Ek lig die kastrol se deksel. ‘n Blok bevrore maalvleis lê in ‘n dam water. Hoe ruik rou maalvleis in kookwater? ‘n Klein bietjie beter as rou hoender in kookwater.
Moenie deur jou neus asem haal nie!
Dis kort voor Kersfees 2020. Almal is in elk geval bang om asem te haal, want ons lewe in die tyd van korona/Covid-19.
“Tannie, Ouma het vir middagete rashers en pasta gemaak. Die rashers breek ‘n mens se tande, want Ouma het eers daarvan onthou nadat dit ge-cremate was. En die pasta is opgekookte macaroni. Met niks bo-oor nie. Geen sous nie. Net so.” My susterskind rol haar oë en sug.
“Jy gaan nie vir Ouma verander nie,” troos ek. “Maak jý eerder die kos. Dis wat ek gedoen het.”
Te danke aan my ma is ek mal oor stories en boeke. Sy pes dit egter om kos te kook. Self is ek nie mal daaroor nie, maar ek het begin kosmaak toe ek agterkom ons kos proe eintlik glad nie soos ons vriende s’n nie.
My ma hou nie van vleis nie en eet hoegenaamd geen hoender of vis nie. Vir haar is ‘n hoender opgekook in soutwater heeltemal oukei, want sy het nog nooit daaraan geproe nie. Dank die hemele sy het intussen kerrie, speserye en kruie ontdek. As vleis egter in soutwater kan gaar word, is dit presies wat daarmee gebeur. Sy reken dat sy haar brein baie beter vir ander dinge kan gebruik as om voor die stoof te staan.
“ ‘Vreet of vrek,’ vertel jou kinders vir my.” My buurvrou giggel.
Ek lag. “Dis waar.”
Die seuns (destyds nog op laer- en kleuterskool) het oor die muur geklim om by die buurvrou te gaan kuier. Toe Jongste vir ons buurvrou sê hy wil nie tamatie op sy brood hê nie, het Oudste hom aan ‘vreet of vrek’ herinner.
“Die aartappels is dan nog kliphard.” Die blik staan swartgebrand op die halwe bakstene rondom die vuur. Hoe honger is ek regtig, het ek gewonder.
“Vreet of vrek.” My maat begin eet aan die aartappels wat ons twee oor die vuur gekook het.
Die oop stuk veld (‘n vae herinnering) was iewers in die middel van die dorp naby Musina se laerskoolgronde. Waarmee het ons geëet? Geen idee nie. Waarskynlik met ons hande. Ek dink ek was agt of nege en sy ‘n jaar of twee ouer.
As ek reg onthou was dit hoe ‘vreet of vrek’ ons huis betree het.
*
Let wel: ek het nie foto’s van my ma se kookkuns nie, daarom foto’s waar die seuns en hulle maats buite kos maak.
Should you wish to read this in English, please contact me via the contact page on the website.