Suiker vir 'n bleeksiel
“Almal wat detensie het, beweeg julle voete. Ek wag!” Mevrou Meyer vee ‘n taai haarsliert uit haar gesig weg.
My skoolrok klou aan my rug vas. Die doodskis met my skoolboeke maak ‘n stofwolkie toe dit langs die lessenaar plof. Ek val op die stoel neer, ruk my skooltas oop en pluk ‘n boek uit.
Wiskunde.
Dis einste Wiskunde en mevrou Meyer se skuld dat ek detensie het.
Oukei, miskien gisteraand sê laat aand by die skou ook, maar die skou gebeur net een keer per jaar. Benewens die skou is daar in hierdie dorp bitter min om te doen.
Ek haat skool.
My waterbottel is leeg, kom ek agter toe ek dit skud. Geen onderwyser kla ooit as ons in die klaskamer water drink nie. In hierdie hitte moet ‘n mens doen wat jy kan om wakker te bly. Op mevrou Meyer se lessenaar staan ‘n groot glasbeker met yswater in. Druppels kondenseer aan die buitekant en loop af tot op die tafeldoek. Ek lek oor my lippe.
Dit help nie eens ek vra die ou heks of ek by die badkamer water kan gaan drink nie. Ek weet reeds wat die antwoord gaan wees.
As ek kop onderstebo met ‘n pen in die hand oor my Wiskundeboek sit, sal mevrou Meyer dalk nie agterkom as ek slaap nie. Ek onderdruk ‘n gaap en flap my boeksak weer oop.
My hand blaai deur die lyke — Lewenswetenskap, Afrikaans, Fisiese Wetenskap. Uiteindelik kry ek my pennesakkie. Iets ritsel toe ek dit uithaal.
My mond begin water toe ek die pakkie lekkergoedhartjies sien.
Vir die eerste keer in my lewe het ek ook iets gewen — en dit so ewe by die skou. Ek moes opkyk toe die vrou by die skyfskietstalletjie die pakkie lekkers ná my wenskoot aan my oorhandig. Die wolkwasser se magdom armbande het gerinkel toe sy my prys vir my aangee. “Neem kennis, Melinda.” Haar stem was rokerig diep. “Hierdie is spesiaal vir jóú.”
Toe sy omdraai, het die klokkies aan haar lang, pers romp geklingel.
Wie sou kon dink dat ek beter as die skool se supergewilde rugbyspeler sou skiet? Ben het my vasgedruk en my in die nek gesoen terwyl ek oor die vrou met die heuplengte, turkoois hare se woorde gewonder het.
Hoe het sy geweet wat my naam is?
Die gekrap van ‘n stoel oor die teëlvloer ruk my terug na die hede.
My vingers trek die pakkie saam met ‘n boek uit die tas uit. Animal Farm bedek die lekkers asook my selfoon net-net. Terwyl mevrou Meyer met een van die graad elfs baklei, vat ek ‘n hartjie vas. Dis ‘n pienke. My oë soek na die boodskap op die hartjie terwyl ek die soet ruik en voel begin kwyl.
UR hot.
Suiker vir 'n bleeksiel - vervolg
Dis nie nonsens daai nie, dink ek terwyl ek die sweet op my bolip afvee, rondloer en die lekker in my mond druk. Die soet van die lekker gaan lê op my tong.
Mevrou Meyer beduie met ‘n benerige vinger na ‘n graad tien se selfoon. Haar mond gaan oop en toe en haar bolla wip. Ek lek my lippe af. Pouse se grondboontjiebotterbroodjie is lankal geskiedenis.
In my haas om die volgende lekker in my mond te druk, vergeet ek amper om die boodskap op die hartjie te lees.
Text me.
Asof dit gedagtes kan lees, vibreer my selfoon wat onder Animal Farm en die pakkie lekkers in my skoot lê.
Die vibrasie is ‘n groot gejeuk in my siel. Wat as dit Ben is? Hy moes ook vanmiddag detensie sit, maar omdat hy vanmiddag ‘n wedstryd vir die eerste rugbyspan speel, het hy toestemming gekry om volgende week vir sy martelsessie aan te meld.
Ek kyk eers waar mevrou Meyer is en skuif Animal Farm só dat ek my foon se skerm kan sien.
🙏🙏 Lenny.
Toe ek opkyk, kyk ek in Leonard, wat in die bank langs myne sit, se bril vas.
Het dié IT geek 99% vir ‘n toets gekry in plaas van 100%? Daar is geen ander rede waarom hy detensie sou kry nie. Niks waaraan ek kan dink nie, in elk geval. Leonard is saam met my in graad tien, maar al is hy aangenaam, het hy nie veel vriende nie. Dalk is dit omdat hy die res van ons altyd na patete laat lyk.
My vingers vat ‘n hartjie vas en net voordat ek dit in sy hand onder die bank druk, onthou ek om na die boodskap op die lekker te kyk.
UR cute.
Regtig? Leonard is baie dinge, maar oulik is nie die regte woord nie. Dis te laat om ‘n ander een te kies, want sy hand wag reeds vir myne.
My volgende twee hartjies het baie vreemde boodskappe op.
New love.
New beginnings.
Hoe op aarde?
Toe my foon weer vibreer, haal ek vir Leonard twee hartjies uit sonder om die moeite te doen om na my foon te kyk.
Crazy 4 U en soulmate sien ek toe ek dit aangee. Oeps.
Leonard kyk af en glimlag. Hy druk een in sy mond en die ander een in sy penneblikkie.
Uit die hoek van my oog sien ek dat sy dik, bruin hare onlangs gesny is. Dit lyk anders, skree nie meer GEEK nie.
Suiker vir 'n bleeksiel - vervolg
Hy maak die boek op sy lessenaar toe en druk dit in sy tas. Sy armspiere bult toe hy die volgende een uithaal. Oefen Leonard skelm of is dit al die rekenaars wat hy ronddra wat sy spiere laat werk?
Toe hy regop kom, knipoog hy vir my. Ek sluk die laaste stuk van my lekker per ongeluk heel in en begin hoes. Leonard klap my met een hand op die rug.
“Melinda Jansen, stik jy of werk jy?” Mevrou Meyer se stem dawer deur die klaskamer.
“Ek werk, Juffrou,” kry ek na die hoesbui uit. My stem is hees. Ek vee die trane van my wange af.
Leonard het so wrintie ‘n nuwe bril op. Dit lyk supermodern. Dis nou, ás brille en pille jou ding is.
Hy hou sy waterbottel na my toe uit. Sonder om te dink, vat ek dit en neem ‘n sluk. Yskoud. Toe ek dit teruggee, vou sy hand om myne. Sy tande is egalig en wit toe hy glimlag. Wat het van die treinspore op sy tande geword? Ek trek my vingers stadig onder syne uit en probeer die rilling wat teen my ruggraat afhardloop, ignoreer.
Probeer hierdie hartjies ‘n boodskap aan my oordra, of is dit per toeval?
Dis net lekkergoed, maar die vrou by die skou se woorde bly my by. Al genade is om te kyk wat die boodskap op die volgende hartjie is. My vingers bewe terwyl ek in die pakkie voel. Wat as ek die verkeerde lekker uittrek? Wat as dit my net nog meer verwar?
Voordat ek die boodskap lees, sien ek hoe mevrou Meyer nog ‘n waaier by die muur inprop.
Ek hou asem op en draai die hartjie om sodat ek kan lees.
Destiny = IT.
Ek druk die lekker terug en trek nog een uit.
I ❤ IT.
Dit maak nie sin nie. Volgende een:
Crazy 4 IT.
My foon vibreer. Daar is twee boodskappe van Leonard af.
Chat na kls?
Lstr na ju ❤.
Pingback: Wanneer boei stories? Watter tipe stories boei? - Annerle Barnard