Dialoogmerkers — oukei of nie?
Daar is bekende skrywers en Kreatiewe Skryfkunsdosente wat glo dat dialoogmerkers vermy moet word. Ander skrywers voel dis in orde om te gebruik, solank dit nie die teks oorheers en vervelig raak nie. Ek sien dialoogmerkers raak en probeer dit in my eie skryfwerk beperk.
Dialoogmerkers — oukei of nie?
Waarom skrywers dikwels dialoogmerkers vermy?
- Stilering en ritme: Te veel “sê hy” of “antwoord sy” kan die vloei van dialoog vertraag en meganies laat klink.
- Show, don’t tell: Skrywers wil eerder emosie en toon wys deur aksie, liggaamstaal of stemritme as om dit te noem. Byvoorbeeld:
“Ek het jou gesoek.” Lizette se oë fokus op die skildery teen die koffiekroeg se muur..
In plaas van:
“Ek het jou gesoek,” sê Lizette.
Die eerste voorbeeld maak glad nie van ‘n dialoogmerker gebruik nie. Ons weet wie se dialoog dit is (Lizette), maar die handeling sê iets van die ruimte/milieu (hulle is in ‘n koffiekroeg). Die handeling kan iets van die karakter ook sê (hoekom fokus haar oë op die skildery agter hom en nie op hom nie?)
Dialoogmerkers — oukei of nie?
Dit maak vir my, persoonlik, veel meer sin om ‘n handeling of aksie te gebruik wat die storielyn/plot dryf (wat m.a.w. iets oor die karakter of ruimte of konflik of tyd, ens. weergee).
- Karakteronderskeiding: As elke karakter ’n unieke stem het, hoef jy nie altyd te sê wie praat nie — die leser sal dit aan die styl herken.
In Donkerster (Annerle Barnard, 2024), gebruik Sam dikwels slang en die woord “girlfriend”. Hilda skel in Duits. Carli praat meestal suiwer Afrikaans. Dit is gedoen ten einde die karakters van mekaar te onderskei sonder dat dit nodig is om te sê wie aan die woord is. Elke karakter het ‘n eie stem wat by sy/haar omgewing aansluit en help karakteriseer.
Lees Gif (Annerle Barnard, 2024). Nathe gebruik slang en die ander karakters minder, alhoewel hulle steeds na tieners klink.
Spel, (Annerle Barnard, 2021) is ‘n wetenskapsfiksieroman. In Spel praat Lukas en Dimpho suiwer Afrikaans, want hulle het tuisonderrig ontvang en nie met ander tieners gemeng nie. JJ het in die ‘slums’ tussen ander tieners grootgeword en is dus meer geneig om slang te praat. Jolene is deur robotte grootgemaak en daarom is haar Afrikaans ook daartoe geneig om suiwer te wees.
In Sindikaat (Annerle Barnard, 2021), is Paul Rudman ‘n tweetalige kind wat in Engels skoolgaan. Karlien praat Afrikaans en Adriaan is einitlik Engelssprekend.
- Minimalisme en momentum: In vinnige tonele of gespanne dialoog kan merkerlose reëls die tempo versnel en die leser meer betrek.
Dialoogmerkers — oukei of nie?
Dialoogmerkers is nie altyd sleg nie. Nie noodwendig nie.
- Hulle verduidelik wie praat, veral in lang gesprekke met veelvuldige karakters. Wees egter kreatief met die aanwending daarvan en vermy werkwoorde wat nie tipies by mense pas nie, byvoorbeeld: grom hy. Diere grom, mense nie.
- Dialoogmerkers kan toon en emosie versterk, mits dit nie oordrewe is nie.
- Dit help baie in vertellende of kinderliteratuur, waar duidelikheid belangrik is. In kinderliteratuur is dialoogmerkers dikwels noodsaaklik.
Dialoogmerkers — oukei of nie?
Alternatiewe tegnieke
- Gebruik aksie as merker:
“Ek het jou gesoek.” Sy kyk weg, haar oë blink.
In Gif (Annerle Barnard, 2024), op bl. 5 staan:
“Djoes djy?” Nathe beduie met een vinger na Henk se kaal rug en glimlag.
Bostaande is doelbewus so gedoen ten einde dialoogmerkers te beperk.
- Gebruik ritme en styl om stemme te onderskei:
“Jy’s laat.”
“Ek weet. Die trein was stadig.”
“Dis altyd iets, nè?”
Dialoogmerkers — oukei of nie?
Lekker skryf!