daarom hope boeke vir tieners.
Dit maak dalk nie vir jou sin nie, maar wanneer jy skryf, moenie op publikasie fokus nie. Dit sal mettertyd kom. Leer soveel as wat jy kan en skryf elke dag. Word skryf-fiks. (Is daar so ‘n woord?)
Een van ons land se bekendste skrywers het (voordat ek begin skryf het) vir my gesê dat skryfwerk wat in jou laai lê, nie van jou ‘n skrywer maak nie. Wie nie waag nie, sal nie wen nie.