Skryf asof niemand kyk nie
Daar is baie skryfadvies in omloop. “Wys, moenie vertel nie.” “Skryf wat jy ken.” “Maak jou skurk menslik.” Almal bevat ‘n kern van waarheid. Maar as ek moes kies watter raad die grootste verskil maak, sou ek sonder om te huiwer sê: skryf net (al is dit swak), en herskryf dan. Sorg dat jou tweede weergawe goed is. Wanneer jy die eerste weergawe aanpak, skryf asof niemand kyk nie.
Dit klink dalk te eenvoudig, maar dit is 100% waar. Jodi Picoult is bekend vir die gesegde: “You can always edit a bad page. You can’t edit a blank page.”
Skryf asof niemand kyk nie: Die probleem met die eerste sin
Byna elke persoon wat al probeer skryf het, ken die gevoel. Jy sit voor ‘n leë bladsy. Die wyser knip en wag dat jy begin tik en jou maag draai. As jy soos ek is, wonder jy wat anders daar te doene is — net om die marteling te vermy. Selfs die haatlike belasting klink dan na ‘n uitkoms. Op die ou einde is en bly al die maar net uitstel. Soos my pa altyd gesê het: “Van uitstel, kom afstel.”
Jy wil hê dat die eerste sin briljant moet wees, want dit sal mos die toon vir alles daarna stel. Jy skryf iets, vee dit uit, skryf iets anders, vee dit weer uit. Na ‘n uur het jy drie woorde, of niks nie behalwe ‘n kop wat twyfel.
Baie mense dink dat skryf en redigeer dieselfde taak is. Ongelukkig toe nie. Dit is twee heeltemal verskillende denkprosesse, en wanneer jy probeer om albei gelyktydig te doen, ondermyn hulle mekaar.
Die skepper in jou is speels en onverskrokke. Hy gooi idees op die bladsy sonder om te vra of hulle goed genoeg is. Die redigeerder in jou is krities en bang vir risiko. Hy vra voortdurend: “Is dit reg? Is dit goed? Wat sal mense dink?” En daar is heelwat mense wat baie graag kritiek lewer.
Beide die skepper en redigeerder is nodig, maar nie op dieselfde tyd nie. Laat jy die redigeerder toe om oor die skepper se skouer te loer, verstok die skepper en word heeltemal stil.
Skryf asof niemand kyk nie: Die eerste weergawe is nie die eindproduk nie
Die skrywer Anne Lamott noem dit aaklige eerste weergawes. Die punt is dat elke skrywer, ook dié wie se boeke jy bewonder, begin waarskynlik met gemors. Die gladde, vloeiende bladsy wat jy as leser geniet, is die produk van herskryf, en soms van tien of twintig rondtes daarvan. Onthou, geen mens kan ‘n leë bladsy redigeer nie.
Dit is bevrydend om dit te besef. As jou eerste weergawe nie uitmuntend hoef te wees nie, hoef jy nie bang te wees daarvoor nie. Jy kan dit toelaat om vol swakhede te wees: plat dialoog en ‘n verwarrende plot. Al wat die eerste weergawe moet doen, is om te bestaan. Jy kan nie ‘n leë bladsy verbeter nie. Daar is wel lig, want jy kan wel ‘n swak bladsy verbeter. So, plak jou boude op die stoel en skryf.
Skryf asof niemand kyk nie: Hoe dit in die praktyk lyk
Dit help om die skryfproses konkreet te maak. Hier is ‘n paar maniere om die beginsel toe te pas:
Stel ‘n tydsbeperking. Skryf twintig minute lank sonder om te stop. Moenie terugblaai nie, moenie spelfoute regmaak nie, moenie ophou om na ‘n beter woord te soek nie. Sit eenvoudig ‘n plekhouer soos [BETER WOORD] neer en gaan aan. Aanvanklik, toe ek Sweepslag begin skryf het, het ek voortdurend redigeer en toe besef ek kom nêrens nie. Iewers gedurende die proses het ek besluit om redigering te los tot aan die heel einde. Daarna het ek daarop gefokus om net eers die storie op papier te kry.
Skei die fases fisies. Sommige skrywers skryf met die hand en tik dan oor, en gebruik die tikproses as hul eerste redigeerrondte. Ander skryf soggens en redigeer eers die volgende dag. Die tydgaping help jou om met nuwe oë na jou eie werk te kyk. Vir my wou dit nie werk nie, want ek het soveel tyd aan redigering afgestaan dat ek glad nie by verder skryf uitgekom het nie.
Dan kan jy ook die roete volg wat ek geruime tyd reeds volg — skryf die hele storie klaar en redigeer dit dan. Ek het dit met Spel, Gif en Donkerster gedoen. Redigering, in teenstelling met wat ek lank gelede gedink het, behels nie bloot taalkundige redigering nie: gaan steek kers op by iemand wat weet. Ek het o.a. na Reedsy se webblad gekyk en wat hulle aanbeveel rakende redigering. Daar is ‘n horde inligting op die Internet.
Wag voor jy oordeel. Die gevoel dat jou werk pateties is, is dikwels net ‘n teken dat jy te vroeg begin redigeer het. Gee dit tyd. Wat jy in die middel van ‘n skryfsessie as vermorste moeite beskou, lyk dikwels heeltemal anders na ‘n goeie nag se slaap. Die heel beste is om ‘n manuskrip (sou dit vir jou moontlik wees) ‘n paar weke te los en dit dan te redigeer.
Herskryf met ‘n doel. Wanneer jy uiteindelik redigeer, moenie bloot op sinne fokus nie. Vra eers die groot vrae: Werk die struktuur? Is daar gate in die storie (plotgate)? Is die karakter se motivering geloofwaardig? Waar verloor die leser belangstelling? Pas eers daarna die fyner dinge soos woordkeuse en ritme aan. Wat betref spelling, die VIVA-toep is gratis aflaaibaar – ook op jou foon. Dit is dus nie nodig om na ‘n “ignoramus” te lyk nie.
Skryf asof niemand kyk nie: Waarom dit belangrik is
Daar is baie advies wat jou sal help om beter te skryf. Die intensie van hierdie plasing is om jou te help om te skryf. Die wêreld is vol mense met wonderlike idees wat nooit op papier beland nie, nie omdat hulle nie talent het nie, maar omdat hulle vir die perfekte inleidende sin wag. Een dag loop ek ‘n man raak wat vir my die “perfekte storie” het en ek “móét dit net skryf”. My antwoord aan hom was: “Dit is jóú storie, jý moet dit skryf.” Ten eerste het die idee my nie aangegryp nie, ten tweede het hy meer tyd as ek.
Daar is ook iets dieper hier. Wanneer jy jouself toelaat om swak te skryf, leer jy om te vertrou. Jy leer dat jou onderbewussyn dikwels goud lewer wanneer jy dit nie probeer beheer nie. Soms verras ‘n morsige eerste weergawe jou met ‘n beeld, ‘n gesegde of ‘n wending wat jy nooit bewustelik sou bedink het nie. Die perfeksionis wat elke sin poleer voor hy aangaan, loop daardie verrassings mis.
En dan is daar die herskryf, waar die werklike kuns gebeur. Dis hier waar jy ontdek wat jou storie eintlik wil sê, waar jy die oortollige wegsny, die kern versterk en die bladsy laat praat. Die herskryf is nie ‘n straf vir die eerste, minder goeie, weergawe nie; dit is die lekker deel, want dan kan jy sien wat jy reeds vermag het. Vir my is redigering die lekkerste deel van skryf. ‘n Mens se houding jeens die proses, maak ‘n groot verskil.
Skryf asof niemand kyk nie
As jy vandag net een ding uit hierdie blogplasing onthou, laat dit hierdie wees: gee jouself toestemming om bloot net te wees. Skryf die eerste bladsy. Selfs al dink jy dit is swak. Skryf die lomp dialoog, die oorlaaide beskrywing, die sin wat nie sin maak nie. Dan, wanneer die stof gaan lê het, lees jy dit weer, en begin redigeer.
Elke skrywer wat jy bewonder het presies dit gedoen. Die enigste verskil tussen hulle en die persoon wat nog nooit begin het nie, is dat hulle bereid was om te begin sonder om reg te wees. Maya Angelou is reg wanneer sy sê: “Easy reading is damn hard writing. But if it’s right, it’s easy. It’s the other way round, too.”
Dus: gaan skryf. Vandag nog. “Apply bum to chair” – dit is immers die ABC van skryf. Of in die woorde van die Amerikaanse joernalis en romanskrywer, Mary Heaton Vorse: “The art of writing is the art of applying the seat of the pants to the seat of the chair.” (1911)
Lekker skryf!