Boeke vir tieners
DONKERSTER
Die twee belangrikste dinge in Carli Kirstein se lewe is wildbewaring en haar droom om ‘n veearts te word. Op skool is sy en haar vriende nie juis deel van die gewilde groep nie, en sy het ook nie veel geuk met die ouens in haar lewe nie. Eers is daar die krieketster wat haar net akademies wil gebruik, dan is daar die sjarmante buurseun, Stef, wie haar ouers nie goedkeur nie… en dan is daar Xander, die hardwerkende dromer en doring in haar vlees.
Al die drade van haar lewe word saamgevleg toe wildstropers die naburige rehablitasiesentrum vir leeus en ander katte begin teiken. Carli, haar vriende en haar jonger boetie span saam om die leeus te probeer beskerm – sonder hulle ouers se toestemming.
Skielik bring Carli se toewyding aan wildbewaring nie net haar eie lewe in gevaar nie, maar ook die van die mense vir wie sy omgee.
DONKERSTER beskikbaar vanaf 1 November 2024.
GIF
Joe Schutte en sy pelle, Nathe en Thabo, lewe vir rugby. Alles anders in Joe se lewe is so vars soos laas jaar se brood. Maar skielik verander iets in die rugbyspan. Hulle spanmaats is oornag groter, sterker, beter. Joe en Thabo verloor hulle plekke in die span terwyl Nathe onseker is oor sy plek. Die drie beraam ‘n plan, maar dis onwettig. Die risiko is groot. Asof die drek in sy lewe nie genoeg is nie, moet hy hom bekommer oor Sticks en Nina ook. Dan is daar Joanne. As sy en Joanne se sterre mekaar gevind het, waarom kan sy ma haar nie verdra nie?
Spel
Die sewentienjarige Lukas is een van ’n handjievol oorblywende mense ná die aarde deur kuborge, transterrane en robotte oorgeneem is. Hy en Dimpho boer op Lukas-hulle se plaas in die Bloemfontein-omgewing. Wanneer hongersnood die voortbestaan van die superwesens bedreig, stel die wrede heerser Dakian ’n bose plan in werking om Lukas te vang en toegang tot sy oorlewingstrategieë te verkry.
Spel verwerf goud: Sanlamprys vir Jeuglektuur, 2021 en verskyn op 20 November 2021.
Spel received the gold award in the Afrikaans category (Sanlam Award for Youth Literature).
Sindikaat
Paul se pa betaal Bossie om hom op te pas – en dit net omdat Paul vroeër die jaar op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was, ontvoer is deur ’n gewetenlose sindikaat. Die baasbrein het die Valke landuit ontglip en toe Paul daarna doodsdreigemente ontvang, het sy pa Bossie in diens geneem. Oor die hóé en die wáár praat niemand nie. En nou is Paul en sy vriende Adriaan en Karlien saam met Bossie, die eks-recce, “met vakansie” in Zambië en Zimbabwe. Paul het per ongeluk op smokkelgoed in sy vriend Chang se huis in Bloemfontein afgekom, en die Chinese mafia is op hulle spoor. Kan Bossie hulle beskerm? Is hulle regtig veiliger in die afgeleë uithoeke van ons buurlande, of is dit juis makliker om kriminele dade daar weg te steek?
Sindikaat verwerf silwer: Sanlamprys vir Jeuglektuur en verskyn op 31 Oktober 2019.
Sindikaat received the silver award (Sanlam Award for Youth Literature).
Sweepslag
Paul en Alicia was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd — Paul het ‘n moord aanskou en Alicia het vir die eerste keer in haar lewe skool ge-bunk omdat sy ontsteld was oor iets wat gebeur het. Die twee hoërskoolleerders van Bloemfontein word saam met ander jongmense gevange gehou in ‘n luukse huis vol gruwels. Uitkomkans is daar nie, maar dinge raak so erg dat hulle hul lewens gaan waag om weg te kom. ‘n Spanningsvolle verhaal met temas mensehandel, dwelmhandel en moord.