Die belangrikheid van karaktername

Die belangrikheid van karaktername
‘n Plotwending wat werk
Annerle Barnard

Die belangrikheid van karaktername

Karakters en dus ook hulle name, dra baie tot jou storie by. My advies is dus om jou karakters se name met oorleg te kies.

Hoe besluit ek op karaktername?

Ek besluit gewoonlik wat die karakter vir my beteken en wat die karakter verteenwoordig. Dan besluit ek watter naam ek vir die karakter wil gee.

Die belangrikheid van karaktername

Voordat ek meer oor die karakters in my boeke en die keuse van hulle name sê, kan ek dalk ‘n paar algemene riglyne deel:

  1. Moenie vir jou karakters name gee wat naby aan mekaar is en amper dieselfde klink nie, byvoorbeeld Syd en Cyd of Janet en Sanet. Dis verwarrend.
  2. Kies ‘n naam wat by die karakter se persoonlikheid pas.
  3. Maak seker dat jou karakter se naam by sy/haar etniese agtergrond pas.
  4. Hou die tydperk waarin die storie afspeel, asook jou karakter se ouderdom, in ag.
  5. Indien jy wil, gee vir jou karakter ‘n naam met betekenis.
  6. Karakters se byname dra dikwels betekenis, byvoorbeeld Donker en Konkel in Sindikaat, Bullet in Sweepslag.
  7. Maak seker dat die naam en van bymekaar pas. Othello Koekemoer is nie iets wat lekker op die oor lê nie.
  8. Moenie ‘n werklike beroemde se naam gebruik nie. Jy kan moontlik probleme optel indien jy vir Shawn Mendes sonder sy toestemming ‘n skurk in jou boek maak. Dieselfde geld vir ander beroemdes, asook bekendes in ander werke. Almal weet Macbeth was een van Shakespeare se karakters.
  9. Moenie vir al die newekarakters name gee nie. Indien die taxibestuurder of dokter in jou storie nie ‘n belangrike rol speel nie, hoef hy nie ‘n naam te hê nie.
  10. Indien jy vir jou kakrakter ‘n buitengewone naam gee, maak seker dat jy ‘n goeie rede daarvoor het.

Die belangrikheid van karaktername: die protagonis in Sweepslag en Sindikaat

Die protagonis in Sweepslag en Sindikaat se naam is Paul Rudman. Ek wou ‘n karakter skep wat nie skroom om die waarheid te praat nie. Ek het destyds aan die historiese Paulus van die Bybel gedink. Paul Rudman het egter nie Paulus se wysheid nie en daarom is sy voornaam nie Paulus nie, maar die verkorte, Engelse weergawe, Paul. Dit is dan uiteraard ook Engels om by sy van te pas. Paul se pa is Engelssprekend en sy ma Afrikaanssprekend. Die van, Rudman, is kort en kragtig. (Paul is nie eintlik iemand wat doekies omdraai nie en daarom sou ‘n lang, omslagtige naam nie by sy persoonlikheid gepas het nie.)

Bullet

Bullet is een van die antagoniste. Hy het geen genade nie. Sy naam is daarom baie gepas.

Angel Aghostinho

Tydens die ontstaan van Sweepslag het ek van die beroemde sokkerspeler, Ángel Di María, te hore gekom. Sy voornaam (van sy persoonlikheid en lewe weet ek niks nie) was die inspirasie vir my karakter se naam. Ek kon egter nie ‘n beroemde se naam gebruik sonder enige reperkussies nie en dus moes ek na ‘n geskikte van begin soek. Angel (Aghostinho) se naam in my eerste twee jeugromans, Sindikaat en Sweepslag is ironies, is presies die teenoorgestelde van dit wat hy is en daarom verwys Paul per keer na hom as die gevalle engel (Sindikaat). Ek was — en is steeds — gek oor die naam.

Bossie

Bossie se regte naam is Casper Bosman. Op bl. 8 (Sindikaat) sê Paul sy ouers moes hom eintlik Casspir genoem het. ‘n Casspir is ‘n mynbestande voertuig wat tydens die 1980’s in Suid-Afrika deur die weermag gebruik is. Bossie is dan ook min of meer soos ‘n Casspir: senuwees van staal, sterk en redelik onbuigbaar. Bossie se bynaam (afkomstig van sy van, Bosman) dui op PTSV na erge trauma, asook ‘n toestand wat dit vir soldate moeilik gemaak het om weer by die gewone lewe aan te pas na alles wat hulle gedurende oorlog ervaar het. Paul wonder in ‘n stadium of hy sy pa moet laat weet dat die bos besig is om Bossie terug te vat (bl. 165). Dit is egter nie Bossie wat aan PTSV lei nie, wel Johnny de Sousa. Paul self sukkel met depressie en angs. Ten spyte van sy bynaam, is Bossie soos ‘n Casspir — wat sy naam effens misleidend maak.

Die belangrikheid van karaktername

  • Die Chinese naam Hai (in Sindikaat) beteken ‘vanuit die see/coming from the sea’. Dit is baie doelbewus gekies vir dit wat hy verteenwoordig.
  • Ju-Long beteken ‘magtige draak.’
  • Die naam Yi, kan onder andere ‘profiting’ (om ‘n wins te maak) beteken.

 

Hierdie is enkele voorbeelde uit my twee boeke vir tieners, Sweepslag en Sindikaat. Ek kies graag karaktername en byname met betekenis, maar dit is en bly die skrywer se keuse.

Lees gerus verder indien jy meer wil weet ook die karakters in Spel se name.

Annerle Barnard
Spel
Manuskrip na gepubliseerde boek!

Die belangrikheid van karaktername

Die belangrikheid en betekenis van karaktername is iets wat ‘n mens glad nie moet onderskat nie. Hier volg nog enkele voorbeelde uit my nuutste wetenskapsfiksie jeugroman, Spel, goue wenner van die Samlam-prys vir Jeuglektuur, 2021.

Karaktername in Spel

Spel is op 20 November 2021 te Kaapstad bekendgestel. Weens die groen tema en die kwessies waarmee die protagonis worstel, behoort alle ouderdomme tussen 13 en 103 by hierdie jeurgoman aanklank te vind. 

Lukas Brandt

In my nuutste jeugroman, Spel, is Lukas Brandt die protagonis. Lukas het ‘n tradisionele, oudmodiese naam wat pas by sy taalgebruik. Aan Romeo noem hy dat ‘Lukas’ ook ‘n Bybelse naam is. Die van Brandt is afkomstig uit Duits and beteken letterlik ‘om te brand’ (afgelei van ‘brennen’). Lukas se wêreld is figuurlik gesproke aan die brand, wat lei tot ‘n gevoel van eko-angs en vervreemding, maar Lukas is nie ‘n persoon wat sit en wag vir dinge om te gebeur nie. Hy laat dinge gebeur, maak dinge brand.

Romeo

Romeo, oftewel R0M30, is een van die heel eerste transterrane wat kuborg geword het. Die eerste deel van sy naam R0M, sinspeel op ‘read-only memory’. Sover my kennis strek, word ROM nie meer in ons hedendaagse tegnologie gebruik nie.

Lukas verwys in een insident na Romeo as “Lover Boy”, ‘n verwysing na Shakespeare se Romeo and Juliet. Omdat Romeo figuurlike taalgebruik verstaan, verstaan hy dat Lukas met sy eiesoortige naam spot. Romeo is in geen romantiese verhouding betrokke nie, maar hy gee om vir mense, onthou dat hyself eens mens was.

JJ

JJ is een van die nuwe generasie jeug. Hy’t moderne hare en klere en hy gebruik sleng. (Lukas se ouers het hom en sy beste vriend, Dimpho, tuis onderrig en daarom is hulle taalgebruik meer soos die van volwassenes, eerder as skoolgaande tieners). JJ het in die krotbuurte in Bloemfontein gewoon en grootgeword (totdat sy paadjie met dié van Lukas gekruis het).

Jolene

Oor haar wil ek nie te veel sê nie. Lees Spel en laat weet my asseblief wat jy van hierdie wêreld en die karakters dink.

Spel: feit of fiksie?
Spel
Karakter: Wat beteken perspektief?