Skep spanning in verhale: Bloed aan die pen
Skep spanning in jou verhale. Spanning is nie iets wat net “gebeur” nie. Dit is die enjin wat brul onder die enjinkap van jou storie. Sonder konflik is jou verhaal ‘n pap wiel. Renate Dorrestein het dit raakgevat: “Botsende kragte is nou eenmaal die grondstof van fiksie.” As daar nie vuur is nie, is daar nie rook nie. Hou op om vir jou lesers te preek. Maak hulle deel van die sweet en die vrees.
Stroop jou sinne van bywoorde. In die woorde van Stephen King: “The road to hell is paved with adverbs.” Dit is moeilik om van alle bywoorde ontslae te raak, maar raak dan ten minste ontslae van almal wat nie 100% noodsaaklik is nie.
Daar is verskillende maniere waarop ‘n mens in die onderskeie genres spanning kan skep:
Skep spanning in verhale: 1. Wat jy nié sê nie: Die Ysberg-teorie
Ernest Hemingway het geweet hoe om die helfte van die storie onder die water te hou — nes ‘n ysberg. Spanning leef in die subteks.
- Stilte is subteks. Laat dit praat: Moenie sê Heidi is woedend nie. Wys hoe sy die kombuistoonbank vashou tot haar kneukels wit is. Laat die leë plek by die tafel soos ‘n afgrond voel.
- Aksie is koning: Vergeet van “sê sy.” (Dit is ook ‘n dialoogmerker en nie verkeerd nie, maar handelinge sê iets oor die karakter, hulle emosies of die ruimte. Laat jou storie die praatwerk doen.) Laat Heidi eerder haar oë op die skildery aan die muur vasgom terwyl sy praat. Sy vermy oogkontak. Hoekom? Dit is waar die spanning lê.
In Spel, noem ek heelwat later eers in die boek waarom die transterrane Vir Lukas wil hê. Aan die einde van Sindikaat eers vind die leser uit wat in die Ouma-besluitboks was waarin Paul sy hand gedruk het.
Skep spanning in verhale: 2. Ritme en Tempo
Jou toneel moet soos ‘n polsslag voel. Soms jag dit, soms vertraag dit net voor die skoot klap.
- Val met die deur in die huis: Moenie die hele inleiding dek nie. Niemand wil lees hoe Noag die bome geplant en laat groei en afgesaag en aangesleep het om die ark mee te bou nie. Ons stel nie belang in die tipe ‘spykers’ wat hy vir die taak prakseer het nie. Begin waar die aksie is (in media res). Dink James Bond.
- Sinne wat byt: Kort sinne skep paniek. Woede. Tempo. Langer sinne is vir weifeling. Gebruik hulle wanneer nodig, maar wanneer jy spanning wil skep, gebruik korter sinne.
- Vries die oomblik: Wanneer die klimaks kom, vertraag jy alles. Breek die oomblik op in mikro-fraksies. Ruan se asemhaling. Die aar wat oor sy voorkop bult. Of die metaalsmaak van bloed in sy mond.
Ek hou van boeke met ‘n sterk spanninglyn. Sindikaat veral, is ‘n boek waarin die spanning snaarstyf gespan is .
Skep spanning in verhale: 3. Interne oorlog
Spanning is dikwels die oorlog binne-in die karakter.
- Liggaamstaal: ‘n Styfgeklemde kakebeen, of iemand wat snuif, sê meer as ‘n duisend woorde oor hartseer. Klim in jou karakter se kop in. Laat die leser die storm daar binne voel.
- Skuld en geheime: J.M. Coetzee se karakters dra hul skuld soos ‘n swaar jas. Laat jou karakters lieg vir hulleself – dit is immers waar baie stories begin.
In Sindikaat loop Paul Rudman met ‘n groot geheim. Dit rem aan hom, dryf hom verder in die depressie in. Kyk na sy liggaamstaal wanneer hy besef dat hy die probleem met Johnny de Sousa sal moet uitsorteer. Hy stort letterlik ineen. Hoekom en hoe?
Joe Schutte loop in Gif met sy eie geheim. Carli Kirstein is ook in ‘n interne stryd geworstel in Donkerster. So ook Paul Rudman in Sindikaat en Sweepslag. Lukas Brand wil onder die radar bly in Spel, maar die transterrane ontvoer sy broer om hom uit te lok. Wat gaan hy maak?
Skep spanning in verhale: 4. Atmosfeer wat klou
Jou milieu moet die emosie van die karakter eggo. ‘n Verlate straat met ‘n klappende advertensiebord is nie slegs ‘n agtergrond nie; dit is die klank van eensaamheid. Gebruik simboliese voorwerpe – ‘n stukkende toksak kan ‘n hele geskiedenis van mislukking vertel.
Skep spanning in verhale: 5. Wys vs. vertel
“Show, don’t tell” is die goue reël, maar dit is nie in gietyster gegiet nie.
- Wys vir die hart: Maak die emosionele momente visueel.
- Vertel vir die pad: Gebruik vertelwerk om vinnig deur die vervelige dele te kom (“Die res van die dag was ‘n waas”).
In die woorde van Lee Child (skrywer van die Jack Reacher-reeks): “You should write the fast stuff slow and the slow stuff fast.” Hy beskryf hierdie metode asof ’n mens die skryfproses soos ’n rolprent hanteer, waar aksie met hoë belange in “stadige beweging” vertraag word en daar vinnig deur alledaagse tonele beweeg word.
Skep spanning in verhale
Hou die vraagteken groot. Maak die leser bang vir wat op die volgende bladsy wag. Wanneer ek die heel lekkerste lees, is wanneer ek besluit slegs nog een bladsy en dan word daardie bladsy ‘n hoofstuk of drie. ‘n Mens kan net nie die boek neersit nie.
Lekker skryf!