


Dialoog en jou storie
Dialoog? Kan dit jou storie affekteer? Beslis!
Dialoog moenie vervelig wees nie. Dit moet die plot (of storielyn) bevorder, óf karakteriseer.
Dialoog moet veral nie uit “pers prosa” bestaan nie. Wat is pers prosa (purple prose)? Dit is teks wat dit ten doel het om mooi te skryf en geen eintlike funksie het nie. Pers prosa is lang sinne met lang woorde, ’n oormaat van emosie en ’n horde clichés. Dit is dikwels melodramaties en te poëties.
Dialoog en jou storie
Sny dialoog wat geen funksie het nie, byvoorbeeld:
“Goeiedag,” sê Gretha. “Hoe gaan dit met jou? Dis warm vandag.”
Bostaande is vervelig.
Funksies van dialoog:
- Karakterisering.
- Bevordering van die plot/storielyn.
- Dit skep die toonaard en atmosfeer van die storie.
- Agtergrondsinligting kan via die dialoog verskaf word.
- Temas kan via die dialoog onthul word.
- Dit kan spanning skep.
Dialoog breek ook lang stukke narratief op en maak dit meer verteerbaar. Dit skep ’n gevoel van werklikheid en voeg diepte by ’n storie. Dit verskaf kompleksiteit. Belangrik is dat dialoog nie die storie moet oordonder nie. Balans is belangrik en daar is ’n rede waarom daar narratief in ’n storie moet wees.
Maak seker jou dialoog dra gewig
As ’n karakter dood op die vloer lê en die speurder sê vir die karakter wat daar naby staan en snik:
’n Vaal voorbeeld:
“Vertel my van jou beste vriend?” vra die speurder.
Oorweeg iets soos:
“Jou beste vriend was ’n aardsverneuker, nè?” Die speurder vee die sweet van sy voorkop af.
Bostaande karakteriseer. Dit sê iets oor die karakter en dadelik wonder die leser of die vermoorde se oneerlikheid dalk die rede is hoekom hy vermoor is.
Kry die speurder bloot warm, of hoekom sweet hy?
Dialoog en jou storie
Karakters se manier van praat, woordkeuse, aksente, en die manier waarop hulle met ander omgaan, vertel iets oor hul persoonlikheid. Dit help die skrywer om te wys eerder as om te vertel.
‘n Karakter met ‘n gesofistikeerde en formele manier van praat kan as intellektueel beskou word. Daardie tipe taalgebruik sal nie by ‘n tienerkarakter te vinde wees nie. ‘n Karakter met sleng en kort sinne sal meer ontspanne en informeel voorkom of jeugdig wees. Indien ‘n jong persoon baie gesofistikeerde woorde gebruik, kan dit dui op tuisonderrig of skoolgaan in ‘n ander taal as die huistaal. Engelssprekendes wat Afrikaans praat, gebruik byvoorbeeld soms sulke formele woorde, want dis wat hulle op skool geleer is. Hierdie verskille maak dialoog ‘n onmisbare hulpmiddel vir karakterbou.
In Donkerster op bladsy 124 sê Sam:
“Wat bedoel jy? As my kop nie werk nie, moet my kake werk. Buitendien, ek ís honger.”
Sam eet voortdurend, tipies tienerseun. Sy dialoog sluit dus aan by sy ander gewoontes.
“As if my glasses could get any thicker.”
Sam is eintlik Sesotho-sprekend en alhoewel hy in Afrikaans skoolgaan, meng hy sy taal redelik baie. Persone wat nog nie die boek gelees het nie, sal dalk ook wonder waarom Sam se brillense dik is. Ook noem Sam vir Carli en Hilda soms “girlfriend”. Dis iets wat eie is aan Sam.
Hilda, daarenteen, se ouers is Duits. Sy dra haar pa se ou Lederhosen, skeer nie haar beenhare nie en gebruik ‘n stokou leertas as skooltas. Ook gebruik Hilda af en toe Duitse frases. Kort, sodat dit nie steurend is nie, maar genoeg sodat die leser onthou dat sy nie van Afrikaanse herkoms is nie. Op bl. 126 sê Hilda:
“Fine. Danke schön, Sam.” Haar stem is hees. “Ek flippen haat dit om so te hoes.”
Benewens die Duitse agtergrond, is haar gehoes ook belangrik. Is dit ‘n chroniese hoes of sukkel sy bloot tans met bronchitis of allergieë?
Belangrik: vermy bywoorde in jou teks en in dialoogmerkers (dialogue tags) en beperk byvoeglike naamwoorde.
‘n Bywoord is die woord wat ‘n werkwoord beskryf. VERMY!
Voorbeeld: “Wat is jou naam?” vra Anton nuuskierig. Nuuskierig is ‘n bywoord.
Stephen King stel dit so goed. Hy meen “the road to hell is paved with adverbs.”
Beter: “Wat is jou naam?” Anton leun nader.
Wys eerder op ander maniere dat Anton nuuskierig is.
Dialoog en jou storie
Die funksie van dialoog in stories is veelsydig en van groot belang. Wanneer dit goed en reg aangewend word, verhoog dialoog die emosionele impak van ‘n storie en help dit om ‘n wêreld lewendig (en geloofwaardig) te maak. Onthou: die sleutel tot suksesvolle dialoog is om dit eg te laat klink.
Sien ook my vorige plasings oor dialoog en karakterisering.
Lekker skryf.


